Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
CIRCoRe-werkstroominsigte: Phila Msimang
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 05/12/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) het strukture in plek gestel wat op die aanbevelings van die Khampepe-kommissie sal fokus. Ons reeks onderhoude met sleutelpersoneellede wat die proses van die Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) by die Universiteit stuur, werp lig op die werk van die vyf werkstrome wat die toekoms van die Universiteit vorm. In hierdie onderhoud deel Phila Msimang insigte oor ʼn visie vir ʼn getransformeerde US.

Msimang is 'n dosent in filosofie aan die US en hoof van die CIRCoRe-werkstroom wat handel oor ras, menslike kategorisering en wetenskap. Sy akademiese belangstellings sluit onderwerpe in die filosofie van biologie en die filosofie van ras in. Sy huidige navorsing het ten doel om vrae te beantwoord oor hoe en onder watter omstandighede klassifikasies van gemeenskap, identiteit, sosio-politieke affiliasie, sosiale verskil en biologiese verskil veranderlikes van maatskaplike en wetenskaplike betekenis word.

Wat het jou gemotiveer om by die CIRCoRe-proses betrokke te raak?

In hierdie stadium gaan my werk hoofsaaklik oor ras en hoe ons die kategorie in verskillende maatskaplike en wetenskaplike kontekste gebruik. Die werkstroom wat ek lei, kyk na die gebruik van ras, menslike kategorisering en wetenskap in verband met hoe navorsing by die Universiteit gedoen word, die manier waarop hierdie konsepte in beleid gebruik word, asook hoe hierdie konsepte in die algemene Universiteitsgemeenskap gebruik word.

Ek word na hierdie werk aangetrek en ek dink dit belangrik  omdat ek die gevolge van die onvanpaste gebruik van kategoriserings in die wetenskap – soms met ʼn dodelike uitwerking – aanskou het. Een van die gebiede wat byvoorbeeld vir ons werk relevant is, is die gebruik van kategorieë soos etnisiteit en ras in geneeskunde en hoe dit gesondheidsuitkomste en selfs sterftesyfers beïnvloed. Hierdie werk is deel van die dinge waaroor ek gereeld professioneel dink en ʼn vraag wat aan my werkstroom gestel is.

Hoe funksioneer jou CIRCoRe-werkstroom om sy doelwitte te bereik?

Die werkstroom bestaan uit verskeie kundiges uit verskillende vakgebiede. Ons wou in staat wees om hierdie probleem vanuit ʼn multidissiplinêre en eintlik ʼn transdissiplinêre perspektief te beskou. Ons gebruik dus genetici, historici, filosowe soos ek, sosioloë, antropoloë en ander akademici wat met lewende en dooie mense en hul oorskot werk. Ons beoog om uit die kundigheid van al die mense binne die instelling te put wat aan hierdie vraagstukke werk, asook om hulpbronne en mense buite die instelling te betrek om die kwessie van die gebruik van ras- en menslike kategorisering in die wetenskap vanuit ʼn veelvlakkige perspektief te benader.

Wat dink jy is die waarde van hierdie proses?  

Die kwessies waarmee ons te doen het, is simptomaties van ongeneesde wonde van Suid-Afrika se breër samelewing. Die Universiteit het ʼn deel van die kwessie erken, asook hoe dit ʼn rol in die voortsetting van hierdie probleem speel. Die US is een van die eerste instellings waarvan ek weet wat ʼn transformasie-inisiatief met so ʼn wye omvang soos die CIRCoRe-proses geskep het om sekere kwessies aan te pak wat deur die aanbevelings in die Khampepe-verslag aangemoedig word. Ek was baie opgewonde om by hierdie inisiatief betrokke te raak. Soos wat ons vordering met die oplossing van hierdie kwessies vir onsself maak, bevorder ons nie net die wetenskap nie, maar help ons ook ander universiteite wat in ʼn soortgelyke posisie is, asook die breër samelewing.  

Die visie wat ons nastreef, is om ʼn samelewing te hê waar kategorieë soos ras, etnisiteit en geslag nie nadelig is of iets is wat iemand ʼn onregverdige voordeel bo ander mense gee nie. Ons wil ʼn samelewing hê waar mense in staat is om hulle ware self uit te druk en hulle volle potensiaal sonder die belemmering van diskriminasie te verwesenlik. Dit is iets wat ons ook in navorsing moet bekyk: Hoe beoefen ons ons navorsing op só ʼn manier dat ons ʼn gedeelde menslikheid nastreef wat mense sal laat floreer? Ons sal nie daar uitkom voordat mense op ʼn gelyke vlak is nie.

As ons veral na die US-gemeenskap kyk, wil ons graag uitkomste vir ons studente met die CIRCoRe-proses verbeter. Ons wil graag verseker dat mense gelyke geleenthede en gelyke kanse het om hulle potensiaal by die US te verwesenlik, ongeag hulle identiteit of agtergrond.

Tot watter unieke insigte het jy gekom deur deel van die transformasieproses te wees?

Iets wat dalk verrassend kan wees, is om te vind dat die meeste mense in hierdie gesprekke goeie bedoelings het. Desondanks skep hulle soms struikelblokke vir vordering omdat hulle in denkwyses vasgevang is wat nie bevorderlik is nie. ʼn Deel van die uitdaging om gesprekke oor transformasie te voer, is die hantering van die emosies van mense wat voel hulle word aangeval wanneer jy vir hulle daarop probeer wys dat goeie bedoelings tot onregverdige uitkomste kan lei.

FOTO: Stefan Els