Gradeplegtigheid is nie net 'n geleentheid om die kwalifikasies van die Universiteit Stellenbosch (US) se studente te vier nie, maar ook die kreatiwiteit wat uit die strewe na akademiese uitnemendheid voortspruit. As deel van haar finalejaarprojek het Ella Gardiner, wat vandeesweek haar graad in Meganiese en Megatronika-ingenieurswese by die US se Desember-gradeplegtigheid ontvang het, 'n unieke opvoedkundige speelding ontwikkel om Suid-Afrikaanse meisies te inspireer om 'n loopbaan in Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde (die sogenaamde STEM-vakke) te volg.
Gardiner is die skepper van 'n oulike sonkrag-aangedrewe eenhoring (“unicorn") wat kan loop en sy vlerke klap en wat deur 'n pragtige storieboek vergesel word wat verduidelik hoe die meganiese speelding werk.
Die pasgegradueerde is deur die Amerikaanse speelgoedmaatskappy Goldieblox® geïnspireer wat deur 'n ingenieursgegradueerde, Debbie Sterling, gestig is nadat sy 'n gaping in die speelgoedmark vir die bevordering van STEM-speelgoed vir meisies raakgesien het.
Die onderwerp is deur haar dosent, Deborah Blaine (medeprofessor in die Afdeling Meganika), voorgestel, verduidelik Gardiner. “Toe ek 'n onderwerp vir my finalejaarprojek moes kies, het hierdie spesifieke een my aandag getrek omdat dit uniek was. Ek het gehou van die idee om kreatiwiteit met ingenieurswese te kombineer om iets te maak wat 'n impak op meisietjies sou hê wat nie so gelukkig soos ek is om aan die moontlikheid van ingenieurswese blootgestel te word nie."
Gardiner se eenhoring bestaan uit afsonderlike stukke wat die kinders inmekaar kan sit om die eenhoring te vorm, terwyl hulle die verhaal van Aisha volg, 'n meisietjie wat wil sien hoe haar eenhoring lewe kry. Belangrike ingenieurskonsepte word verduidelik, soos hoe 'n fotovoltaïese sel sonkrag aan 'n motor verskaf en hoe die motor 'n ratkas aandryf, wat op sy beurt 'n krukas-en-as-meganisme laat werk.
Hoewel daar bekostigbare en toeganklike STEM-speelgoed in Suid-Afrika beskikbaar is, maak dit nie spesifiek voorsiening vir meisies nie. Terwyl die Goldieblox-konsep® in Amerika geslaag het, word hierdie produkte nie in Afrika bemark nie, en is dit duur om dit in te voer, verduidelik Gardiner.
Sy het ook uit haar persoonlike ervaring inspirasie geput. “Ek onthou hoe ek as kind al hierdie oulike robotspeelgoed gesien het wat jy self kon bou, en ek het altyd gewens ek kon dit kry, maar as dit maar net pienk en vonkelend en mooi kon wees.
“As kinders het ek en my ouer broer dikwels tweedehandse speelgoed van vriende gekry, so ons het gewoonlik met 'n mengsel van speelgoed gesit waarmee ons die fassinerendste wêrelde vir ons karakters kon bou. Soos enige jong meisietjie, het ek ook my pophuis en Barbie-versameling gehad. Maar my gunsteling was LEGO. Ek sou maande lank my sakgeld spaar om 'n nuwe stel te koop om by my versameling te voeg. Selfs vandag nog wens ek ek kon al die oulike stelle koop wat beskikbaar is. Ek hou daarvan om te sien hoeveel meer stelle hulle begin maak wat op meisies gerig is."
Benewens die ontwerp en konstruksie van die speelding, wou Gardiner 'n manier vind om dit toeganklik te maak vir die gemiddelde Suid-Afrikaanse skoolmeisie. Dit is waar die meegaande storieboek vandaan kom.
