Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Digitale innovasie in gesondheidsorg onder soeklig by eerste konferensie aangebied deur US
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 27/02/2024

Die insameling van data, etiek en die gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in gesondheidsorg is van die belangrike onderwerpe wat vooraanstaande internasionale kundiges by die eerste Digital Health Africa (DHA 2024)-konferensie aangeraak het. Die konferensie is onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) se Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI) gehou.

Die konferensie, is gesamentlik deur die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Afdeling Kliniese Farmakologie in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe in samewerking met die Fundisa African Academy of Medicines Development en Pharmacometrics Africa oor twee dae aangebied. Van die voorste internasionale kundiges het aan besprekings, werksessies en gevallestudies oor transformasie en innovasie in die gesondheidsorgbedryf deelgeneem.

Deelnemende akademici van ons Universiteit het prof Tulio de Oliviera, Direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) en professor by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke ingesluit, asook prof Francesco Petruccione, wat verbonde is aan die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Rekenaardenkewetenskappe, dr Tanya de Villiers-Botha, 'n senior dosent in die Departement Filosofie en hoof van die Eenheid vir die Etiek van Tegnologie in die Sentrum vir Toegepaste Etiek, en dr Sunday Oladejo van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, en dr Rohan Benecke, postdoktorale navorser, as lede van die reëlingskomitee.

Kanshu and Tulio.jpeg









Prof Tulio de Oliviera, Direkteur van die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) en professor by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke praat met prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke. 

“Die gesondheidsorglandskap ontwikkel vinnig namate digitale tegnologie soos KI meer geïntegreerd raak in die verskaffing van toeganklike en doeltreffende behandeling. Die US is trots daarop om hierdie konferensie saam met ons vennote by Fundisa en Pharmacometrics Africa te kon aanbied. Die konferensie het wêreldleiers op hierdie gebied byeengebring om die deel van kennis en samewerking ten opsigte van verwante onderwerpe met wêreldwye betekenis te bevorder," sê prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur van die US se Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke.

Volgens Rajaratnam was die BMRI, wat verlede jaar geopen is, 'n gepaste plek vir hierdie belangrike konferensie. Die moderne toekomsgerigte navorsingsfasiliteit huisves vooraanstaande navorsers en studente wat siektes soos tuberkulose, kardio-metaboliese siektes, MIV, diabetes en neurologiese afwykings, wat almal 'n beduidende invloed op Afrika het, ondersoek.

“Na aanleiding van ons suksesvolle aanbieding van die Wêreldkonferensie oor Farmakometrie in 2022, het ons DHA 2024 as 'n samekoms gebruik om voort te gaan om die vakgebied van kwantitatiewe kliniese farmakologie in Afrika te versterk," sê Colin Pillai, HUB van Pharmacometrics Africa NPC. "Hierdie geleenthede beklemtoon farmakometrie as 'n belangrike element in die ontwikkeling van nuwe medisyne.

Bernd Rosenkranz, president van die Fundisa African Academy of Medicine Development, voeg by: "Hierdie konferensie was belyn met ons doelwit om kapasiteitsontwikkeling in medisyne-ontwikkeling en -regulering te verskaf en om netwerkgeleenthede vir jong wetenskaplikes te skep."

Vir meer inligting oor die program, klik hier.