Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Interdissiplinêre werksessie fokus op die noodsaak van ‘kruisbestuiwing’ in gesondheidsbestuur
Outeur: SU Africa Centre for HIV/Aids Management [Amelia Burger]
Gepubliseer: 08/12/2023

​Op 28 en 29 November het die Fakulteite van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en Teologie 'n werksessie aangebied oor die rol van geloofsgroepe in gesondheidsbestuur. Die geleentheid was ’n platform vir verteenwoordigers uit hierdie dissiplines om die aktuele kwessie van gemeenskapsgesondheid te bespreek, asook te besin oor geleenthede en leemtes met betrekking tot die betrokkenheid van geloofsgroepe.

​​Geloofsgroepe en godsdiensleiers is dikwels die hekwagters in ’n samelewing en speel 'n kernrol in die vorming van gedragsnorme. Soos dr. Jeannine Uwimana-Nicol, senior navorser by die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, gesê het: “In Afrika is geloofsgroepe en gesondheidsverskaffers verantwoordelik vir meer as 60% van gesondheidsorg. Wat gelyke toegang tot gesondheidsorg betref, is dit geloofsgroepe wat kontak maak met moeilik bereikbare gemeenskappe. "Die versuim om geloofsgroepe deel te maak van die wêreldwye gesondheidsagenda het ’n beduidende rol gespeel in onbevredigende vordering met gesondheidsteikens.”

Die tema op die eerste dag was die impak en bydrae van geloofsgroepe tot die gesondheid van ma’s, pasgeborenes en kinders in Afrika. Verteenwoordigers uit Suid-Afrika, Malawi, Ghana, Rwanda, Uganda en Nigerië het gevallestudies aangebied van geloofsgroepe wat die gesondheidstelsels in hulle onderskeie lande help versterk.

Uwimana-Nicol het die sessies van individuele aanbieders begin deur inligting te verskaf oor geloofsgroepe wat dienste soos verloskunde, seksvoorligting en inenting in verskeie Afrika-lande voorsien. Hoewel meer navorsing nodig is, toon die data ’n korrelasie tussen dienslewering deur geloofsgroepe en laer sterftesyfers van ma’s, sowel as groter benutting van gesondheidsdienste vir moeders.

Ander sprekers het Khadija Richards van die Universiteit van die Witwatersrand, dr. Lungiswa Tsolekile van die Skool vir Openbare Gesondheid by UWK en prof. Debra Jackson van die London School of Hygiene and Tropical Medicine in die VK ingesluit.

Ter herdenking van Wêreldvigsdag op 1 Desember het die aanbiedings en besprekings op die tweede dag gefokus op die rol van geloofsgroepe en godsdiensleiers in die bestuur van MIV/vigs asook die agenda van gemeenskapsgesondheid. Vanjaar se tema was "Laat gemeenskappe lei". Dr. Munya Saruchera, direkteur van die Afrika Sentrum vir MIV/vigsbestuur, het die belangrikheid hiervan beklemtoon, gegewe die uitsluiting en marginalisering van gemeenskapsrolspelers in die stryd teen MIV/vigs. "Wetenskaplikes, sakelui, bedryfsleiers en navorsers het voortgegaan en gemeenskappe agtergelaat. Tog het hierdie gemeenskappe, waaronder geloofsgroepe en skole, ’n belangrike rol in tuisversorging en voorkoming gespeel.”

Saruchera het die Afrika Sentrum se bydrae tot samewerking met geloofsgroepe en godsdiensleiers in MIV/vigsbestuur en -versorging beklemtoon. Die sentrum het bande met verskeie geloofsgroepe en plaaslike gemeenskappe gesmee waardeur verskeie dienste gelewer word, soos fondsinsamelingsondersteuning, boekhouding, personeelsake, kantoorruimte en die geleentheid vir verteenwoordigers van geloofsgroepe om vir die sentrum se akademiese programme in te skryf. Daarbenewens bevat die Afrika Sentrum se vlagskip-program, die nagraadse diploma in MIV/vigsbestuur, ’n module oor die rol van geloofsgroepe en godsdiens in die voorkoming en versorging van mense met MIV en vigs. Geloofsleiers is betrokke by die ontwerp, bywerking en aanbieding van hierdie module.

Die insigte oor die belangrike rol van geloofsgroepe in gesondheidsbestuur het Simba Pondani, ’n PhD-student aan die Fakulteit Teologie wat die werksessie bygewoon het, oortuig om in 2024 vir die Afrika Sentrum se nagraadse diploma in MIV/vigsbestuur in te skryf. "Daar is tans geen gesprekvoering of selfs relevante taal oor MIV en vigs in die pinkster-Christendom nie," het hy gesê. "As iemand wat blootgestel word aan baie ouderdomsgroepe en gemeenskappe, moet ek ’n rol speel om hierdie kwessie te verander.”

Ondanks die kernrol van geloofsgroepe in gemeenskappe en bewyse van ’n positiewe impak, is daar nog baie ruimte vir verbetering. Saruchera het stigmatisering, ’n gebrek aan vaardighede oor hoe om hulpbronne te mobiliseer, ongekoördineerde en gesegmenteerde kommunikasie asook die ontkenning van die verband tussen geslagsgeweld en MIV/vigs as van die grootste mislukkings van geloofsgroepe uitgelig.

Op die tweede dag kon deelnemers kerse aansteek ter nagedagtenis aan mense wat aan vigs beswyk het, en met nuwe hoop vir almal wat deur MIV geraak word en dat die stryd uiteindelik gewen sal word.

In ’n slotboodskap het die bedryfshoof van SANAC, dr. Rogerio Phiri, beklemtoon dat die geloofsektor uiters belangrik is in die stryd teen MIV/vigs. Hy het gesê SANAC is verbind tot samewerking met instellings van hoër onderwys soos die Universiteit Stellenbosch om die aktiewe betrokkenheid van geloofsgroepe en godsdiensleiers in gesondheidskwessies te bevorder. ’n Belangrike uitkoms van die werksessie was die totstandkoming van ’n raadgewende komitee wat openbaregesondheidsprogramme, navorsingsprioriteite, beleidsontwikkeling en die versterking van die gesondheidstelsel sal koördineer, met ’n spesifieke fokus op geloofsgroepe, die gesondheidsorg van ma’s, pasgeborenes en kinders, asook MIV/vigs.

Maar uiteindelik is dit mense soos Simba wat proaktief stappe doen om hulle perspektief op die samelewing en aaneengeskakelde dimensies te verbreed wat ons sal help om die vrugte van interdissiplinêre samewerking te pluk. In Simba se woorde: "Ons moet ’n balans kry sodat ons benadering holisties kan wees." Dit is hoe die prioritisering van sekere sosio-ekonomiese kwessies ten koste van ander ewe belangrike kwessies voorkom kan word, wat beter uitkomste vir almal moontlik maak.