Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
“Wheels of Opportunity” – Stellenbosse chemie-dosent trap 600 km fiets vir studente
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 14/03/2024

Dr. Marietjie Lutz, 'n eerstejaar-chemiedosent aan die Universiteit Stellenbosch, pak 'n ambisieuse projek aan om geld in te samel vir voorgraadse BSc-studente wat finansiële uitdagings in die gesig staar. Sy gaan gedurende die Paasnaweek die pad tussen George en Stellenbosch per fiets aandurf en ongeveer 600 km oor slegs ses dae aflê.

Lutz sê die inspirasie om hierdie projek aan te pak het gekom nadat sy in 2022 maniere probeer vind het om 'n skrander eerstejaar BSc-student in haar klas te help – die student was op die randjie van haweloosheid en honger. Ten spyte van geweldige finansiële stres het hierdie vasberade student akademies uitgeblink en was 'n toonbeeld van veerkragtigheid en deursettingsvermoë".

Lutz het toe besef sy kan haar passie vir fietsry inspan – sy hét immmers, onder andere, die Cape Epic in 2016 en 2017 voltooi – om studente te bemagtig wat toegewyd is aan hul studies, maar nie die finansiële hulpbronne het om die reis te voltooi nie.

Met die ondersteuning van haar man en vier kinders, sal sy (hoofsaaklik op grondpaaie)  vanaf George ry, deur Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Swellendam, en Greyton tot op Stellenbosch. Hierdie unieke fondsinsamelingspoging sal oor die Paasnaweek, van 29 Maart tot 3 April plaasvind.

Sy nooi diegene wat haar visie deel om geleenthede vir belowende studente te bied, om asseblief by te dra tot hierdie verdienstelike saak.

Om die "Wheels of Opportunity"-inisiatief te ondersteun, kan belangstellendes bydra deur die GivenGain platform​ (klik op hierdie skakel om 'n bydrae te maak). Elke bydrae, hoe klein ook al, sal 'n betekenisvolle impak maak op die lewens van studente wat streef na uitnemendheid, kom wat wil. Indien jy saam wil trap of die saak op enige anderder wyse wil ondersteun, kan jy haar direk kontak by mlutz@sun.ac.za.

  Saam kan ons 'n verskil maak.

​Naam van die projek: "Wheels of Opportunity: Cycling for Student Support" (klik hier om 'n bydrae te maak)

Datum: 29 Maart tot 3 April 2024

Roete: George na Stellenbosch (via Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Swellendam, en Greyton)

Afstand: Ongeveer 600 km oor 6 dae

Op die foto bo: Dr Marietjie Lutz voor haar eerstejaarsklas in die Algemene Chemie-gebou. Foto: Stefan Els