Die Stad Kaapstad het onlangs 'n 5-ster- en 3-ster-gradering aan die Universiteit Stellenbosch se Tygerberg- en Bellville-kampusse toegeken vir doeltreffende waterbestuur om nakoming van die instellings se waterlisensievoorwaardes te verseker. Die implementering van waterstrategieë by die Tygerberg-kampus het gelei tot 'n vermindering van 40 persent in drinkbare waterverbruik. Die Bellville-kampus het water van die aangrensende diep meer gebruik om water aan die ontsoutingsaanleg te voorsien, wat gelei het tot 'n aansienlike vermindering van drinkbare water met minimale toevoer vanaf die Stad Kaapstad.
Hierdie wateroplossings het voortgespruit uit werk wat meer as 'n dekade gelede by die US se Fasiliteitsbestuur-afdeling gedoen is toe 'n kruisfunksie span die Groen Besigheidsplan ontwikkel het, wat spesifieke teikens vir verskeie omgewingsvolhoubaarheidselemente uiteengesit het. Dit het sedertdien ontwikkel tot die instelling se 2022-omgewingsvolhoubaarheidsplan.
"Ons Omgewingsvolhoubaarheidsplan skryf voor dat ons die impak op die aarde se eindige hulpbronne — energie en water, moet verminder. Een van hierdie strategieë is die wateroptimaliseringstrategie," het US Fasiliteitsbestuur se Direkteur van Eiendomsdienste, Nadeem Gafieldien, gesê.
"Terwyl hierdie strategieë in 2018 geïmplementeer is, het die Wes-Kaap die ergste droogtes ervaar. Met Dag Zero op hande, het ons daarin geslaag om vinning ons wateroptimaliseringstrategie op te volg. Ons het hierdie krisis in 'n geleentheid omskep deur hierdie strategieë te implementeer, wat veranderings in ons stelsels vereis het om dit meer bestand teen toekomstige omgewingskrisisse te maak."
Gafieldien het gesê hulle het verskeie waterprojekte en -inisiatiewe ontwikkel en op al die US se kampusse geïmplementeer, insluitend die Tygerberg- en Bellville-kampusse. Dit het die opgradering van grootmaat-infrastruktuur, boorgate by Tygerberg, 'n nuwe diepmeerstelsel by die Bellville-kampus, die verandering van stortkoppe, krane en toiletbakke van twaalf tot ses liter, en die implementering van gryswaterstelsels ingesluit.
Gafieldien het gesê al hierdie inisiatiewe het hulle in staat gestel om drinkbare waterverbruik te verminder, met die bykomende voordeel om die munisipale rekening te verminder, terwyl veerkragtigheid in die instelling se waterstelsels gebou word deur hierdie beperkte hulpbron te optimaliseer en te diversifiseer."
"Terwyl dit sekere voordele verteenwoordig het, het dit ook met spesifieke wetgewing en regulatoriese vereistes gekom. Hierdie wetgewing vereis gereelde toetsing, bestuur, verslagdoening en oudits oor die watergehalte soos in die waterlisensies bepaal," het Gafieldien gesê.
Die US se omgewingsvolhoubaarheidsbestuurder, John de Wet, het bevestig dat die Tygerberg-kampus se waterverbruik maandeliks 11 638 kl is, wat gelykstaande is aan ses Olimpiese swembaddens.
'n Geskatte 9 514 kl, of die ekwivalent van vyf swembaddens, word deur die munisipaliteit verskaf, en 2 124 kl, of een swembad, kom van die Tygerberg-kampus af vir boorgate wat in 2016 geboor is. Hierdie inisiatief het gelei tot 'n vermindering van 20 persent in drinkbare water wat voorsien word deur die Stad Kaapstad en het ons meer veerkragtig gemaak.
De Wet het gesê Bellville-kampus het 'n 50 meter-diep steengroef; alle reën en stormwater word in hierdie meer opgevang. "Die US het in 2018 die diepwatermeerprojekte by die Bellville-kampus geïmplementeer. Die US is toegelaat om water uit die 52 meter diep meer te pomp. Ons het hierdie 12 grade water gebruik om water aan drie areas op die kampus te voorsien. Eerstens, in die HVAC-aanleg, tweedens, in die filtrasie-aanleg en derdens, om die landskap te besproei;
Rou water uit die meer word gefiltreer in die filtrasieaanleg (omgekeerde osmose), wat aan alle kampusgeboue voorsien."
John het bevestig dat hierdie stelsel na raming 2 051 kl per maand produseer, gelykstaande aan een Olimpiese swembad drinkwater. Volgens hom behoort dié kampus teoreties nie drinkbare water van die munisipaliteit te gebruik nie. Dit is egter onmoontlik weens die impak van beurtkrag, aangesien dit na die munisipale watertoevoer terugkeer.
Gafieldien het gesê deur sy omgewingsvolhoubaarheidsplan in 2022 aan te neem, is die US nou op 'n nuwe volhoubare trajek vir koolstofneutraliteit teen 2030 en netto nul teen 2050.
Groenbou-toekenning
Verder het die Groengeboueraad van Suid-Afrika (GBCSA) ons Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI)-gebou met 'n 4-ster-gradering as 'n nuutgeboude groen gebou gesertifiseer. Die BMRI was die US se eerste gebou wat hierdie sertifisering van die GBCSA ontvang het.
Die GBCSA-graderingstelsel sluit in energiedoeltreffendheid, water- en afvalbestuur, die gebruik van groen materiale en konstruksiemetodes, binnenshuise luggehalte, vervoer, grondgebruik, emissies, innovasie en produktiwiteit.
"Geboue verbruik 75 persent van die nutsdienste en is die grootste bydraer tot die instellings se emissies en koolstofvoetspoor. Daarom fokus ons daarop om te verbeter hoe ons die prestasie van ons uitgebreide portefeulje van +450 geboue meet en daaroor verslag doen. Ons verseker ook ons geboue is baie groener en verminder die impak op die omgewing en ons planeet," het Gafieldien gesê.