Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oscar & Rose Mpetha-gedenklesing 2023
Outeur: Cindy van Niekerk
Gepubliseer: 18/12/2023

​Die Transformasiekantoor van die Universiteit Stellenbosch (US) het op 20 Oktober die Oscar & Rose Mpetha-gedenklesing 2023 aangebied. Oscar Mpetha, 'n sleutelfiguur in die Suid-Afrikaanse vakbondbeweging, en sy vrou, Rose, 'n toegewyde politieke aktivis, is vir hulle bydrae tot die nasie se bevryding vereer. Die tema van die geleentheid was “Die inklusiewe politiek van Oscar Mpetha". Hoofspreker prof William Gumede van die Universiteit van die Witwatersrand het die gehoor waardevolle insig gebied in Oscar Mpetha se impak op Suid-Afrika se demokratiese ontwikkeling.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het in sy openingsrede die diverse gehoor verwelkom, waaronder familielede van die Mpethas, personeellede en studente van die US, Gumede, en spesiale gas Cheryl Carolus.

Die gedenklesing, het Koopman gesê, was 'n geleentheid om twee uitsonderlike individue te vereer wat as voorbeelde en bakens dien van geloof ondanks teëspoed. Hy het beklemtoon hoe belangrik dit is om oor die Mpethas se lewensverhaal na te dink, hulle ideale te onthou, en inspirasie daaruit te put. Koopman het ook vertel van die eerste keer toe hy as eerstejaarstudent aan die Universiteit van Wes-Kaapland na 'n toespraak van Oscar Mpetha geluister het, en watter indruk dit op hom gemaak het.

Dr Zethu Mkhize, direkteur van die Transformasiekantoor, het Gumede aan die woord gestel. Gumede is bekend vir sy diverse bydraes, waaronder die evaluering van staatsentiteite, en sy werk as samesteller en skrywer van boeke soos South Africa in BRICS.

Gumede het sy boeiende en nadenkende lesing begin deur sy waardering uit te spreek vir die geleentheid om deel te neem aan 'n gesprek wat al lankal moes gebeur het. Hy het die US gelukgewens met die transformerende stap om Oscar en Rose Mpetha te vereer. “Dit is uiters belangrik dat ons nooit die bydraes van Oscar Mpetha en ander soos hy vergeet nie, en dat ons hulle idees laat voortleef."

Wat Oscar Mpetha se nalatenskap betref, het Gumede klem gelê op sy belangrike rol in die sosio-ekonomiese bedeling en administratiewe geregtigheid in Suid-Afrika. Hy het Mpetha se voorspraak vir verbruikersregte geloof en kommer uitgespreek oor die agteruitgang in die verbruikersregtebeweging in hedendaagse Suid-Afrika.

Hierna is Mpetha se veelsydige betrokkenheid by van die burgerlike beweging tot die vakbonde en die ANC onder die loep geneem. Gumede het lig gewerp op Mpetha se verbintenis tot interne demokrasie, veral op deurslaggewende oomblikke soos die nasionale konferensie van die Suid-Afrikaanse Vakbondkongres (SACTU) in 1957, toe hy die moed aan die dag gelê het om vir verset teen segregasie voorspraak te doen.

Gumede het vertel van Mpetha se vermoë om blywende vriendskappe oor rassegrense heen te bou, wat van sy karakter en toewyding aan inklusiwiteit getuig het. Hy het ook Mpetha se beduidende bydraes tot burgerlike bewegings in die 1970's en 1980's beklemtoon, waaronder sy leiersrol om kwessies soos die verwydering van plakkers uit Crossroads en die busboikot van 1980 te hanteer.

Die lesing het deurgaans 'n duidelike prentjie geskets van Mpetha se nederigheid en waardigheid, wat in skrille kontras staan met die optrede van hedendaagse politieke leiers. Nes Mpetha wat in 'n doelgerigte lewe geglo het, moet jongmense ook na húlle doel in die lewe soek en plaaslik betrokke raak, het Gumede gesê. Hy het voorts benadruk hoe belangrik dit is dat Suid-Afrikaners hulle stem as kiesers gebruik om 'n voorspoedige en inklusiewe toekoms te verseker, in navolging van Mpetha se lewenslange toewyding aan demokrasie.

Carolus, die algemene sekretaris van die Verenigde Demokratiese Front (UDF), het ná Gumede se aanbieding haar oordenkings en gedagtes oor Mpetha se lewe en nalatenskap met die gehoor gedeel. Sy onthou hom vir sy vreeslose leierskap, strategiese vernuf, en onwankelbare toewyding aan die vryheidstryd. 'n Kernoomblik vir haar was sy triomfantelike vrylating uit die tronk, toe hy die owerhede uitgedaag het deur 'n lied te sing wat in die hof teen hom gebruik is.

Carolus het ook oor die vorming en historiese belang van die UDF gesels, en oor die voortgesette stryd om transformasie en verantwoordbaarheid in Suid-Afrika. Sy het burgers aangemoedig om aktief by die burgerlike samelewing betrokke te raak, weerstand te bied teen wetgewing wat beoog om nieregeringsorganisasies en die media te muilband, en deel te neem aan plaaslike strukture soos skoolbeheerliggame en gemeenskapspolisiëringsforums om sinvolle verandering teweeg te bring.

Themba Mpetha, Oscar en Rose se seun, het die US bedank vir die geleentheid, en ook sy dankbaarheid uitgespreek teenoor Gumede vir sy bydraes. Hy het hulde gebring aan sy ma en haar kernrol, en vertel hoe sy Oscar aangemoedig het om in die beginjare van die vakbondbeweging vrouewerkers te organiseer. Rose was 'n kampvegter vir die vorming van vroueorganisasies omdat sy besef het hoe belangrik vroue se stem in die vryheidstryd sou wees.

Ten slotte het Themba beklemtoon hoe belangrik dit is om erkenning te verleen aan alle individue wat tot Suid-Afrika se stryd om vryheid bygedra het, selfs dié oor wie daar nie dikwels gepraat word nie. Hy het die voortslepende uitdagings in die Suid-Afrikaanse samelewing erken, maar ook uitgewys hoe ver die nasie sedert die apartheidsjare gevorder het, en die hoop uitgespreek dat toekomstige geslagte die veerkragtigheid sal hê om hardnekkige kwessies die hoof te bied.