Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Natuurwetenskappe neem afskeid van eerste vroulike dekaan in 100-jarige bestaan
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 28/03/2024

Op 1 Februarie 2014 het Prof. Louise Warnich geskiedenis gemaak toe sy as die eerste vroulike dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by die Universiteit Stellenbosch aangestel is.

Vir die afgelope dekade het sy die fakulteit se personeel en studente deur stormagtige vaarwaters gelei, waaronder die COVID-pandemie, die Fees-must-fall studenteprotest, Dag Zero, beurtkrag en verreikende veranderinge in die Nasionale Navorsingstigting se befondsingsmodel.

As sy terugkyk op haar termyn wat op 31 Maart tot 'n einde kom, sê sy dat sy nooit vir die pos aansoek sou doen as kollegas in die Fakulteit Natuurwetenskappe haar nie genader het om vir die pos aansoek te doen nie. Op daardie tydstip was  sy visedekaan en waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe: “Ek het dit toe as 'n nuwe uitdaging beskou. Ek het besef dit bied nuwe geleenthede om op strategiese vlak 'n rol te speel in die ontwikkeling van personeel en studente in die Fakulteit Natuurwetenskappe."

Sy sê die fakulteit het toe reeds 'n uitstekende bydrae tot die universiteit se onderrig- en navorsingsuitsette gelewer: “Ek het egter besef ons is te aangewese op befondsing van die NNS en het daaroor gewaarsku. Tog, toe die befondsingsmodel verander, het dit ons selfs harder getref as wat verwag is, veral omdat dit saamgeval het met meer as een Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel (SARCHI) en Sentrums van Uitnemendheid wat tot 'n einde gekom het.

“Gelukkig het ons deur hierdie en ander uitdagings gekom vanweë die uitstekende samewerking van personeel en studente en hul “kan-doen"-houding," voeg sy by.

Haar raad aan toekomstige dekane?

Dit sou dieselfde raad wees as dié van haar mentor, wyle prof. Doug Rawlings, naamlik: “Stel net die regte mense aan, ondersteun hulle en laat hulle verder met rus – hulle sál floreer!"

Sy glo daar is baie meer geleenthede as uitdagings in die hoëronderwyssektor: “Daar is soveel wat gedoen kan word, veral in Suid-Afrika en op die Afrika-kontinent. Ons het unieke geleenthede en uitstekende mense. Maar ondervinding het my geleer dat min geleenthede eenvoudig in 'n mens se skoot val. Jy moet jou oë oophou, daardie geleentheid aangryp wanneer dit kom, en dan hard werk om dit suksesvol af te handel."

Deur die jare het sy hierdie benadering meer as een keer gevolg. In die kweek van 'n kultuur van innovasie en entrepreneurskap, byvoorbeeld, is die Fakulteit Natuurwetenskappe bo-aan die punteleer met die uitrol van nege afwentelmaatskappye sedert 2018 en ʼn lys van patente wat steeds langer word.

Met die besef van die toenemende belangrikheid van bioinformatika in moderne biologie, het sy die proses gelei om 'n Sentrum vir Bioinformatika en Berekeningsbiologie (CBCB) te vestig. Met die status van 'n akademiese departement strek die CBCB se werk tans suksesvol oor drie fakulteite.

Ten spyte van baie uitdagings, het die fakulteit 'n redelik konstante navorsingsuitset gehandhaaf en 'n rekordgetal van 68 PhD-studente in 2019 gelewer. In 2022 is die eerste gestruktureerde MSc in Masjienleer en Kunsmatige Intelligensie in die Afdeling Toegepaste Wiskunde ingestel. In die gees van deurlopende programvernuwing en om  die behoeftes van die arbeidsmark aan te spreek, is nuwe voorgraadse fokusareas in die velde van toegepaste medisinale chemie, biowiskunde en biomediese wiskundige wetenskappe ingestel, asook 'n BSc in Rekenaarwetenskap en die interdissiplinêre Baccalaureus in Datawetenskap-graad.

