Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eskom se jongste maatskappy roep prof Mark Swilling vir diens op
Outeur: Centre for Sustainability Transitions/Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange
Gepubliseer: 07/02/2024

​Prof Mark Swilling, mededirekteur van die Sentrum vir Volhoubaarheidsoorgange (SVO) aan die Universiteit Stellenbosch dra die nasionale energiestrategie op die hart. Swilling is pas as ʼn nie-uitvoerende direkteur in die raad van Eskom se Nasionale Transmissiemaatskappy van Suid-Afrika (NTMSA) aangestel.

Volgens hom is sy eerste taak om die transmissieontwikkelingsplan wat deur Eskom uiteengesit is, in werking te stel. Sy aanstelling spreek van die moeite wat die SVO met navorsing oor die energieoorgang gedoen het.

“Dit is ʼn logiese uitkoms van die enorme hoeveelheid werk wat die SVO oor die afgelope paar jaar aan energieoorgang gedoen het, met inbegrip van ʼn baie invloedryke verslag oor oorgangsfinansiering," sê Swilling.

Swilling voer in die openbaar aan dat die transmissienetwerk die belangrikste komponent in die oplos van Suid-Afrika se energiekrisis is.

“Dit was tot onlangs toe nog nie deel van die energie-aksieplan om ʼn einde aan beurtkrag te maak nie. Nou is ek in die raad van ʼn nuwe maatskappy wat iets daaraan moet doen," voeg Swilling by.

Eskom was nog altyd ʼn geïntegreerde nutsmaatskappy, wat elektrisiteit regoor Suid-Afrika opwek, oorbring en verspei. Sedert die bekendstelling van die Eskom-padkaart (ʼn verslag deur die Departement van Openbare Ondernemings, wat deur die kabinet goedgekeur is) in 2019, is voorsiening egter gemaak om Eskom tot drie aparte filiale te 'ontbondel'. Die NTMSA sal uiteindelik vir transmissie verantwoordelik wees en sal die koper en verkoper van elektrisiteit wees, ongeag wie dit produseer.

Swilling se uitgebreide ondervinding en navorsing maak van hom die aangewese kenner van die energiesektor en netwerkuitbreiding, onder die talle ander elemente van verandering aanbring, en hy gesels oor die algemeen oor maniere om beurtkrag in Suid-Afrika te beëindig.

“Die vinnigste manier om beurtkrag te beëindig, is om seker te maak dat 5 GW hernubare energie per jaar opgebou en aan die netwerk gekoppel word. Die totale aantal projekte wat tans beoog word, is hieraan gelyk. Die transmissienetwerk word egter begrens as gevolg van baie jare se verwaarlosing en onderbelegging. Hoe gouer die NTMSA dus die netwerk kan uitbrei, hoe gouer kan meer hernubares aan die nasionale transmissienetwerk gekoppel word, wat die beëindiging van beurtkrag sal bespoedig," sê Swilling.

Benewens Swilling is nog 11 raadslede aangestel, wat vir die bepaling van die oorhoofse beleidsrigting, die strategiese bestuursraamwerk en die voorligting van die uitvoerende span met die uitvoer van hulle mandaat verantwoordelik sal wees.

“Die aanstelling van die NTMSA-raad vorm een van die belangrikste pilare van Eskom se wetlike verdeling tot drie entiteite, naamlik Opwekking, Distribusie en Transmissie. Dit is die sleutelaspek van Eskom se omkeerplan, soos voorsien in die Departement van Openbare Ondernemings se 'Padkaart vir Eskom in ʼn hervormde elektrisiteitsvoorsieningsbedryf'," sê ʼn woordvoerder van Eskom.

Buiten vir die navorsing oor en die werk wat hy aan energieoorgang gedoen het, skryf Swilling sy aanstelling in die NTMSA-raad toe aan die baie jare wat hy as die voorsitter van die raad van die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (OBSA) gedien het.

Swilling voeg by: “Ek sou nie die aanstelling in die NTMSA-raad ontvang het as ek nie nege jaar in die raad van die OBSA gedien het nie. Die OBSA het in Eskom en in die hernubaresprogram belê en het die verkrygingsprogram vir onafhanklike produsente van hernubare krag opgestel. My tyd in die raad van die OBSA was dus noodsaaklike voorbereiding vir hierdie nuwe rol." 


​​​