Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wyn is ’n wenbelegging – US ontwikkel SA se eerste indeks vir goeie wyn
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 04/12/2023

Dit is algemene kennis dat niks beter verouder as 'n goeie wyn nie, en nou het 'n span van die Universiteit Stellenbosch finansiële kundigheid en wynkunde gekombineer om 'n indeks vir goeie wyn te skep wat die positiewe waarde van die drankie as beleggingsbate bewys.

Dr Mesias Alfeus, 'n dosent in Finansiële Risikobestuur in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, het saam met honneursstudente Anton Blignaut en Jean-Pierre Viljoen 'n referaat geskryf wat 'n beleggingsmodel vir goeie wyn in Suid-Afrika ondersoek. Dit is getiteld “Cheers to Enhanced Portfolio Performance: Wine as a Unique Asset Class" en is die eerste studie oor die positiewe invloed van wyn op portefeuljegroei en diversifikasie in die land.

“Hierdie navorsing verteenwoordig die aanvanklike suksesvolle poging om 'n wynindeks binne die Suid-Afrikaanse beleggingslandskap op te stel en sodoende 'n waardevolle bydrae tot die verskeidenheid finansiële instrumente wat beleggers tot hulle beskikking het, te lewer," sê die skrywers. “Die studie wentel om die evaluering van die langtermyngroeikoers van 'n portefeulje wat Suid-Afrikaanse goeie wyne as bates inkorporeer."

Volgens Alfeus het hulle vyf jaar se data van 30 goeie wyne in die studie gebruik om 'n indeks van SA se beste tien wyne te skep. “Ons het die Groei-Optimale Portefeulje-metodologie, gegrond op die maatstafbenadering, gebruik om die portefeulje se groeikoers te evalueer. Ons bevindinge dui daarop dat die nuutgeboude fynwynindeks as 'n uitstekende volmag vir die groei-optimale portefeulje dien."

Alfeus verduidelik dat die keuse van top-10 wyne vir insluiting in die wynindeks 'n “noukeurige proses" is wat noodsaaklike kriteria in ag neem. Dit sluit likiditeit – gemeet aan elke wyn se handelsvolume – en die geldwaarde van die wyne in. Die derde maatstaf is die kundigheid van die bekende wynkritikus Tim Atkin. “Dit verseker dat die gekose wyne nie net 'n goeie markwaarde het nie, maar ook konsekwente gehalte en aantrekkingskrag toon soos erken deur 'n betroubare gesaghebbende in die bedryf. Die kombinasie van hierdie drie kriteria waarborg dat die beste tien wyne in die indeks finansieel gesond is en vir hulle gehalte gerespekteer word, ten einde hulle verteenwoordigend van die wynmark se dinamika te maak." Die indeks sal kwartaalliks bygewerk word.

Die skrywers merk in die artikel op dat wyn 'n interessante risikolaag bevat wat dikwels in tradisionele bates oor die hoof gesien word. “Die aanloklikheid om jou oor te gee aan die bates waarin jy belê het, kan konvensionele beleggingstrategieë ontwrig. Dit beklemtoon die behoefte aan 'n genuanseerde benadering wat nie net die finansiële aspekte evalueer nie, maar ook die gedrags- en sielkundige dimensies van belegging in bates wat beide vir genot en belegging is."

Die studie hou kulturele en finansiële betekenis in, aangesien dit die belangrikheid van wyn in die plaaslike geskiedenis en identiteit beklemtoon. “Deur die skepping van hierdie wynindeks vier ons die ryk erfenis en potensiaal van die Suid-Afrikaanse wynbedryf op 'n wêreldverhoog," sê die skrywers. “Ons hoop hierdie baanbrekerspoging sal verdere navorsings- en beleggingsgeleenthede inspireer om die erkenning en waardering van Suid-Afrikaanse wyne in die plaaslike én internasionale finansiële markte te verbeter."

Om die volledige referaat te lees, klik hier: 'Cheers to Enhanced Portfolio Performance: Wine as a Unique Asset Class'