Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-wynklub – Kom ons klink 'n glasie
Outeur: Darren Maree
Gepubliseer: 18/12/2023
​Sedert sy ontstaan in 2020 het die Maties-wynklub alumni regoor Europa en Suid-Afrika met mekaar verbind. Met ons aanlynwynproeë kon ons as vriende en familie byeenkom om die wonderlike stories wat ons oor Stellenbosch het te vier terwyl ons 'n heerlike glas Trots Suid-Afrikaanse wyn nuttig.

Die afgelope jare was ons in die geselskap van wynmakers van Beyersloof, La Motte, Babylonstoren, Waterford, Simonsig, Spier, Neethlingshof en Ernie Els Wynmakery – wat nog te praat van al die geproe met die Old Vine Project. Boonop het ons Kleine Zalze se wynlandgoed by ons reeks gevoeg. Die bekroonde wynmakers en alumnae, Lizemari Geldenhuys en Hanri Ferreira, het by ons aangesluit toe ons Internasionale Vrouedag gevier het en saam het ons hul Cellar Selection, Vineyard Selection en Family Reserve Chenin Blanc en Cabernet geniet.

Met die afsluiting van die jaar, het ons terug na Stellenbosch gereis en by Stuart Botha van Tokara-wynlandgoed aangesluit terwyl hy ons touwys gemaak het aangaande die noukeurige sorg wat hy en sy span neem om Tokara se wyne te produseer. Met 'n fokus op Sauvignon Blanc en Cabernet Sauvignon, is dit maklik om te verstaan hoekom Maties en vriende in Europa in groot getalle aangemeld het om hierdie Bordeaux-druiwe, wat met ons Suid-Afrikaanse son toegedig is, te geniet.

Ons wil graag van die geleentheid gebruik maak om ons waardering en dank uit te spreek vir ons jarelange vennoot in wyn, Capreo, wat nie net gesorg het dat ons wynverpakking in die gegewe tyd voorberei en versend word nie, maar ook bygedra het tot die Universiteit Stellenbosch se Beursfonds. Saam het ons ongeveer 1400 € ingesamel en mede-Maties gehelp om finansiële struikelblokke te oorkom en hul akademiese doelwitte te bereik.

Baie dankie ook aan ons span in Suid-Afrika, alumni Darren Maree en Henk Oets, vir hul toewyding en entoesiasme.

Ons skop 2024 af met die bekende wynmaker en alumna Nongchebo (Noni) Langa van die Delheim-wynlandgoed. Noni is onlangs bekroon as 2023 se Diners Club Jong Wynmaker van die Jaar – ons kan nie wag dat sy haar reis en passie vir wyn met ons deel nie. Ons sluit die jaar af met nog 'n aanlynproe in November, maar wees verseker daar sal gedurende die jaar genoeg geleenthede wees om byeen te kom en 'n heerlike glas Suid-Afrikaanse wyn te geniet.

Soos altyd, moedig ons Maties aan om vriende en familie uit te nooi om te deel aan die vrolikheid van ons aanlyn wyngeleenthede. Ons sien uit na nog 'n wonderlike jaar van die viering van Suid-Afrikaanse wyn, die bekoorlike wynlande en ons alma mater, die Universiteit Stellenbosch!