Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CIRCoRE-werkstroom insigte: Prof Kopano Ratele
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 07/12/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het die strukture in plek gestel wat op die aanbevelings van die Khampepe-kommissie sal fokus. Ons reeks onderhoude met sleutel- US-personeellede wat die proses van die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe)stuur, werp lig op die werk van die werkstrome wat die toekoms van die Universiteit vorm. In hierdie onderhoud deel prof Kopano Ratele insigte oor ʼn visie vir ʼn getransformeerde US.   

Prof Ratele is 'n internasionaal bekroonde sielkundige en vakkundige in die Departement Sielkunde aan die US. Hy lei die CIRCoRe-werkstroom wat verantwoordelik is vir die belyning van die Universiteit se institusionele kultuur met 'n demokratiese menseregte-etos. Sy werk fokus op twee gebiede, naamlik dekoloniale en Afrika-sielkunde, asook seuns, mans en manlikheid by die kruispunt met geweld, ras, seksualiteit en kultuur. Hy lewer gereeld bydraes in die media oor sake wat verband hou met seuns, mans en manlikheid, geweld en vaderskap. Hy het as lid van die Ministeriële Komitee oor Transformasie in Suid-Afrikaanse Universiteite gedien en dien tans in die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Program vir Toekomstige Professore.

Jy het in 2021 by die Universiteit Stellenbosch aangesluit. Wat het jou na die Universiteit aangetrek? 

ʼn Paar jaar voor ek hier aangekom het, het 'n berugte artikel oor bruin vroue se intellektuele vermoë verskyn. Ek was deel van 'n groep buite die US wat my vir die terugtrekking van daardie artikel beywer het. Ons het 'n petisie saamgestel en binne 'n kort tydjie 10 000 handtekeninge regoor die wêreld ingesamel. Dit was buitengewoon. Die artikel is binne 'n maand teruggetrek. Dit was wonderlik. Dit was deel van die geskiedenis wat my na hierdie proses gebring het.

Die tweede rede was dat ek terugverlang het na die onderwys. Ek het 'n gemaklike werk gehad as direkteur van 'n navorsingseenheid en het as 'n navorsingsprofessor gewerk. Maar ná 'n rukkie het ek gedink ek wil teruggaan om ook metvoorgraadse studente, nie net nagraadse studente nie, te werk. Ek het verkies om hierheen te kom omdat Stellenbosch steeds probleme ondervind het rondom onder meer rassisme en seksisme, en dan natuurlik die taalkwessie.

Wat het jou gemotiveer om by die CIRCoRe-proses betrokke te raak?

Ek dink ek is genader vanweë my kundigheid – ek skryf nogal baie oor ras en rassisme in my akademiese en mediawerk. Ek skryf ook oor mans en seuns. Manlikheid is ʼn groot belangstelling. Sekere voorvalle op kampus het problematiese gedrag deur spesifiek mans behels, soos dié van die jong Afrikaanse man in 'n manskoshuis wat die sneller vir die Khampepe-ondersoek was.

Een van die belangrike institusionele uitdagings by die US draai ook om die idee van 'n sekere soort witheid. Selfs voor kinders skool toe gaan, leer hulle vooroordeel uit hoe hulle ouers met ander mense praat, hulle leer dit by bure, uit media en uit boeke. As jy verander hoe mense dink oor wat hulle leer oor witheid, oor wit identiteit, sal jy die identiteit van die instelling verander sodat dit nie meer as 'n uitsluitende wit universiteit gesien word nie, maar as 'n plek vir alle mense wat hier wil kom leer. Vir die CIRCoRe-proses lei ek die werkstroom oor institusionele kultuur wat fokus op die interaksie tussen die komplekse 'harde' infrastruktuur, insluitende die wetlike, beleids- en regulatoriese dimensies, en die ewe komplekse, 'sagter' aspekte van die instelling se funksionering.

Wat word bedoel met institusionele kultuur in die konteks van die Universiteit?

