Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US se Fakulteit Natuurwetenskappe ken vier gesamentlike internasionale grade toe
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 26/03/2024

​Die Universiteit Sellenbosch se Fakulteit Natuurwetenskappe het vandeesweek vier gesamentlike PhD-grade saam met universiteite in die Verenigde Koninkryk, Duitsland, Frankryk en Italië toegeken in chemie, fisika, mikrobiologie, en dierkunde.

'n Gesamentlike graad beteken dat die studente navorsers van beide universiteite as medestudieleiers het en dat hulle tyd by beide universiteite spandeer het om aan hul navorsing te werk. Op grond van 'n ooreenkoms tussen die betrokke twee universiteite word die graad dan deur beide instellings toegeken

Altesame 37 PhD-, 75 MSc-, en nege BScHonours-grade is tydens die gradeplegtigheid in die Coetzenburgsentrum in Stellenbosch toegeken.

Dr Dina Miora het 'n PhD in fisika van die US en die Friedrich-Schiller Universiteit Jena, Duitsland ontvang; Dr Wessel Myburgh 'n PhD in mikrobiologie van die US en die Universiteit van Padova, Italië; Dr Gestél Kuyler 'n PhD in polimeerwetenskap en molekulêre farmakologie van die US en Coventry Universiteit in die Verenigde Koninkryk; en Dr Laurie Araspin 'n PhD in Plant- en Dierkunde van die US en die Muséum national d'Histoire naturelle (MNHN) in Frankryk.

Myburgh sê sy navorsing het geweldig baat gevind by die internasionale blootstelling: “Die kundigheid van die twee groepe het mekaar perfek aangevul. In my geval het Prof. Lorenzo Favaro se navorsingsgroep ondervinding in die omskakeling van afval na energie deur mikrobiese tegnologieë gebaseer op anaërobiese vertering. Hulle beskik ook oor 'n magdom kennis oor die vervaardiging van bioplastiek. Beide hierdie velde het ontbreek in ons groep. Ons, aan die ander kant het 'n baie sterk agtergrond in rekombinante gisuitdrukkingsisteme vir die produksie van swamhidrolase. Ek sou nie so baie vordering met my PhD kon maak indien dit slegs by één van die instellings gedoen is nie."

Kuyler sê haar ervaring was beide transformerend en uitdagend: “Om 'n gesamentlike PhD na te jaag met die doel om die dissiplines van Polimeerwetenskap en Molekulêre Farmakologie te oorbrug, was “'n  skrikwekkende taak, veral in die lig van my beperkte voorafkennis van laasgenoemde vakgebied. Ek is ontsettend dankbaar vir hierdie waardevolle geleentheid wat my in staat gestel het om my kennis uit te brei en in 'n veelsydige, multidissiplinêre wetenskaplike te ontwikkel."

Araspin se studieleier, Prof. John Measey, sê die gesamentlike graad het gespruit as 'n uitbreiding van 'n voortgesette samewerking tussen hom en Dr Anthony Harrell van MNHN in Frankryk: “Ons was geïnteresseerd om uit te vind of daar uiterste verskille voorkom tussen paddapopulasies wat inheems aan Suid-Afrika is en hier voorkom, en indringerpopulasies in Frankryk. Die grootste voordeel was verseker dat die student tyd in albei lande kon spandeer terwyl hy gewerk het aan 'n belangrike onderwerp vir beide lande." Measey is 'n senior navorser by die Sentrum vir Indringerbiologie aan die US".

Miora, wat ook 'n alumnus van die Universiteit van Antananarivo in Madagaskar is, sê die ondervinding in Duitsland het haar die geleentheid gebied om in 'n gevorderde en ten volle toegeruste laboratorium te werk: “Dit was redelik vinnig om enige werksverwante probleem op te los, gegewe die uitgebreide mense-  en materiaalhulpbronne wat byderhand was. By die US verskil elke studenteprojek redelik van mekaar, alhoewel ons almal in fotonika werk. Alhoewel dit langer neem om 'n probleem op te los omdat slegs my studieleier die probleem ten volle verstaan, leer dit ons ook waardevolle vaardighede wanneer ons die meeste probleme op ons eie moet oplos. Op die ou end het jy waardevolle beroepsvaardighede indien jy goed in spanverband kan werk, maar ook onafhanklik kan werk."

Ten spyte daarvan dat hulle by nuwe tale en kulture moes aanpas, asook die beduidende bykomende administratiewe las om die stelsels en vereistes van 'n ander universiteit te leer ken, stem die studente saam dat dit 'n lewensveranderende ondervinding van onskatbare waarde was.

Prof. Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die US, sê internasionale vennootskappe en gesamentlike grade is baie belangrik vir 'n navorsingsintensiewe fakulteit: “Dit versterk ons vermoë om belangrike kwessies aan te spreek deur kragte met internasionale kundiges saam te snoer. Dit bied ook aan die betrokke PhD-studente die geleentheid om reeds vroeg in hul loopbane deel te word van internasionale netwerke en toegang tot spesialiskennis en -fasiliteite te verkry."

Beide Kuyler en Myburgh se navorsing het ook gelei tot die registrasie van internasionale patente en die totstandkoming van afwentelmaatskappye naamlik Nanosene en Urobo Biotech. Miora is tans 'n nadoktorale genoot en beeldontleder by die Mediese Navorsingsraad se Laboratory of Molecular Biology (LMB) in Cambridge, Engeland.

Op die foto bo, van links na regs: dr Gestél Kuyler, dr Wessel Myburgh, en dr Dina Miora. Foto: Stefan Els