Die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede Maatskappye is Sondag 3 Desember gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf Natasha Maclean en prof Lieketseng Ned van die Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies dat maatskappye wat op ontasbare aspekte fokus soos die kweek van 'n inklusiewe kultuur en om hulle handelsmerk te hervestig as 'n voorstander van gestremdheid, ook meer geneig is om inklusiewe werksruimtes te skep.
- Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Natasha Maclean & Lieketseng Ned*
Mense met gestremdhede is wêreldwyd nog onderverteenwoordig in die werkplek. Dit geld ook vir Suid-Afrika. Hoewel ons goedgedefinieerde wetgewing het, misluk ons nog steeds daarin om te verseker dat indiensnemingsdoelwitte vir mense met gestremdhede in die private én openbare sektor nagekom word. Wanneer ons op 3 Desember die Internasionale Dag vir Persone met Gestremdhede vier, moet ons die behoefte aan gestremdheidsinklusiewe indiensneming beklemtoon – iets wat al hoe meer aandag begin kry in reaksie op hierdie onderverteenwoordiging.
Te midde van die riglyne en beleide soos die Riglyne vir Tegniese Bystand oor die indiensneming van mense met gestremdhede – wat spesifieke riglyne oor aanvaarbare huisvesting (AH) en billike werwingsprosesse insluit – sukkel maatskappye nog steeds om genoeg mense met gestremdhede te werf en aan te stel om die doelwitte vir billike indiensneming te bereik. Afgesien van sistemiese uitsluiting en ander hindernisse wat mense met gestremdhede ondervind, weet baie maatskappy moontlik nie hoe om indiensneming wat gestremdheidsinklusief is, te fasiliteer nie.
Ons het teen hierdie agtergrond 'n gevallestudie onderneem om faktore te identifiseer en te ondersoek wat 'n maatskappy in staatsbesit (SOE) in die Wes-Kaap in staat gestel het om hulle doelwitte vir billike indiensneming van mense met gestremdhede te bereik. Ons het op 'n streekstak van 'n SOE in die provinsie gefokus wat gedeeltelik deur die staat besit word. Die onderneming het 570 werknemers wat strek van die topbestuurder tot by die deurwagte en skoonmakers.
Ten slotte …
Dit het duidelik uit ons navorsingstudie geblyk daar is 'n groter waarskynlikheid vir maatskappye wat op ontasbare aspekte fokus soos die kweek van 'n inklusiewe kultuur en om hulle handelsmerk te hervestig as 'n voorstander van gestremdheid, om inklusiewe werksruimtes te skep. Wanneer hierdie doelwit bereik is, is dit makliker om die tasbare aspekte te fasiliteer, soos om te verseker dat werwings- en plasingsprosesse en begrotings inklusief is, dat fisiese ruimtes aangepas word en dat werknemers met tegnologiese hulpmiddele toegerus word om toeganklikheid moontlik te maak.
Ons glo daar kan baie geleer word by inklusiewe maatskappye ten opsigte van die nakoming van doelwitte vir billike indiensneming vir mense met gestremdhede. Ons studie sal hopelik werkgewers kan help om indiensneming vir mense met gestremdhede te vergemaklik en ook aan arbeidsterapeute leiding gee oor hoe om met werkgewers om te gaan en hoe om mense met gestremdhede beter toe te rus om die arbeidsmark te betree of om na die werkplek terug te keer.
- Foto deur Marcus Aurelius by Pexels.
*Natasha Maclean & Lieketseng Ned is verbonde aan die Sentrum vir Gestremdheids- en Rehabilitasiestudies in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.