Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur gaan ’n groot impak by US hê
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 28/02/2024

Gedurende ʼn tyd van ongekende wêreldwye klimaatsverandering en verstedeliking op die vasteland van Afrika, beoog die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid groter betrokkenheid by navorsing en studies oor stedelike reg en volhoubaarheidsbestuur.

Danksy die nuutgestigte leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur beoog die US om konstruktief by te dra tot die wetlike aandrywers van volhoubaarheidsbestuur in stede en dorpe en die verskillende stelsels wat lewe in stede ondersteun.

Die leerstoel is in 2023 gevestig en het vandeesmaand sy eerste kohort nagraadse en postdoktorale navorsers verwelkom. Hierdie navorsers het gesamentlik ten doel om die regsverhoudinge, spanning en geleenthede te verken wat weens ons groeiende formele en informele stedelike landskappe ontstaan, verduidelik prof Anél du Plessis, die eerste bekleër van die leerstoel in Stedelike Reg en Volhoubaarheidsbestuur aan die US.

“Toenemende dienslewering- en openbare gesondheidsuitdagings, groeiende omgewingsdruk op stedelike infrastruktuur en mense se bestaan, asook menslike en ekostelsel-kwesbaarhede wat deur stedelike armoede, ʼn onbetroubare ekonomie, akute behuisingstekorte en klimaatsverandering vererger word, is dringende kwessies wat ons almal se lewe raak," sê Du Plessis.

“Dit is ʼn opwindende tyd om navorsing op hierdie gebied te doen. Die hibriede juridiese vakgebied van 'stedelike reg' het onlangs ontstaan en al hoe meer howe wêreldwyd word gekonfronteer met klimaatlitigasie, die nasleep van natuurrampe en menseregteskendings wat verband hou met die stand van lewe, onvoldoende mobiliteit en die deel van hulpbronne in digbewoonde stedelike omgewings."

Namate plaaslike regerings hulle al hoe meer na tegnologie, inligtings- en kommunikasietegnologie en verskillende vorms van e-bestuur en -oorsig wend, duik regsvrae rondom veiligheid, sekuriteit en privaatheid ook op. Suid-Afrika se energie-, afval- en waterkrisisse, tesame met sy ekonomiese afhanklikheid van steenkool, is ewe relevant vir stedelike wetgewing en volhoubaarheid in die land, benadruk Du Plessis.

“In Suid-Afrika skakel ons baie vinnig na alternatiewe energiebronne oor en dit is wonderlik, maar dit kan ook baie verdelend wees. Baie mense kan nie bekostig om hulleself van die kragnetwerk los te maak nie," sê sy. “Daar is wêreldwyd baie klem op klimaatsgeregtigheid, wat alles oor regverdigheid gaan, maar in Suid-Afrika is strukturele armoede die grootste uitdaging. Voordat ons nie strukturele armoede te bowe gekom het nie, kan ons nie begin praat oor klimaatsveerkragtigheid en aanpassingsvermoë nie."

Tendense in stedelike reg

“Ons dink dikwels dit is die taak van die nasionale regering om betrokke te raak by aspekte soos watergehalte, gelykheid, biodiversiteitsbestuur en -beskerming en volhoubare ontwikkeling. In werklikheid het ons munisipaliteite ʼn groot geleentheid om ʼn impak op die omgewing te hê en die welstand en lewensomstandighede van mense in stedelike gebiede te verbeter.

“In baie Suid-Afrikaanse dorpe en stede word voortdurend teen munisipaliteite oor diensleweringskwessies gelitigeer, of doen owerhede regstappe teen nie-betalende burgers.

“Ons is goed vertroud met diensleweringsbetogings. Ons het ook ʼn toename in burgerlike ongehoorsaamheid gesien, waar mense weier om te betaal wanneer voldoende dienste nie gelewer word nie. Mense vra hoekom hulle vir water moet betaal wanneer dit nie gereeld verskaf word nie of wanneer toegang tot elektrisiteit nie konsekwent is nie. Daar is baie regskwessies ter sprake wanneer owerhede nie hulle grondwetlike plig nakom om ʼn omgewing te verskaf wat nie nadelig vir burgers se gesondheid en welstand is nie. Die staat moet hierdie reg respekteer, beskerm, bevorder en vervul, en dit sluit die plig in om die omgewing te beskerm en te bewaar.

“Nog ʼn wetlike dimensie wat ter sprake kom, is wanneer gemeenskapsorganisasies sekere aspekte van dienslewering oorneem, byvoorbeeld die regmaak van slaggate. Die vraag ontstaan dan wat as iets verkeerd loop? Wie is dan aanspreeklik? Daar is baie werk vir praktisyns op hierdie regsgebied," benadruk Du Plessis.

Op internasionale vlak word die relevansie van die vakgebied van stedelike reg deur Doelwit 11 van die Verenigde Nasies se Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling (DVO's) beklemtoon. Hierdie doelwit het ten doel het dat stede wêreldwyd teen 2030 volhoubaar, veilig, inklusief en veerkragtig moet wees.

Daar was ʼn interessante verskuiwing in die internasionale reg van ʼn fokus op state as groot rolspelers na stede as outonome reguleerders van die belange en regte van hulle inwoners, merk Du Plessis op. “Hierdie neiging gaan selfs belangriker word in die lig van al die konflik en twis wat ons tans in die wêreld het, insluitend konflik in dele van Afrika."

Du Plessis is al die afgelope 21 jaar as dosent in en navorser oor internasionale, Afrika-streeks- en huishoudelike omgewings- en plaaslike regeringsreg betrokke. Sy is ʼn bekwame navorser en studieleier en talle doktorale en meestersgraadstudente het die afgelope dekade hulle studies onder haar leiding voltooi. Voordat sy by die US aangesluit het, was Du Plessis die bekleër van die NNS-SARChi-leerstoel in Stede, Regte en Omgewingsvolhoubaarheid by die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom.

Groot planne vir 2024

Die leerstoel het ʼn opwindende agenda vir 2024, sê Du Plessis. Dit het op 26 Januarie begin toe die leerstoel saam met UN-Habitat ʼn “Urban Law Day" op Stellenbosch aangebied het. Die program het op stedelike regslitigasie en die rol van die howe om die wetlike grense vir stadsvlakoorgang en -volhoubaarheid te verskuif, gefokus.

Dié dag is deur die Konrad-Adenauer Foundation Regional Programme Energy Security and Climate Change in Sub-Saharan Africa gefinansier. Die geleentheid is goed bygewoon met stedelike regsgeleerdes van Suid-Afrika, Brasilië, Colombië, Kenia, Malawi, die VSA, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Frankryk wat teenwoordig was. Die leerstoel het ook onlangs die heel eerste LLM-module in stedelike reg ontwikkel, wat in 2025 deur die US se Fakulteit Regsgeleerdheid aangebied sal word.

ʼn Nasionale nagraadse kollokwium vir nagraadse studente word vir later vanjaar beplan, terwyl die leerstoel  ʼn hoëvlak- openbare lesing sal aanbied en op 16 Mei lewer Du Plessis haar intreerede.

FOTO: Prof Anél​ du Plessis en die eerste kohort nagraadse en postdoktorale navorsers.

(Foto deur Stefan Els)