Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die pad na aksiegegronde relasionele transformasie: Insigte uit die US se Transformasie-indaba 2023
Outeur: Cindy van Niekerk
Gepubliseer: 13/12/2023

Die Transformasie-indaba is 'n jaarlikse geleentheid waar die Universiteit Stellenbosch- (US-)gemeenskap byeenkom om saam oor transformasiekwessies te gesels en vordering te evalueer. Die US se Transformasiekantoor het Indaba 2023 op Donderdag 19 Oktober op Stellenbosch aangebied. Die tema was “Aksiegegronde relasionele transformasie", en deelnemers het US-studente en -personeel van verskillende fakulteite ingesluit.

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het in sy verwelkomingsrede beklemtoon dat die US daartoe verbind is om sy transformerende visie in tasbare optrede te omskep, en ook benadruk hoe belangrik dit is om vérder as gedagtes en woorde te beweeg. Koopman het die tema van die geleentheid sowel as die Universiteit se leuse, “saam vorentoe", aan deelnemers voorgehou as 'n oproep om samewerking.

Prof Grace Khunou, direkteur van Transformasie by UNISA, het die hoofrede gelewer en die kruispunt tussen aksie, relasionaliteit en transformasie by die US en in die Suid-Afrikaanse hoër onderwys in die algemeen verken. Sy het die gehoor aangemoedig om nie toe te laat dat kompleksiteite hulle van hulle inspirasie beroof nie. Ten opsigte van wêreldwye uitdagings soos rassisme het sy voorgestel dat kurrikulêre transformasie en gesprek gebruik word om na oplossings te soek, met die klem op waardes en 'n verbintenis tot aksiegegronde relasionele transformasie.

Die tweede komponent van die Indaba het uit twee hoofsessies bestaan. Vir die eerste sessie het drie sprekers besin oor kerninvloede op die US se transformasiereis. Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het die institusionele kultuur en klimaat en die relevansie daarvan vir die US se verbintenis tot transformasie bespreek. Dr Handri Walters, 'n dosent in Sosiale Antropologie, het 'n genuanseerde oorsig van die Universiteit se historiese konteks gebied. Op haar beurt het prof Nuraan Davids van die Departement Opvoedingsbeleidstudie oor die tema “Intieme verskil" gesels en die kompleksiteite van transformasie, veral in die konteks van Suid-Afrika ná apartheid, van nader bekyk.

Die tweede sessie het 'n unieke benadering gevolg met 'n dinamiese gesprek tussen sprekers dr Wilhelm Verwoerd, senior navorser by die Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Soeke na Herstel (AVReQ); Fanelesibonge Ndebele, geleentheidsprojekbestuurder by die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid, en dr Jill Ryan, koördineerder van die beweging teen geslagsgeweld by die Eenheid vir Gelykwaardigheid. Die gesprek het om die tema van die praktiese verwesenliking van die US se restitusieverklaring gedraai.

Hierna het Indaba-deelnemers in vier wegbreekgroepe beraadslaag oor onderskeidelik die US se E-CARE-waardes, die Stellenbosse 'DNS', onbewuste vooroordeel, en institusionele kultuur teenoor klimaat. Hulle het gesels oor die huidige stand van dié sake sowel as die beoogde toekomspad, en uit hulle gesprekke kernboodskappe vir die instelling ontwikkel. Die wegbreeksessies was bedoel om gesprek aan te moedig, terugvoer te bekom, en begrip van belangrike transformasieverwante kwessies te verdiep.​

Dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie, het 'n oorsig gebied van hoe die Indaba oor die jare ontwikkel het, en die belang daarvan vir die US. Vanjaar se Indaba was die sewende aflewering van die byeenkoms en het as 'n platform gedien om oor vordering, uitdagings en aspirasies na te dink. Van Rooi het die organiseerders en deelnemers vir hulle harde werk en toewyding bedank, en klem gelê op die waarde van die Indaba om kritiese besinning aan te moedig en 'n meer inklusiewe en transformerende toekoms vir die instelling te skep.

Prof Ronelle Carolissen het die Transformasie-indaba met bedankings afgesluit.

Die verslag oor die Transformasie-indaba 2023 is hier te kry.