Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Twee eredoktorsgrade, talle kwalifikasies by Maart-gradeplegtighede toegeken
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 20/03/2024

Die Universiteit Stellenbosch (US) ken gedurende sy Maart-gradeweek – wat van Maandag tot Donderdag, 25–28 Maart 2024 plaasvind – 3 061 kwalifikasies by 11 seremonies toe. Die gradeplegtighede, wat 'n hoogtepunt op die Universiteit se akademiese kalender is, word by die Coetzenburg-sentrum op Stellenbosch gehou.

Die Maart-gradeplegtigheid sluit die Universiteit se reeks gradeplegtighede vir 2023 af, met kwalifikasies vir die 2023 akademiese jaar wat in Desember 2023 toegeken is, gevolg deur die gradeweek in Maart 2024.

Die 3 061 kwalifikasies wat in dié week toegeken word, tesame met die 5 809 wat in Desember 2023 toegeken is, bring die totale aantal kwalifikasies vir die 2023-siklus op 8 870 kwalifikasies te staan. Die totale aantal gegradueerdes het van 2022 tot 2023 met 2,4 % gestyg, met die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) wat sy grootste aantal voorgraadse kwalifikasies toegeken het. Dié fakulteit se kwalifikasies het met 10 % van 442 in 2022 tot 486 in 2023 toegeneem. Die Fakulteit Natuurwetenskappe het ook sy grootste aantal voorgraadse kwalifikasies aangeteken, met 'n toename van 15 % – dit het van 497 kwalifikasie in 2022 tot 571 in 2023 gestyg.

Vir hierdie gradeplegtigheidsreeks het die Fakulteit AgriWetenskappe, Ingenieurswese, Regsgeleerdheid en Natuurwetenskappe die grootste aantal nagraadse kwalifikasies nóg toegeken, terwyl die FGGW 'n rekordgetal van 58 doktorsgrade toegeken het.

Twee eredoktorsgrade word ook aan buitengewone ontvangers toegeken wat uitnemend in hulle onderskeie vakgebiede presteer het en 'n uitsonderlike bydrae tot die samelewing gelewer het.

Eredoktorsgrade

Die ontvangers van die eredoktorsgrade sluit in:

Prof Leonard Wantchekon

As professor in die politiek en internasionale sake aan die Princeton-Universiteit, het Leonard Wantchekon wesenlike bydraes tot die gebied van die politieke ekonomie, ontwikkelingsekonomie en ekonomiese geskiedenis gelewer. Sy navorsing fokus op Afrika, veral op demokratisering, kliëntelisme en herverdelingspolitiek, die 'hulpbronne-vloek' en die langtermyn- maatskaplike impak van geskiedkundige gebeure.

Sy innoverende werk sluit navorsing oor politieke instellings en bestuur in en het veldproewe met politici behels wat aan intydse verkiesings deelgeneem het om die uitwerking van beleid en veldtogboodskappe op kiesers se gedrag te ondersoek. Sommige van sy ander baanbrekerstudies het die langtermyn- ekonomiese gevolge van belangrike geskiedkundige gebeure, soos die Atlantiese slawehandel, op Afrika ondersoek.

Die graad Doktor in die Handel (DCom), honoris causa sal aan Wantchekon toegeken word. 

Prof James Robinson

Prof James Robinson is 'n denkleier oor ekonomiese ontwikkeling en politieke instellings. Hy het 'n sleutelrol in die vestiging en bevordering van die veld vakgebied van kwantitatiewe ekonomiese geskiedenis in Suid-Afrika gespeel en word erken vir sy toewyding om in die Globale Suide te werk en aktief met opkomende vakkundiges in Latyns-Amerika en Afrika suid van die Sahara saam te werk.

Robinson se verbintenis met die Universiteit Stellenbosch (US) duur al etlike jare. Hy het die Universiteit ondersteun terwyl dit voorberei het om die heel eerste Wêreldekonomiese Geskiedeniskongres in Afrika in 2012 aan te bied. Samesprekings ná hierdie gebeurtenis het tot die stigting van die Laboratory for the Economics of Africa's Past (LEAP) gelei om Afrika-stemme in op die vakgebiede van Ekonomiese Geskiedenis en Ekonomiese Ontwikkeling te verhef.

Robinson sal die graad, Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, ontvang.​

*Klik hier om meer oor die ontvangers van die eredoktorsgrade te wete te kom.

Akademiese tuiste

Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het die graduandi en almal wat hulle langs die pad ondersteun het, geloof.

Volgens De Villiers sal 'n kwalifikasie van die US deure vir gegradueerdes oopmaak. "Ons het 'n goeie plaaslike reputasie, asook in die res van die wêreld, wat aangehelp word deur die feit dat ons gegradueerdes 'n groot invloed het waar hulle ook al gaan," het hy gesê.

“Ek weet die lesse wat julle hier geleer het, sal julle handig te pas kom, en ek hoop julle sal aanhou om die US se waardes – billikheid, deernis, verantwoordbaarheid, respek en uitnemendheid – uit te leef."

Hy het ook die graduerende klas aangemoedig om deur middel van die Universiteit se wêreldwye alumni-netwerk deel van hulle alma mater se toekoms te wees.

“Besoek http://www.matiesconnect.com/, waar jy bande met jou Universiteitsvriende kan behou, na werkaanbiedinge kan kyk en mentors en netwerkgeleenthede kan vind – alles op een plek. Die US sal altyd jou akademiese tuiste wees, en deelname aan alumni-aktiwiteite sal jou professionele ontwikkeling op die pad vorentoe verbeter."

  • Die plegtighede kan op regstreekse stroomuitsending gevolg word by www.sun.ac.za/streaming.
  • Klik hier vir verdere inligting oor die Maart-gradeplegtighede.​