Oorweldigende reaksie
“Die storieboek is so 'n kragtige instrument aangesien dit my in staat gestel het om 'n karakter te skep wat as 'n STEM-rolmodel kan optree vir meisies wat dalk nie een het nie, terwyl ek ook die meganiese werking van die speelding aan die kinders verduidelik. My benadering was om die ingenieurskonsepte so eenvoudig as moontlik te verduidelik, terwyl ek verseker het dat die inligting akkuraat bly. Ek het baie foto's te gebruik om die inligting oor te dra en ook om visuele aantrekkingskrag vir kinders te skep," sê sy.
Hoewel Gardiner kuns geniet en graag self die boek sou wou illustreer, het tydsbeperkings beteken dat sy hulp moes inroep vir die illustrasies. Sy het die boek en inhoud ontwerp en saam met 'n digitale kunsstudent van Wits Universiteit, Tamara Tesoriero, gewerk wat die storie met haar kunsvernuf uitgebeeld het.
Die reaksie op haar innovasie was oorweldigend, sê Ella. “Almal was gek daaroor. Ek het soveel positiewe terugvoer regdeur die verloop van die hele projek ontvang. Ek dink mense het dit geniet om iets moois in die ingenieursfakulteit te sien. Dit was 'n prettige projek en 'n mens kan dit sien wanneer mense na die eindresultaat kyk. Ek is baie bly daaroor, want dit is immers 'n speelding."
Gardiner beskou haarself as bevoorreg om in 'n gesin groot te word waar daar vir haar gesê is sy kan enigiets word solank sy hard werk.
“Albei my ouers het STEM-grade behaal. My ma het plant- en dierkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer en my pa het entomologie aan Rhodes-Universiteit studeer. My ma het 'n onderwyser geword en my pa het sy PhD aan die Universiteit van Zimbabwe verwerf. Ek dink hy het my geïnspireer om myself te druk om in my loopbaan uit te blink, maar albei het my baie geleer oor harde werk en deursettingsvermoë om jou doelwitte te bereik."
Die idee om 'n impak te kan maak het haar geïnspireer om ingenieurswese te studeer, sê Gardiner. “Wat my loopbaankeuse aan betref, het ek besluit ingenieurswese is een van die beste paaie om in 'n pos te beland waar ek deel van innovasie kan wees wat die manier waarop ons as 'n samelewing leef, kan beïnvloed."
Toekomsdrome
Gardiner se eenhoringskepping het nog nie 'n naam nie en sy wil graag hulp hiermee kry. “Ek is baie sleg daarmee om name vir goed te gee. My eksaminatore het voorgestel dat ons dit 'Ella' noem, maar ek is nie seker hoe ek daaroor voel nie, so ek dink ek sal 'n bietjie langer hieroor moet nadink. Ek is beslis oop vir voorstelle!"
Nadat sy soveel kreatiewe energie gebruik het om haar BIng-graad te voltooi, beplan Gardiner om ná haar gradeplegtigheid verlore slaap in te haal. “Dit was 'n lang vier jaar en ek is bly dis nou verby. Ek gaan in die vakansie 'n bietjie inhaal op my ander stokperdjies soos naaldwerk en ook my kreatiewe kant 'n bietjie meer te koester."
Gardiner begin aanstaande jaar as 'n gegradueerde ingenieur in Kaapstad werk om ondervinding op te doen, maar sy droom daarvan om eendag in die speelgoedvervaardigingsbedryf te werk. “Dit is so 'n kragtige instrument om die toekomstige generasie te inspireer en uitbeelding is so belangrik vir jong kinders. Ek wens ek kon as kind speelgoed gehad het soos die eenhoring wat ek ontwikkel het. Die speelding is die intellektuele eiendom van die Universiteit, so ek dink nie ek sal hierdie presiese konsep verkoop nie. Maar ek sal graag eendag wil deel wees van die ontwikkeling van die speelgoedbedryf om meer inklusiewe speelgoed te maak. Ek is oop vir alle moontlikhede, en ek dink ek gaan sien op watter koers die lewe my neem. Wie weet, dalk kan ek eendag my eie reeks ingenieursspeelgoed vir meisies maak," sê Gardiner.
FOTO: Stefan Els