Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
NITheCS/CHPC somerskool in kodering verryk kritiese vaardighede
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 26/01/2024

Een van die grootste somerskole in kodering en die fundamentele beginsels van teoretiese en berekeningswetenskappe vind vir die volgende twee weke by 30 akademiese instellings in Suid-Afrika en Kenia en betrek meer as 850 nagraadse studente en navorsers vanuit die natuur- en sosiale wetenskappe.

Sedert 2019 word die jaarlikse Somerskool in Kodering gesamentlik deur die Nasionale Instituut vir Teoretiese en Berekeningswetenskappe (NITheCS) en die Centre for High Performance Computing​ (CHPC) aangebied.

Dr Werner Janse van Rensburg, Navorsingsbestuurder by CHPC, sê die somerskool bied 'n unieke geleentheid vir navorsers om te leer hoe om te kodeer en hoe om 'n nasionale bate soos die Centre for High Performance Computing te gebruik.

“Enige instansie of navorser wat vandag kompeterende navorsing wil doen, moet van berekeningstegnologie gebruik maak – van die natuurwetenskappe tot die geesteswetenskappe."

Nog 'n unieke aspek van die somerskool is dat deelnemers in persoon kan bywoon by die instelling naaste aan hulle. Die opleiding word egter lewendig vanaf die Universiteit Stellenbosch en die Universiteit van Kaapstad gestroom. By elk van die deelnemende instellings sal daar een of meer spesialiste en tutors beskikbaar wees om studente by te staan.

Mnr. Binjamin Barsch, Hoof Sagteware-ingenieur by die CHPC en hoof koördineerder van die somerskool, sê dié inisiatief is 'n voorbeeld van hoe die toekoms van opleiding by Suid-Afrikaanse universiteite op verskeie maniere aangepas kan word: “Ons bevraagteken ook die algemene aanname dat net Engels die taal van onderrig kan wees wanneer dit kom by die aanleer van tegniese vaardighede. Die inhoud vir die eerste week se opleiding is byvoorbeeld beskikbaar in isiXhosa, isiZulu én Sepedi. Sodoende skep ons 'n baie meer inklusiewe en impakvolle omgewing in die hoër onderwysektor."

Prof. Mattia Vaccari, eNavorsingsdirekteur by UK, sê die hibriede formaat van die somerskool is 'n voorbeeld van hoe gemengde leer toegang tot opleiding in kritiese vaardighede wyer beskikbaar kan maak: “Terwyl studente tydens hul studies en via aanlynkursusse aan kodering blootgestel word, bied hierdie inisiatiewe deurslaggewende geleenthede om hul vaardighede te verbeter en 'n netwerk van mentors in die navorsingsomgewing te vestig."

“Ons samelewing, die ekonomie en navorsingsomgewing is toenemend data-gesentreer. Dit is toenemend belangrik vir die vestiging van 'n kennis-gebaseerde ekonomie in Suid-Afrika om die vaardighede te ontwikkel om sin te maak van die data."

Gedurende die eerste week sal deelnemers aan die fundamentele beginsels van Python en datawetenskap blootgestel word, wat hulle daartoe instaat sal stel om verskeie datastelle te analiseer en te manipuleer, insluitend 'n inleiding tot Linux en Bash.

Prof. Francesco Pettrucione, interim Direkteur van NITheCS, verduidelik dat die tweede week van die somerskool studente bekendstel aan sagteware-oplossings wat hulle in hul navorsing mag nodig kry, met voorbeelde uit verskeie velde soos masjienleer, bioinformatika, die simulasie van chemise stelsels en die toepassing van Monte Carlo metodes.

Prof. Sibusiso Moyo, Adjunk-Visekansellier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, sê dit is verblydend om te sien hoe hoër onderwys instansies, die relevante navorsingsrade en fasiliteite bymekaarkom om die vaardighede van Suid-Afrikaanse studente en navorsers in die teoretiese en berekeningswetenskappe te bevorder.

Media navrae

Prof. Francesco Petruccione

Interim Direkteur: NITheCS

E-pos: pettrucione@sun.ac.za

Selfoon: +27 72 664 3476

 

Dr. Werner Janse van Rensburg

Navorsingsbestuurder: CHPC

E-pos: WJvRensburg@csir.co.za

Selfoon: +27 83 381 5907