Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Merkwaardige NOS-student ingesluit in Dowe IKR Krieket Wêreldbekerspan
Outeur: E Els
Gepubliseer: 06/03/2024

Tjaart van der Walt is gebore met totale doofheid in altwee ore. Hy het ook ernstige tonnelvisie wat sy sig baie verswak en 'n derde kondisie wat baie slegte balans veroorsaak. Hy kan nie 'n bestuurslisensie bekom nie en sukkel om te lees as gevolg van sy tonnelvisie. Hy is ook totaal afhanklik van sy gehoorapparate. Om onafhanklik met hierdie uitdagings saam te leef is klaar 'n prestasie. Maar Van der Walt het groter drome gehad. Hy het nie toegelaat dat sy uitdagings in sy pad staan nie en na baie jare se droom en harde werk, het hy sy graad voltooi, is hy besig met sy Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) en is hy ingesluit in die 2023 Dowe IKR Krieket Wêreldbekerspan. Sy lewe is 'n voorbeeld van iemand wat ondanks talle uitdagings met vasberadenheid volhard.

Van der Walt is aan krieket bekendgestel toe hy in die pre-primêr was en het glad nie geweet hoe krieket werk nie. Hy was lief daarvoor om balle te gooi en vang en toe die onderwyser 'n bal boul, het hy gehardloop om dit te gaan vang. Die kolwer het hom toe met die kolf raakgeslaan. Dit was sy eerste ontmoeting met krieket, maar in plaas daarvan dat dit hom afgeskrik het, het sy liefde vir die sport sedertdien net gegroei. Hy wou van jongs af vir die Proteas speel en het nie van krieket vir dowes geweet nie. Soos wat hy ouer geword het, het hy besef dat dit vir hom onmoontlik is om vir die Proteas te speel aangesien hy nie eers op skool in die A-span gespeel het nie. Hy het van krieket vir dowes uitgevind toe hy op Stellenbosch begin studeer het en dadelik opgewonde geraak. “Ek het die dowe SA span gesien en gedink dat my droom lewendig is." Na vyf jaar van oefen en harde werk is hy na die oefenspan genooi in 2022. Hy het egter nog nie die toerspan gehaal nie, maar was al 'n stap nader daaraan. Uiteindelik is Van der Walt in 2023 gekies vir die toerspan van die Dowe IKR Krieket Wêreldbekerspan as openingsbouler. “Na so baie jare se probeer en droom, is hierdie gevoel iets wat ek nie sal vergeet nie." Hy speel van 2 – 14 Maart 2024​ in die Dowe IKR Krieket Wêreldbeker wat in Dubai plaasvind.

Hy het sy BComm Bestuursrekeningkunde graad in 2023 voltooi en is tans besig met sy NOS. “Die opsie om NOS te doen was gedurende my BComm studies reeds in die agtergrond. Ek het 'n groot liefde vir kinders en sport." In 2023 het hy die voorreg gehad om 'n netbouler vir die Vroue T20 Wêreldbeker te wees en dis daar waar hy besef het dat sy droom is om deel te wees van 'n hoë prestasie omgewing as 'n sportbestuurder. “My vraag was hoe om die graad waarmee ek besig was, te gebruik om daardie posisie te kry. Die antwoord was skolesport. Ek moet in die skoolomgewing wees en deel wees van die sportstruktuur om ervaring op te doen om eendag daardie doelwit om 'n sportbestuurder te wees, te bereik. Om 'n NOS te doen was die logiese keuse."

'n NOS maak beroepsmoontlikhede oop en is een van Fakulteit Opvoedkunde se gewildste nagraadse programme. Studente volg hierdie program nadat hulle 'n toepaslike Baccalaureusgraad soos BA, BSc, BComm of 'n gepaste Honneursgraad voltooi het.

Van der Walt se droom is om Suid-Afrika op die krieketveld te verteenwoordig so lank as moontlik. Hy wil ook betrokke raak in sportbestuur by groot sportspanne. Sy korttermyn doelwit is om rekeningkunde te onderrig en 'n sportafrigter te wees in skole.

“Een ding is seker en dit is dat my passie by sport lê en dat ek 'n loopbaan in daardie rigting wil volg." Hy het nie spesifieke sporthelde nie, maar Dale Steyn (krieket) en Rafael Nadal (tennis) se veggees inspireer hom. In elke uitdaging hou hy aan sy lewensleuse vas dat alles sal uitwerk.