Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
In Memoriam: Prof Elmarie Costandius
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 10/01/2024

Dit is met diepe hartseer dat die Universiteit Stellenbosch (US) die skielike heengaan van prof Elmarie Costandius, 'n visioenêre akademikus en 'n bron van inspirasie binne die US gemeenskap, betreur. 

Costandius het 'n onuitwisbare bydrae tot die US gemaak, het dr Kathryn Smith, voorsitter van die Visuele Kunste-departement, gesê. “Sy het aanvanklik in 2006 by ons aangesluit as lid van die Visuele Kommunikasie-ontwerp-afdeling en het later aan die spits gestaan van 'n unieke meestersgraadkursus met spesialisasie in Kunsonderwys. 

“Elmarie se navorsing het uitdrukking gevind in haar onderrig en sy het vele geïnspireer deur haar onverpoosde toewyding om die wêrelde van die akademie, kreatiwiteit en gemeenskapsbetrokkenheid nader aan mekaar te bring. Haar werk in die US se vernuwende Gedeelde Mensheid-kursus (Shared Humanity) het 'n reuse-impak op studente van uiteenlopende studierigtings gehad en hulle blootgestel aan die maniere waarop kuns en ontwerp groter sosiale samehang kan bewerkstellig. Haar invloed het oor die hele Universiteit gestrek, en deur die Visuele Regstelling-projek is haar nalatenskap in die US se transformasieproses verewig," het Smith gesê. 

Prof Anthony Leysens, Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, het gesê Costandius was aan die voorpunt van visuele regstelling en transformasie op kampus en 'n gewaardeerde lid van die fakulteit se transformasiekomitee. 

“Sy het breedvoerig oor visuele regstelling en sosiale geregtigheid gepubliseer. Vroeg in Desember 2023 het sy 'n internasionale konferensie oor visuele regstelling in Afrika aangebied waar ek die openingsrede gelewer het. Dit was die laaste keer wat ek haar gesien het. Ek wil namens die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en myself ons diepste en innige meegevoel aan haar familie en die Departement Visuele Kunste betuig," het Leysens gesê. 

Verlede jaar is Costandius eenparig gekies vir die Suid-Afrikaanse Onderrigbevordering by Universiteite-genootskapstoekenning (OBU-genootskapstoekenning) vir 2023, bewys van haar aansien en uitstaande bydrae tot gehalte-onderrig en die professionalisering van onderrig en leer in die hoëronderwyssfeer. 

Oor die afgelope dekade het haar geesdrif vir die visuele regstellingsinisiatiewe aan die US gelei tot etlike tasbare vernuwings op kampus, onder meer Die Sirkel-beeldhouwerke van vroue en publieke banke wat met verwelkomingsboodskappe in verskeie Suid-Afrikaanse tale versier is. 

Costandius het kritiese dialoog en bewustheid bevorder met klem op kunsgebaseerde metodologieë om studente, personeel en gemeenskappe by transformasie te betrek. In 2021 was sy mede-outeur van 'n grensverskuiwende boek Evoking transformation: Visual redress at Stellenbosch University saam met prof Aslam Fataar wat tans aan die hoof staan van die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die (Khampepe-) Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) by die US. 

Costandius was 'n vooraanstaande akademikus met 'n merkwaardige akademiese rekord. Sy het inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria studeer en later 'n meestersgraad in visuele kunste aan die Rietveld Akademie in Amsterdam voltooi. Sy het ook 'n meestersgraad aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. 

Sy het in 2012 'n PhD in kurrikulumstudies aan die US verwerf en sedertdien het Costandius 'n groot aantal meesters- en PhD-studente begelei. Haar uitgebreide publikasierekord, betrokkenheid by verskeie navorsingsprojekte en haar aansienlike bydrae om navorsingsbefondsing te bekom, is tekenend van haar onwrikbare verbintenis tot akademiese uitnemendheid. 

Costandius het ook uitgeblink as 'n eksterne eksaminator, keurder van akademiese artikels en lid van verskeie organisasies. Sy het ver buite US se grense 'n impak gemaak en 'n wye netwerk van verbintenisse met internasionale akademici gesmee. 

Benewens haar akademiese prestasies, het Costandius ook verskeie onderrigtoekennings ontvang en 'n deurslaggewende rol gespeel in komitees wat gemoeid is met sosiale impak en institusionele visuele regstelling. Sy het ook internasionaal erkenning gekry, nie net in kunskringe nie maar ook in uiteenlopende dissiplines soos volhoubare ontwerp, kritiese burgerskap en sosiale impak.  

"Die rektoraat van die US het die hoogste agting gehad vir die briljante bydrae van prof Costandius, veral haar werk oor navorsingsingeligte en navorsingsinformerende visuele regstelling aan die Universiteit, en ook breër in hoër onderwys, nasionaal en internasionaal," het prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, namens die US se Rektoraat bygevoeg.​

Die US betuig sy innige meegevoel met Costandius se familie, vriende, kollegas en studente.