Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
In Memoriam: Dr Cyrill Walters
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 11/01/2024

Met die tragiese heengaan van dr Cyrill Walters, 'n senior lektor aan die Stellenbosch Bestuurskool en Navorsingsgenoot in Hoër Onderwys, het die Universiteit Stellenbosch (US)-gemeenskap vandeesweek die verlies van 'n uitsonderlike akademikus en navorser betreur. 

Namens die US se rektoraat het prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, gesê Walters sal baie gemis word. “Sy was 'n deurslaggewende rolspeler in die Universiteit se strewe om praktyke van leer en onderrig, navorsing en innovasie te ontwikkel wat 'n transformerende impak op die samelewing in plaaslike en globale kontekste het. Ons sal voortbou op haar voorbeeld en nalatenskap. Ons harte en gebede gaan uit na haar geliefdes." 

Prof Jonathan Jansen, Uitgelese Professor in Opvoedkunde aan die US, het Walters beskryf as 'n uitsonderlike postdoktorale vakkundige en navorsingsgenoot wat toonaangewende navorsing oor gender, hoër onderwys en pandemie-effekte gelewer het. 

"Haar geesdrif en besorgdheid oor vroue se vooruitgang in hoër onderwys deur intydse navorsing en publikasies het verseker dat sy 'n spreker by verskeie universiteitsforums regoor die land geword het – 'n rol wat sy gekoester het en waarvoor sy wyd gerespekteer is," het Jansen opgemerk. “Sy het blitsig al die dissiplines van gevorderde navorsing in hoër onderwys bemeester en kwaliteit boeke en artikels gepubliseer by top uitgewers regoor die wêreld in 'n relatief kort tydperk nadat sy haar PhD behaal het. Dit is selde dat 'n akademikus van haar vermoë en potensiaal so vinnig op 'n relatief jong ouderdom prominensie in internasionale hoër onderwys verwerf. Haar heengaan is 'n reuse-verlies vir US én die akademie," het Jansen gesê. 

Walters sal met deernis onthou word as 'n merkwaardige vrou wat die grense van professionele sukses oorskry het, het dr Armand Bam, hoof van sosiale impak by die Stellenbosch Bestuurskool, gesê. “Bowenal sal Cyrill onthou word vir haar menslikheid, lojaliteit en integriteit. Cyrill was 'n baken van inspirasie binne ons gemeenskap en het 'n onuitwisbare indruk op beide haar studente en kollegas gelaat. Haar uitsonderlike vakkundige prestasies is net geëwenaar deur haar passie om ander op te hef deur haar onderrig, veral op die gebied van besluitneming, waar sy talle MBA- en ander nagraadse studente uitgedaag en geïnspireer het," het Bam gesê. 

  • Walters het haar loopbaan in die uitvoerende kunste begin toe sy 'n BA-graad in musiek (klavier) aan die Universiteit van Kaapstad (UK) behaal het. Sy was 'n besoekende navorser aan die Universiteit van Michigan in Ann Arbor, Amerika, vir haar meestersgraad in musiek in 2002-2003. Walters het in 2012 met 'n MBA aan die Stellenbosch Bestuurskool gegradueer en haar doktorale kursuswerk aan die Goizueta Business School by Emory Universiteit in Amerika van 2015 tot 2016 voltooi voordat sy met 'n PhD aan die Graduate School of Business aan die UK gegradueer het. 

Die US betuig sy innige meegevoel met dr Walters se familie, vriende, kollegas en studente.