Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nqobile Mtolo eer haar oorlede pa se wens en gradueer as Matie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 14/12/2023

Stellenbosch is ver van Soweto, maar Nqobile Mtolo het haar pa belowe dat sy aan die Universiteit Stellenbosch (US) sal gaan studeer, aangesien hy dit as een van die beste opvoedkundige instellings in die land beskou.  

Ongelukkig is haar pa oorlede kort voordat sy toelating tot n BA-program in Geesteswetenskappe by die US gekry het, so hy het nooit geweet dat sy sy wens eerbiedig het nie. Nadat my pa oorlede is, het ek dit my doelwit gemaak om Stellenbosch toe te gaan, want dit is wat hy sou wou gehad het. En Donderdag het sy ’n haar Nagraadse Diploma in Bemarking aan die US verwerf. 

Mtolo is deur haar grootouers grootgemaak – haar ma is oorlede toe sy nog baie klein en haar broer net ’n paar dae oud was – en sy was nog altyd vasbeslote om haar eie pad te volg. Sy sê sy is bemoedig deur die veerkragtigheid van die vrou wat van kleins af haar ma is. Sy het my geïnspireer om die persoon te wees wat ek vandag is. 

Mtolo erken dat haar eerste ses maande op kampus baie moeilik was. Sy het net ses maande nadat sy haar pa verloor het, op Stellenbosch opgedaag sonder vriende waarop sy kon staatmaak om by die nuwe omgewing aan te pas. My grootste uitdaging was die eensaamheid; om ver van familie af te wees. Teen Junie van haar eerste jaar was sy gereed om haar tasse te pak, en sy het aansoek gedoen vir ’n oorplasing na die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wat haar pa se alma mater was. 

Gelukkig het die oorplasing nooit gerealiseer nie, aangesien dinge gedurende die tweede helfte van daardie jaar aansienlik verander het. Terwyl sy op ’n antwoord van Wits gewag het, het sy besluit om Stellenbosch nog ’n kans te gee. Mtolo het by studenteleierskap betrokke geraak en haar stem vir ander én vir haarself gevind. Ek was nogal skaam, maar om by studenteleierskap betrokke te raak, was ’n manier om nuwe mense te ontmoet. 

Sy beskryf nou haar tyd op Stellenbosch as ’n positiewe ervaring en skryf haar nuutgevonde selfvertroue toe aan die uitdagings wat haar gedwing het om vir haarself op te staan. As studenteleier het ek vir ander mense soos ek gepraat – studente wat dalk geen ouers gehad het nie of wat van townships na Stellenbosch gekom het. 

Mtolo het haar oorplasingsaansoek by Wits teruggetrek en die eerste kleinkind in haar familie geword om te gegradueer. Om die trots op haar familie se gesigte te sien, het haar reis na die podium nog meer die moeite werd gemaak. Dit was ’n baie emosionele ervaring. 

Hoewel sy aanvanklik aansoek gedoen het om haar honneursgraad in sosiologie te doen, het Mtolo uiteindelik op ’n nagraadse diploma in bemarking besluit waar sy haar vaardighede op ’n breër vakgebied kon toepas. Ek het met familielede gepraat wat by bemarking betrokke is en besef daar is soveel geleenthede in dié veld.” 

Die eerste dag van die kursus was baie oorweldigend, sê Mtolo. Sy het in daardie stadium ook gewerk om ’n internskap te voltooi om haar huur en lewenskostes te dek. Om ’n kursus in ’n nuwe veld te begin, het skrikwekkend gevoel. Maar ek het ’n ware passie vir bemarking begin ontwikkel, en ek het gou besef dat dit, danksy my agtergrond in geesteswetenskappe, die perfekte pasmaat vir my was. 

Sy het haar visier op ’n pos in digitale bemarking gestel, hetsy in Kaapstad of Johannesburg, waar sy dít wat sy by die US geleer het, kan toepas. Mtolo se raad aan diegene wat dit oorweeg om ver van die huis of buite hulle gemaksone te studeer, is om vas te byt en nie toe te laat dat jou uitdagings bepaal hoe jou toekoms gaan lyk nie.

Foto: Stefan Els