Institusionele kultuur verwys na hoe dinge gedoen word, hoe dinge lyk en hoe dinge binne 'n instelling voel. Dit kan in beleide en reëls en kodes neergeskryf word. Maar dikwels is dit iets wat oor 'n lang tydperk uit die praktyk na vore kom. Sommige instellings skryf dinge neer, maar ander instansies, soos gesinne, doen dit nie. Binne die Universiteit het jy formele beleide en reëls wat ons moet verander om dit meer inklusief te maak. Maar daar is ook ongeskrewe reëls. Dit is miskien selfs moeiliker om te verander, maar ons moet verander as ons wil leer, werk en wil saam leef. ,

As jy byvoorbeeld 'n nuwe personeellid is wat voorstel dat jy graag iets op 'n nuwe, meer doeltreffende manier wil doen, kan ʼn ou hand sê: “Nee, ons doen dit nie só nie, ons het dit nog altyd só gedoen." Ons wil verseker dat daar ook ontvanklikheid sal wees vir verandering in hoe ons dinge doen, daardie dinge wat ondoeltreffend, uitsluitend, skadelik, onmenslik en mimeties is, sodat ons meer doeltreffend, meer inklusief, meer kreatief kan wees, maar ook meer idees vir almal kan genereer. Hoe mense oor die Universiteit voel, blyk gekoppel te wees aan hoe die Universiteit lyk en hoe dit funksioneer. Studente moet weet dat hulle behoort, waar hulle ook al op die kampus loop. Die skep van verwelkomende ruimtes verg baie kreatiewe denke, nie net wetenskaplike of analitiese denke nie.

Kan jy meer van jou indrukke van die CIRCoRE-proses tot dusver vertel? 

Om aan 'n institusionele kultuur te werk voel asof ek vir mislukking bestem is, maar daar is ook 'n positiewe kant. Ek het hierdie proses betree met die wete dat die verandering van die kultuur van 'n instelling werklikwaar moeilik is. Dis makliker om beleid te verander. As jy praat van 'n instelling met 'n geskiedenis van meer as 100 jaar, is dit 'n uitdaging om te verander hoe dinge gedoen word, hoe hulle voel en hoe hulle lyk.

In die paar maande sedert ek die institusionele werkstroom begin fasiliteer het, was dinge belowend, intens en opwindend. Ons het gesprekke gevoer, ons het geleenthede aangebied, ons bring mense om oor institusionele kultuur en hoe om dit te verander te praat.  

Iets waaraan ek gereeld dink, is hoe om 'n luisterkultuur in te skerp wanneer ons sterk van mekaar verskil. Om goed na iemand anders te luister is 'n gevorderde vermoë en 'n kuns. Al het ek kundigheid as 'n akademikus en baie teoretiese kennis, is elke ontmoeting 'n leergeleentheid om hierdie vermoë te versterk. Ek hoop daardie oomblik sal aanbreek wanneer ons die kuns sal verdiep om na mekaar te luister, om te sê ons kan sterk oor sekere dinge verskil, maar ons kan steeds oor die kollektiewe visie van die Universiteit saamstem en dat ons danksy hierdie ervaring 'n beter universiteit sal wees. Twee jaar is 'n baie kort tyd om die CIRCoRe-proses te voltooi. Die versoek om 'n bydrae tot die Universiteit van die toekoms te lewer kon nie moeiliker gewees het nie, maar dit is opwindend.   

Hoe sou jy jou ervaring by die US beskryf?

Stellenbosch is die eienaardigste plek. Ek het ʼn geveg om elke hoek en draai verwag. Die vrygewigheid van sommige mense, nie net wat die leierskorps betref nie, maar ook van studente en kollegas, het 'n groot indruk gemaak. Hoewel ek daarvan bewus is dat daar steeds weerstand teen verandering is en 'n neiging om nie verwelkomend te wees jeens mense wat 'n sekere voorkoms het of 'n sekere taal praat nie, het dit my opgeval dat die universiteitsleierskorps daarvan bewus is dat ons oop vir verandering moet wees vir die US om 'n toonaangewende instelling te bly – nie net in Suid-Afrika, maar wêreldwyd.  

Dekolonisering beteken vir my diepgaande verandering. Daar is groepe mense in alle departemente wat sê “ons kan beter doen, ons kan Suid-Afrika, dalk selfs die wêreld, verander en die voortou neem oor hoe universiteite behoort te wees". Ek het dalk die Mandela Kool-Aid gedrink, maar ek glo Stellenbosch is die plek waar die meeste verandering gaan plaasvind oor hoe universiteite kan lyk.

FOTO: Stefan Els