Prof. Warnich is ook trots op 'n aantal uitstekende aanstellings en 'n mate van vordering wat ten opsigte van diversiteit gemaak is. Die aantal vroulike akademici het toegeneem van 20% in 2015 tot 41% in 2023, wat die eerste Swart en Bruin vroulike professore insluit.

Ander hoogtepunte sluit in nouer samewerking met die Natuurwetenskappe Studentekomitee, die bevordering van wetenskapkommunikasie deur middel van inisiatiewe soos die Stellenbosch Wetenskapskafee, asook 'n eeufeesgaladinee in 2018 waartydens die koffietafelboek, ʼn Besonderse Denkwyse: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, 1918-2018,  bekendgestel is. Die boek bied ʼn treffende blik op ʼn eeu van natuurwetenskappe by die US.

In haar eerste aanbieding aan die Fakulteitsraadvergadering in 2013 het sy 'n foto van 'n sneeustorting gewys, 'n aanduiding van die potensiaal van  Massive Online Open Courses (MOOCs) om die hele wese van universiteite soos ons dit ken,  te ontwrig. “Tien jaar later weet ons dat alhoewel MOOCs 'n plek in hoër onderwys het, dit nie die hele stelse ontwrig het nie. Kunsmatige intelligensie lyk nou na 'n soortgelyke uitdaging, maar ek is positief oor die bydrae wat KI tot hoër onderwys kan lewer sonder om noodwendig alles te ontwrig. Net die tyd sal leer!"

Op die ou end verg dit “duidelike leierskap, 'n platform vir uitnemendheid en 'n innoverende benadering tot uitdagings en geleenthede as jy aan die stuur van hierdie fakulteit wil bly", sluit sy af.

Prof. Ingrid Rewitzky, Visedekaan: Onderrig en Leer, wat die afgelope tien jaar ten nouste saam met prof. Warnich gewerk het, sê haar deelnemende bestuurstyl het gehelp om menige onstuimige fases te hanteer: “Haar eerlikheid, regverdigheid, deernis, lojaliteit en passie vir haar werk was gedurende haar ampstermyn 'n sterkpunt en het vertroue by haar kollegas ingeboesem. Namens die Fakulteit Natuurwetenskappe wil ek ons dank uitspreek vir haar betekenisvolle bydrae om die groei en ontwikkeling van personeel en studente te lei, en dat sy die fakulteit na groter hoogtes gelei het ten spyte van uitdagings buite ons beheer."

Prof. Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, sê alhoewel sy eers sedert September 2022 saam met prof. Warnich werk, het hulle verskeie groot projekte en nasionale inisiatiewe saam aangepak. Dit sluit in die die vestiging van die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaarwetenskappe by die US, sowel as die totstandkoming van die Duitse Navorsingsleerstoelprogram in samewerking met die Afrika-instituut vir Wiskundige Wetenskappe  (danksy ondersteuning van die Alexander von Humboldt-stigting en die Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing).

“Die Fakulteit Natuurwetenskappe is inderdaad een van die mees aktiewe fakulteite in terme van innovasie en entrepreneurskap," voeg sy by.

Prof. Warnich sal nou terugkeer na haar akademiese tuiste in die Fakulteit AgriWetenskappe, waar sy spesiale projekte oor fakulteite heen sal aanpak, soos onder meer opleiding vir nuwe departementshoofde en hersiening van praktikums in die biologiese wetenskappe.

Laastens, maar nie die minste nie, hoop sy om 'n erfenis na te laat in die vorm van die Katalisfonds vir Natuurwetenskappe om nagraadse studente te ondersteun. Terwyl daar reeds R13 miljoen in die fonds is, sal die eerste beurse eers uitbetaal kan word wanneer die fonds R40 miljoen bereik – klik hier om tot daardie doelwit by te dra.

Hopelik sal hierdie hardwerkende dekaan nou minder tyd agter haar lessenaar bestee en meer tyd opsy kan sit vir stokperdjies soos lang staptogte in die natuur en reis.

Ons wens haar die allerbeste toe met haar nuwe inisiatiewe en die reis vorentoe.​