Statisties is die kanse om jou graad op jou verjaardag te ontvang, redelik klein. Dit gebeur ook baie selde dat 'n student 'n meestersgraad verwerf sonder dat hy enige vorige grade voltooi het. Maar Scott Eric Williams is gewoond daaraan om uitsonderlik te wees. Om sy eerste graad cum laude Maandag (11 Desember) op sy 43ste verjaardag te ontvang, is die soort prestasie wat jy sou verwag van 'n kunstenaar wat daarvoor bekend is dat hy dinge anders doen.
Met slegs 'n matrieksertifikaat op sy naam, het Williams se promotor, prof Lize van Robbroeck van die Departement Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch (US), hom deur die proses van erkenning van vorige leer bygestaan om toelating tot die MA-program in Visuele Studie, wat 'n tesis-graad is, te verkry.
Sy baie jare as praktiserende kunstenaar, kurator en veral as gemeenskapskunsonderwyser en aktivis, het Williams ideaal toegerus om die onderwerp van informele kunsonderrig vir doeleindes van bevryding na te streef, sê Van Robbroeck.
“Scott het baie hard gewerk om sy projek te voltooi. Hy het al ons respek verdien om soveel toewyding en verbondenheid in 'n uitstekende tesis te belê, terwyl hy hom en sy gesin ook nog onderhou het," voeg sy by.
Een van die grootste uitdagings wat hy met die voltooiing van sy proefskrif ondervind het, was om aan die akademiese skryfstyl gewoond te raak, sê Williams. “Ek het dit nog altyd geniet om te skryf om die visuele elemente van my werk te vergesel. Ek het ook al voorstelle vir residensies en finansiering geskryf. Ek het tot die visuele kunste webwerf, ArtThrob, begedra en ek het al vir die Universiteit van Kaapstad se Michaelis-galery geskryf. Maar vir my tesis moes ek by die formaliteite en konvensies van akademiese skryfwerk aanpas. Dit het my 'n rukkie geneem, maar toe ek dit eers bemeester, het die skryfwerk begin vloei."
Williams was nog altyd 'n ywerige leser en gee hiervoor erkenning aan sy ma, wat vir jare as 'n bibliotekaresse gewerk het, omdat sy van jongs af 'n liefde vir boeke by hom gekweek het. “Sy het geletterdheid in ons gesin aangemoedig en dít het weer 'n belangstelling in kuns en kultuur by my aangewakker. Ek het nog altyd aangetrokke tot die kunste gevoel," sê Williams.
Hy het dit oorweeg om ná skool kuns te studeer, maar sy pa het dit nie as 'n lewensonderhoudende loopbaan beskou nie. “Ek het 'n baie kort tydjie by die Universiteit van Wes-Kaapland deurgebring, waar ek BComm Rekenaarwetenskap studeer het, maar ek het dit redelik vinnig laat vaar. Later het ek besluit om my voltyds op my kunsloopbaan toe te spits," verduidelik hy.
Die idee om terug te gaan universiteit toe, het posgevat toe hy danksy die Andrew W Mellon-beurs by US se GUS Gallery as residensiële kunstenaar gewerk het. “Ek het produktiewe gesprekke met Jacob van Schalkwyk, destyds 'n gasdosent by die Departement Visuele Kunste, gevoer. Hy het aanbeveel dat ek my praktyk formaliseer aangesien ek baie opvoedkundige werk met kinders doen. Ek het gedink 'n meestersgraad sou 'n goeie manier wees om my passies vas te lê en dat dit my ook in staat sou stel om ondanks my ouderdom, my loopbaan volhoubaar te maak."
Die tweede groot uitdaging om so laat in sy lewe met 'n akademiese loopbaan te begin, was tydsbestuur, sê Williams. “Ek moes die verpligtinge van vryskutwerk, studeer, lees, verwerking van die lesings, sin maak daarvan op skrif, plus akademiese verpligtinge soos seminare alles balanseer. Dit was nogal moeilik om vryskutwerk te soek terwyl jy werk en studeer. Die finansiering wat ek ontvang het, het ná twee of drie maande opgedroog, wat my in 'n moeilike finansiële situasie gedompel het."
Benewens sy dosente by die US, gee Williams erkenning aan die kunsgemeenskap se ondersteuning om hom op sy studie gefokus te hou. “Ek was gelukkig om 'n groep geesdriftige ondersteuners te hê het wat my gehelp het om in die moeilike tye deur te druk. Kollegas soos Lesiba Mabitsela en dr Erica de Greef by die Afrika-mode-navorsingsinstituut waar ek tans werk, het my aangemoedig. Dr Anthea Lesch van die US was ook 'n dryfkrag."
Die tema van sy proefskrif, “Drawing from the Past to Plot the Future: Freirian Methodologies for Socially Engaged Youth Arts Education in South Africa", is geïnspireer deur die kunstenaars en aktiviste wat in die 1980's produkte van die politieke onrus in Suid-Afrika was, sê Williams. Hy het ook inspirasie uit die Amerikaanse kunstenaar Mark Bradford geput wat aan stedelike ruimte in terme van artistieke konsepte dink. Maar sy grootste inspirasie is jongmense. “Die bruin jeug van die Kaapse Vlakte en Kaapstad – hulle volharding, die skoonheid van hulle energie en hulle hoopvolheid – inspireer my."
Williams bewonder ook die revolusionêre Brasiliaanse filosoof en aktivis, Paulo Freire, wie se werk wêreldwyd 'n groot invloed op onderwys en gemeenskapsontwikkeling gehad het. Freire se doel was om ongeletterdheid onder mense uit voorheen-gekoloniseerde lande uit te wis. Williams het ondersoek hoe Freire se idees drie organisasies beïnvloed het wat toegewy is aan kunsopvoeding en -bemagtiging in Suid-Afrika – die gemeenskapskunsprojek in Kaapstad; 'n groep kunstenaars bekend as “The Vakalisa Associates"; en die Distrik Ses-tuiskomssentrum.
“Hoewel dit algemeen verstaan en aanvaar word dat hierdie organisasies hulle werk op 'n Freiriese metodologie gegrond het, was daar nog nooit regtig 'n formele studie om te ondersoek hoe hierdie metodologieë gemanifesteer is nie. My studie was nie net histories nie. Ek wou ook vasstel of daar enige lesse is wat ons uit Freire se metodologieë kan leer en of dit 'n plek in vandag se nie-formele kunsopvoedingsruimte het," verduidelik Williams.
Sy navorsing het sy werk by die Afrika-mode-navorsinginstituut, waar hy 'n vryskutkurator en projekbestuurder is, geïnspireer. Hy het onlangs 'n oorsig vir 'n kursus getiteld “The Fold" ontwikkel. Williams hoop om meer volhoubare werk te kry noudat hy sy meestersgraad voltooi het.
Williams dra sy swaargewonne graad en prestasie op aan 'n baie spesiale groep mense. “Ek hoop dat jongmense, of hulle nou kunstenaars is of daarvan droom om 'n ingenieur, 'n wetenskaplike of 'n dokter te word, kan sien dat daar nog 'n jong seun op die Kaapse Vlakte was wat 'n droom gehad het en tog, ondanks talle uitdagings, sukses behaal het. Of jy nou van Bellville, Heideveld of Mannenberg af kom, onthou net daar is alternatiewe, nie-tradisionele roetes op die akademiese reis wat jou toelaat om innoverend te wees. Jy moet net die geleenthede aangryp."
FOTO: Stefan Els