Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skaam TikTok-ster gradueer met internasionale musiekroem wat wink
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 11/12/2023

Om 'n graad in Internasionale Studie te verwerf, beteken gewoonlik dat 'n student die geopolitieke ingewikkeldhede van internasionale betrekkinge bemeester het. Terwyl hy aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer het, het Zubin Pietersen, wat Maandag 11 Desember gegradueer het, ook meesterlike internasionale betrekkinge van 'n kreatiewe aard bereik – hy het vroeër vanjaar 'n sensasie op sosiale media geword toe sy liedjies wêreldwyd ontplof het.

Dié selferkende introvert van die Paarl het nou 'n vinnig groeiende aanlyn ondersteunersbasis wat oor vastelande heen tot in lande so ver as Indonesië en Maleisië strek. Pietersen het vanjaar meer as 275 000 luisteraars op die webgebaseerde musiekplatform Spotify opgebou en nie net het sy onvergeetlike mooi liedjie “Letter for You" 'n soort TikTok-volkslied geword nie, maar dit is ook meer as 400 000 keer gestroom sedert dit in Julie vrygestel is. Pietersen se musiek was ook 'n treffer op plaaslike radio – 5FM het vanjaar al meer as 500 keer sy liedjies gespeel.

'n New York Times-joernalis het onlangs van Pietersen bewus geword. Die joernalis het die fokus op “I Just Want You", 'n KI-gegenereerde weergawe van sy liedjie geplaas, wat sogenaamd deur Taylor Swift en Harry Styles gesing word. Pietersen beskryf hierdie video as 'n vorm van “guerrillabemarking" wat op 'n spesifieke gehoor gemik is. “Die video was net ek wat lip-sinchroniseer met my liedjie met die onderskrif wat humoristies beweer ek is 'n spookskrywer vir die nuwe Taylor Swift- en Harry Styles-liedjie vir die komende Barbie-fliek. Toe ek dit aanvanklik laat in die nag geplaas het, het ek nie veel verwag nie. Die volgende oggend was ek egter verbaas om te sien dat dit meer as 300 000 keer gekyk is. Ek kon nie glo dat die New York Times se joernalis dit raakgesien het nie!"

Musikale familie 

Pietersen se musiekloopbaan het in die Covid-19-pandemie begin toe hy as eerstejaarstudent gedurende die grendeltyd by die huis in die Paarl vasgevang was. Soos baie mense, het hy Netflix-reekse begin kyk, maar na 'n paar weke het hy besef hierdie tyd by die huis mag dalk 'n eenmalige geleentheid wees om nuwe vaardighede aan te leer. Pietersen kom uit 'n musikale familie – hy is die jongste kleinseun van wyle Frank Pietersen wat een van die pioniers van musiekopvoeding in die Paarl was – en het nog altyd daarvan gedroom om sy musiektalente te slyp.

"Albei my ouers, Milton en Michelle, is gekwalifiseerde musiekonderwysers en het klassieke opleiding in klavier, Franse horing en fluit ontvang. My pa gee tans klas by die Frank Pietersen Musieksentrum in die Paarl. Aangesien ek in 'n musikale omgewing grootgeword het, het ek aangetrek gevoel tot slaginstrumente en het reeds op driejarige ouderdom begin trom speel. Ek het ook gedurende 'n ontdekkingsfase in my kinderjare viool gespeel. Ek speel nog steeds tromme en vervaardig die meeste van my musiek."

Pietersen het met net sy oorfone en 'n mikrofoon sy slaapkamer in 'n musiekateljee omskep en met digitale tegnologie begin eksperimenteer om sy liedjies te skep en op te neem. Aanvanklik het die musiek wat hy op Spotify geplaas het, nie veel aftrek gekry nie, maar Pietersen het aangehou. “Ek is geïnspireer deur die Amerikaanse rapper Russ wat eenkeer gesê het: 'Wat as dit op die ou einde beter uitdraai as wat jy ooit kon dink?' Jy sien dalk nie die vordering in die oomblik nie, maar dit is soos om 'n graad op universiteit te voltooi – nadat jy al die harde werk ingesit het, sal jy uiteindelik gradueer en besef hoe jy gevorder het," sê Zubin.

Sy musiek strek oor verskillende genres en meng energieke pop met innige indie-klanke. Elke liedjie vertel 'n unieke verhaal wat deur persoonlike ervarings en die ingewikkeldhede van die lewe geïnspireer is, en raak temas soos liefde, selfontdekking en die menslike ervaring aan. Hy wil hê sy musiek moet generasies oorbrug en die tydlose klankbaan van iemand se lewe word.

