Indien jou beeld of afbeelding (fisiese beeld, stem, handtekening, gelykenis, ensovoorts) sonder jou toestemming vir kommersiële doeleindes gebruik is, veral in die afwesigheid van 'n kontrak, sal dit moeilik wees om jou saak in die hof te bewys aangesien die Suid-Afrikaanse reg nie die bestaan van 'n eiesoortige beeldreg erken nie.
Só sê dr Layckan van Gensen, 'n regskenner van Kaapstad wat onlangs haar doktorsgraad in Handelsreg aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf het.
Van Gensen, 'n konsultant vir Sefume Prokureurs en 'n junior dosent in die Departement Handelsreg aan die US, het alle gebiede van die Suid-Afrikaanse reg (gemenereg op onregmatige dade, intellektuele eiendomsreg, grondwetlike eiendomsreg, ongeregverdigde verryking en die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting – POPI-wet) ondersoek wat potensiële beskerming teen die wederegtelike gebruik van mense se beelde bied. Sy het bevind dat dit alles versuim om aan eisers 'n regsmiddel te bied wanneer hulle met 'n beeldregteskending te doen kry. Redes wissel van regsonsekerheid tot wette wat nie deur die howe getoets of geïnterpreteer word ten opsigte van die wederegtelike gebruik van beelde nie.
“Weens regsonsekerheid word baie sake oor beeldregteskending tussen partye buite die hof geskik. Gevolglik kry ons howe nie die geleentheid om die nodige gemenereg te ontwikkel om hierdie tipe oortredings aan te spreek nie."
Gegewe die tekortkominge op hierdie gebiede van ons reg, stel Van Gensen konsepwetgewing voor wat Suid-Afrikaners kan beskerm wat finansiële verliese kan ly weens die ongemagtigde gebruik van hulle beeld of afbeelding.
Sy sê die voorgestelde konsepwetsontwerp definieer “beeld", “beeldregte" en “digitale replikas" (rekenaargegenereerde of elektroniese reproduksies) duidelik en dui aan watter aspekte van 'n beeld beskerm sal word.
“Dit sit ook uiteen wat presies 'n skending van beeldregte sal wees deur drie vorms van oortredings te identifiseer: die gebruik van iemand se beeld sonder hulle toestemming; die gebruik van iemand se beeld wat die reputasie van die persoon skade kan berokken en/of die werklike en/of potensiële kommersiële waarde van die persoon se beeldregte negatief kan beïnvloed; en die produksie, verspreiding en/of publikasie van 'n digitale replika van 'n persoon se beeld wat nie-konsensuele pornografie uitmaak.
“Die gebruik van 'n persoon se beeld in “deepfakes" (kulfoto's en -video's) sal ook verbied word, selfs al word dit nie primêr vir kommersiële doeleindes gebruik nie. Die voorgestelde wetsontwerp maak voorsiening vir sekere vrystellings en verweer en bepaal uitdruklik dat beeldregte oordraagbaar is. Dit beteken dat die gebruik van iemand se beeld oorgedra kan word by wyse van 'n kontraktuele ooreenkoms of lisensie wat die spesifieke gebruik van die beeld vir kommersiële doeleindes en die spesifieke tydperk van sodanige gebruik bepaal.
“Die voorgestelde wetsontwerp dwing ook 'n vorm van streng aanspreeklikheid af wat beteken dat nie bedoeling óf nalatigheid aan die kant van die verweerder nodig is om met 'n eis te slaag nie. Dit sit die regsmiddels uiteen wat beskikbaar mag wees vir 'n eiser wie se beeld sonder hulle toestemming vir kommersiële doeleindes gebruik is," voeg Van Gensen by.
Ter beklemtoning van die belangrikheid van die voorgestelde konsepwetgewing, sê sy: “'n Individu se beeld het beduidende kommersiële waarde, en aangesien aspekte daarvan vir endossemente, bemarking en advertering van handelsmerke, produkte en dienste gebruik kan word, moet die wet 'n eiser bystaan met 'n regsmiddel wanneer so 'n beeld misbruik is.
“Met die ontploffing van digitale media en advertensies kan die ongemagtigde gebruik van 'n individu se beeld vir onder meer valse endossemente en “deepfakes" nou die lewensbestaan van beïnvloeders, inhoudskeppers en bekendes wat hulleself as handelsmerke op sosiale media vestig, direk beïnvloed."
Volgens Van Gensen sal die voorgestelde konsepwetsontwerp regsekerheid skep ten opsigte van die regulering van beeldregteskendings.
Sy sê beeldregte moet as 'n eiendomsreg eerder as 'n persoonlike reg beskou word. Dit sal help om 'n individu se ekonomiese belang en menswaardigheid te beskerm.
“Beeldregte beskerm nie net 'n individu teen ongemagtigde gebruik nie, maar verleen ook aan die houer van so 'n reg die outonomie om soos hulle verkies, beheer oor hulle eie beeld uit te oefen deur voordeel te trek uit gemagtigde gebruik.
“Beeldregwetgewing sal kontraktuele beskerming aanvul deur aan die betrokke party gronde vir regsvordering te bied wanneer hulle beeld deur derde partye misbruik word waar geen kontraktuele ooreenkoms bestaan nie."
Sy sê Suid-Afrikaanse wetgewers kan gebruik maak van wetgewing in die Verenigde State van Amerika waar dit erken word dat 'n individu se beeld kommersiële waarde het en dit waardig is om teen ongemagtigde gebruik te beskerm.