Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Benutting van wilde spesies tot voordeel van mense moet volhoubaar, veilig en wettig wees
Outeur: Francis Vorhies and Wiseman Ndlovu
Gepubliseer: 04/03/2024

Wêreldnatuurlewedag word jaarliks op 3 Maart gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf drr Francis Vorhies en Wiseman Ndlovu van die Afrika-instituut vir Natuurlewe-ekonomie dat hoewel wilde spesies tot voordeel van mense benut kan word, ons nie altyd weet hoe om dit op ʼn volhoubare, veilige en wettige manier te doen nie.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Francis Vorhies en Wiseman Ndlovu*

Wêreldnatuurlewedag, wat jaarliks op 3 Maart gedenk word, is ʼn geleentheid vir ons om die wye verskeidenheid wilde diere en plante te vier en om hulle bydrae tot ons lewe te erken. Ondanks wye steun vir die bewaring van natuurlewe, is daar minder entoesiasme vir die toepassing daarvan en ʼn algemene gebrek aan begrip vir die rol daarvan in die ondersteuning van die menslike lewe. Hierdie dilemma ontvou teen die agtergrond van ʼn wêreldwye poging om die volhoubare, veilige en wettige gebruik van natuurlewe te waarborg – ʼn doelwit met baie potensiaal, maar wat belemmer word deur die gebrek aan doeltreffende meganismes om aspirasies in tasbare uitkomste te omskep.

Die mandaat vir die benutting van natuurlewe word al dekades lank in internasionale beleide en strategieë verwoord, en mees onlangs in die Kunming-Montreal Global Biodiversity Framework (GBF). Die GBF is in Desember 2022 deur meer as 180 deelnemers aan die Convention on Biological Diversity van stapel gestuur en het ʼn wêreld ten doel waarin “ons in harmonie met die natuur leef". Sommige sien dit as om sy-aan-sy met die natuur te leef, soos geografies uitgedruk deur stelsels van beskermde gebiede wat daarin geslaag het om natuurlewe teen mense te beskerm. Ander sien dit as die integrasie van die natuur in die manier waarop ons leef en hoe ons leef, sowel as die ondersteuning van lewe (insluitend menslike lewe) in komplekse ekosisteme.  

Die GBF probeer hierdie twee sienings belyn deur ʼn beroep vir meer bewaringsgebiede te doen – hetsy deur stelsels van beskermde gebiede of ander gebiedsgebaseerde bewaringsmaatreëls – waar enige benutting van natuurlewe die bewaringsdoelwitte van hierdie gebiede moet ondersteun. Verder versoek die GBF uitdruklik dat wilde spesies benut moet word om mense te bevoordeel. Dit word uiteengesit in die GBF-teikens 5 en 9, wat ʼn beroep op regerings doen om te verseker dat die oes en gebruik van en handel in wilde spesies volhoubaar, veilig en wettig is en voordele vir mense bied.

Daar is ʼn hele paar aanlyn databasisse (byvoorbeeld die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur se Rooilys, Species+, die CITES-handelsdatabasis en die Species Use Database) wat interessante en nuttige inligting oor die status van wilde spesies verskaf, maar nie insig bied in hoe om volhoubare, veilige en wettige benutting tot voordeel van die mens te bewerkstellig nie. Nietemin dui die databasisse wel die bewaringstatus van baie spesies aan, asook die redes waarom hulle geoes, gebruik en verhandel mag word.

Dit is nie verbasend dat dit die volgende vrae ontlok nie: Watter stelsels is nodig om te verseker dat die oes en benutting van en handel in wilde spesies volhoubaar, veilig, wettig en voordelig is? Hoe kan verbruikers, beleggers, reguleerders en burgers van hierdie uitkomste verseker wees?

ʼn Goed gevestigde stelsel van handelspermitte kragtens die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies en Flora (CITES) bied ʼn mate van gerusstelling rakende diere en plante wat as bedreig deur internasionale handel beskou word. Die CITES-stelsel van handelspermitte vir gelyste spesies is gegrond op assesserings dat handel daarin nie die voortbestaan van die spesie sal benadeel nie en dat die wilde produk wettiglik verkry is.

CITES pak dus die volhoubaarheid en wettigheid van die benutting van wilde spesies vanuit ʼn handelsperspektief aan, maar slegs vir spesies wat as bedreig gelys is. Ofskoon gesprekvoering voortduur oor of en hoe CITES ook ʼn rol in die veiligheid van en voordele vir mense kan speel, is hierdie kwessies nog nie direk in die permitstelsel opgeneem nie.

