Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwelingstudente maak reuse verskil met sosiale impak-projekte
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 14/02/2024

Sowat 50 000 blinkoog, lewenslustige studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het op die oggend van 8 Februarie gehelp om ʼn verskil te maak toe hulle aan die Nuweling- Sosiale Impakoggend deelgeneem het.

Dit is ʼn inisiatief van die US se Afdeling Sosiale Impak en bied elke jaar aan studente die geleentheid om betrokke te raak by aktiwiteite wat aktiewe burgerskap aanmoedig deur projekte met ander organisasies en vennote binne die Stellenbosch-gemeenskap, asook op die Tygerberg- mediese kampus en omliggende gebiede.

Die Gemeenskapsoggend is ʼn integrale komponent van die US se amptelike verwelkomingsprogram vir nuwelinge, verduidelik Michelle Pietersen, Senior Programbestuurder: Sosiale Impak en koördineerder van die geleentheid. “Daar was hierdie week so ʼn wye verskeidenheid van waardige inisiatiewe en prettige aktiwiteite, wat gewissel het van ʼn kulturele toer deur Pniël en ʼn oriënteringstoer in Kayamandi en Amazink tot die maak van groentetuine in gemeenskappe en selfverdedigingsklasse vir vroue. Verskeie van die studentegroepe het besluit om op kinders te fokus, soos om die kinders van die Jesse Keet-crèche na die Jan Marais-park te neem vir ʼn pretdag en twee koshuise (Simonsberg en Sonop) wat ʼn sportdag by die Laerskool AF Louw gereël het. Dit is ʼn wonderlike geleentheid vir studente om die Stellenbosch-gemeenskap te leer ken en vir plaaslike inwoners om ʼn band met die Universiteit te bou. Die opgewondenheid van die skoolkinders wanneer hulle by die studente betrokke raak, is so inspirerend. Hulle hoop en energie inspireer ons ook," het Pietersen bygevoeg.

Een van die grootste inisiatiewe was ʼn samewerkingspoging tussen Amaties Hub en die Rise Against Hunger-organisasie om 55 000 kospakkies te verpak. Energieke musiek het meer as 450 vrywilligers aangemoedig om te kyk watter groep die meeste pakkies kon pak, vertel Lize Venter, Direkteur: Gemeenskapsdiens en Uitreik van die Golden Keys-kampusvereniging. “Dit was ʼn wonderlike oggend en almal het opgedaag, reg om te help op watter manier hulle ook al kon. Ons hoop dit maak ʼn groot verskil in die Stellenbosch-gemeenskap," het Venter gesê.

Die Sosiale Impak-gemeenskapsoggend sluit ook aan by die Universiteit se visie om onder meer kennis in diens van die samelewing te bevorder, die Universiteit se missie om plaaslike gemeenskappe te verryk en sy strategiese tema om doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke in die omliggende gemeenskappe van die US te bou.

Liam Harrison van die Simonsberg-huiskomitee het gesê die doelwit van die besoek aan die Laerskool AF Louw was om deur middel van sport en ander prettige aktiwiteite brûe met die kinders te bou. “Ons wou ook vir die kinders wys hulle het ʼn ouer 'broer' en “suster" wat hulle kan ondersteun. Ons plan vir die res van die jaar is om betrokke te raak by ʼn rugby- en netbal-afrigtingsprogram by die skool. Vandag het net ten doel gehad om die grondslag te lê vir die bou van ʼn sterk verhouding en om vriende te maak," het Harrison gesê.

Die grootste sukses van die Gemeenskapsoggend was om entoesiasme vir tuinmaak te skep, het Connor Louw van die Pieke- private studenteorganisasie verduidelik. “Ons het vandag besluit om groente te plant in ʼn tuin wat deur studente vir studente bestuur word. Ons wou bewustheid oor voedselsekerheid skep en mense wys dat jy selfs in ʼn stedelike omgewing steeds maklike toegang tot voedsel kan hê. Daar was ook ʼn bietjie van ʼn lewensles in vandag se aktiwiteite – om jou hande vuil te maak kan voordele inhou, veral as dit ʼn werklike verskil in mense se lewe maak," het Louw bygevoeg.

Tygerbergkampus

Nuwelinge aan die Tygerbergkampus het ook vrywilligersgeleenthede aangegryp en gewys hulle is gretig om 'n positiewe verskil te help maak. Deur uiteenlopende projekte het hulle aansienlike bygedraes gemaak. By Huis Francie Van Zijl het studente komberse gemaak wat verkoop word vir die Spensprojek wat kampuswye voedings-inisiatiewe ondersteun. Die Tygerberg Studentesentrum-sportsaal het 'n Step Class aangebied ten bate van 'n sanitêre-ware inisiatief. Die U-Turn-bus se liefdadigheidswinkel het boekies verkoop om skuiling vir hawelose individue te bied. By Hippokrates het nuwelinge toebroodjies voorberei vir skenking aan die MES-skuiling, met die doel om voedsame maaltye te verskaf.

Meerhof se nuwelinge is by Laerskool Kraaifontein betrek waar hulle boekmerke met inspirerende boodskappies gemaak het en skryfbehoeftes vir die kleintjies verpak het. Elke aktiwiteit het nie net nuwelinge bemagtig om betekenisvol by te dra nie, maar het ook 'n gevoel van gebondenheid en kameraadskap binne die kampusgemeenskap bevorder.

FOTO's: Stefan Els