Inspirasie uit afsondering

Pietersen put inspirasie daaruit om op sy eie op 'n stil plek te wees. Vanjaar het hy 'n ritueel op kampus begin wat hy sê hy sal koester. “Ek het ná klas die botaniese tuin begin besoek. Terwyl ek onder 'n boom sit, gee ek my gedagtes vrye teuels. Sommige dae het die natuurlike omgewing liedjie-idees geïnspireer, waarvan ek baie in liedjies omskep het wat vanaf Januarie 2024 vrygestel word. Hierdie oomblikke lê my besonder na aan die hart."

Nog 'n bron van inspirasie vir hom is positiewe terugvoer van mense wat sy musiek waardeer. Hy het onlangs 'n opregte boodskap van 'n aanhanger ontvang wat vertel het hoe hulle bui verbeter het nadat hulle ná 'n slegte aand na sy musiek geluister het. “Om te hoor dat my musiek iemand se lewe positief beïnvloed het, het my diep geraak. Dit is ongelooflik hartroerend en vul my met dankbaarheid vir hierdie gawe. Om al my musiek in die afsondering van my slaapkamer te maak, dra by tot die betekenis. Ek hoop my musiek sal aanhou om positiewe ervarings en emosies by mense te ontlok," sê Pietersen.

Die onlangse sukses van sy musiek het hom glad nie verwaand gemaak nie. Slegs 'n handjievol van sy klasmaats by die US het van sy musiekstokperdjie geweet. “Dit klink dalk vreemd, maar ek het niemand van my sosialemediarekeninge of enigiets vertel nie. Met die verloop van tyd het 'n paar mense op Stellenbosch my egter van my TikTok-plasings herken en merkwaardige ondersteuning vir my inhoud én my musiek getoon. Hulle aanmoediging was baie spesiaal," sê Pietersen.

“Om my voete op die grond te hou, is vir my belangrik. Ek waardeer die ondersteuning en liefde van die mense wat daar was vir my, veral my ma en pa en my suster Signe wat ook aan die US studeer. Hulle teenwoordigheid hou my geanker. Afsondering is net so belangrik – dit was sover baie sinryk. Hoewel roem en rykdom aantreklik is, is my hoofdoel om deur my musiek liefde te versprei en die klankbaan vir mense se lewens te wees. Dit bly my dryfkrag, ongeag hoeveel aandag oor my pad mag kom."

Pietersen gaan sy graad by 'n middagete saam met sy gesins vier voordat hy Oos-Londen toe vlieg om 'n liedjieskryfkamp by te woon saam met 'n vervaardiger met wie hy saamwerk. Sy toekomsplanne draai om konsekwente musiekvrystellings en die opbou van 'n ondersteunersgemeenskap. “Ek sien hulle nie as net aanhangers nie, maar as vriende wat verbind word deur ons gedeelde liefde vir musiek. Hoewel ek diepe agting vir die artistieke kant van musiekmaak het, besef ek ook om as kunstenaar in die 21ste eeu te werk, beteken dit ek moet my eie besigheid bestuur. Die bou en vertroeteling van verhoudings is van uiterste belang op hierdie reis."

Altyd 'n Matie 

Hoewel hy opgewonde is oor die vooruitsig om internasionaal 'n blywende invloed te hê, sê Pietersen Suid-Afrika sal altyd sy huis wees. “In die digitale era van sosiale media het ek besef enigiemand kan van omtrent enige plek af in die wêreld 'n suksesvolle musiekloopbaan hê, solank hulle 'n telefoon- en internetverbinding het. Ek dink dit hang ook daarvan af of jy 'n suksesvolle handelsmerkkunstenaar of 'n suksesvolle onafhanklike kunstenaar wil wees. Die noodsaaklikheid om na 'n 'musieksentrum' te verskuif ten einde suksesvol te wees, het verander. As die geleentheid hom egter voordoen om ter wille van my loopbaan tydelik na die buiteland te verhuis, sal ek dit beslis oorweeg, maar ek sal altyd uiteindelik weer huis toe kom!"

En hy sal altyd 'n lojale Matie bly, hou Pietersen vol. “Die Universiteit se lewendige gemeenskap en diversiteit het as katalisator vir my musiekloopbaan gedien. Stellies het my deursettingsvermoë, durf en waardevolle vaardighede geleer wat my toegerus het om my pad deur die ingewikkelde landskap van die musiekbedryf te vind."

 FOTO: Stefan Els