Die CITES-stelsel is ook slegs vir bedreigde spesies en bied nie sekerheid oor handel in spesies wat nie deur CITES gelys is nie. Voorts plaas CITES selfs vir gelyste spesies ʼn geldelike las op regerings om bestuurs- en wetenskaplike owerhede te vestig om assesserings te onderneem, permitte uit te reik en die impak van handel te monitor. Die koste van hierdie stelsel, wat nie deur CITES gefinansier word nie, is veral vir ontwikkelende lande ʼn uitdaging.

Maar internasionale ooreenkomste soos CITES is nie die norm vir die meeste sektore van die ekonomie nie. Produksie en handel wat maatskaplik en omgewingsverantwoordelik is, word eerder deur vrywillige standaarde en sertifiseringskemas verseker. Ons weet byvoorbeeld van produkte wat as organies of as billike handelsprodukte (“fair trade") gesertifiseer is. Daar is in werklikheid honderde sulke volhoubaarheidstandaarde, waarvan baie op die ITC Standards Map te vinde is, maar baie min van hulle roer die oes en gebruik van en handel in wilde spesies aan.

Vrywillige standaarde en sertifiseringskemas vir wilde spesies kan ook help met die assessering vir CITES-handelspermitte. Hierdie geleentheid is onlangs ondersoek tydens ʼn internasionale werksessie oor die ontwikkeling van riglyne vir CITES-bevindings wat daarop dui dat internasionale handel nie nadelig vir ʼn spesie is nie. Een van die werkgroepe het die gebruik van die FairWild Standard vir die oes van wilde plante bespreek, asook die behoefte aan ʼn soortgelyke standaard vir die oes van wilde diere.

Die FairWild Standard gaan oor die volhoubaarheid en wettigheid van en voordele vir mense uit die oes van wilde plante. Kortom, “fair" behels die sosiale voordele en “wild" die omgewingsvoordele. “Standard" gaan oor besigheidsverantwoordbaarheid en -verantwoordelikheid wat wetlike en veiligheidsvereistes betref. Die FairWild Standard ondersteun dus die GBF-teikens vir die oes van alle wilde plante, asook die handel in wilde plante op die CITES-lys.

Soos wat by die CITES-werksessie van 4-8 Desember 2023 bespreek is, kan robuuste vrywillige standaarde soos FairWild regerings in veral ontwikkelende lande help om die vereiste assesserings vir die uitreik van handelspermitte te onderneem. Hulle verseker ook mense in die waardekettings van wildprodukte – van diegene wat oes tot produsente, handelaars, verbruikers, reguleerders en beleggers – dat die benutting van wilde spesies mense ondersteun om in harmonie met die natuur te leef, wat konflik tussen die natuurlewe en die mens verminder. FairWild het byvoorbeeld nie net ten doel om wilde spesies te beskerm nie, maar ook die habitatte en landskappe van waar hulle kom.

Laastens sal ʼn belangrike volgende stap wees om die Internet van Dinge en digitale innovasies en tegnologieë te gebruik om volhoubaar geoesde en wettige wilde produkte nader aan mense te bring, wat naspeurbaarheid verseker en geleenthede vir die onwettige benutting van produkte beperk. Die tema van vanjaar se Wêreldnatuurlewedag is dus gepas: “Connecting People and Planet: Exploring Digital Innovation in Wildlife Conserving". Hierdie tegnologieë kan inligting verskaf oor die oorsprong van spesies, die sertifiseringstatus en die redes vir handel. Die Species+-databasis het byvoorbeeld reeds ʼn foontoepassing.

Voorts is die Afrika-instituut vir Natuurlewe-ekonomie (AWEI) aan die Universiteit Stellenbosch betrokke by die ondersteuning van die ontwikkeling van ʼn handelstoepassing vir wildsvleis om boere, abattoirs, groothandelaars en verspreiders met mekaar te verbind. Dit bied ʼn platform vir die bemarking van wettige en volhoubaar geoesde wildsprodukte en potensiële direkte verkope aan mense wat dit die nodigste het. Daar is reeds ʼn soortgelyke toepassing om wilde vis te verhandel. Sulke digitale innovasies wat deur internasionale teikens en vrywillige standaarde gerugsteun word, sal baie help om te verseker dat die gebruik van wilde spesies bewaring meebring en voordele vir mense inhou.

*Dr Francis Vorhies is die Direkteur van AWEI en dr Wiseman Ndlovu is AWEI se post-doktorale en programbestuurder.