Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ramprisikokenners beraadslaag by eerste CARP-werksessie van Periperi U
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/12/2023

Die Periperi U-sekretariaat, wat in Universiteit Stellenbosch (US) Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika geleë is, het sy eerste werksessie as deel van die navorsingsprogram oor klimaatsaanpassing (CARP) by Ardhi-universiteit in Dar es Salaam, Tanzanië, aangebied. Die doel van die geleentheid, wat van 30 Oktober tot 2 November 2023 gehou is, was om die CARP-gemeenskap te help bou. Dié gemeenskap bied sowel nuweling- as gevestigde Afrikavakkundiges op die terrein van klimaatsaanpassing 'n platform om netwerke te vorm, te skakel en saam te werk.

Onder die 70 deelnemers was ook Tanzaniese staatsamptenare, wat beklemtoon hoe belangrik skakeling tussen risikoverminderingspraktisyns en beleidvormers is om die vasteland se klimaatsaanpassingsuitdagings die hoof te bied.

Oorgrenssamewerking

CARP word in vennootskap met die projek Humanitarian Assistance Technical Support (HATS) by die Universiteit van Arizona bestuur en deur die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) gefinansier. Die doel is om toegepaste navorsing oor klimaatsaanpassing in Afrika te ondersteun, met 'n bepaalde klem op die implikasies vir ramprisikoverminderingsbeleid en -strategie.

Benewens Tanzanië, was lande soos Suid-Afrika, Senegal, Nigerië, Algerië, Kenia, Uganda, Madagaskar, Ethiopië, Kameroen, Marokko, Rwanda en die Verenigde State by die sessie verteenwoordig. Ontluikende akademici van die 33 CARP-navorsingsprojekte wat tans in tien Afrikalande onderneem word, was ook daar. Die werksessieprogram het uit etlike gespreksessies, groepaktiwiteite en navorsingsplakkaataanbiedings bestaan, sowel as uitstappies na projekterreine waar navorsers aan oplossings werk om Dar es Salaam se kwesbaarheid en risiko vir oorstromings te verminder.

CARP-uitbreidingsplanne nou amptelik

Die Periperi U-sekretariaat en die Universiteit van Arizona het boonop van die geleentheid gebruik gemaak om 'n ooreenkoms te onderteken om CARP tot en met 2028 uit te brei. Die uitgebreide inisiatief, CARP-PLUS, met sy bykomende begroting van $2,05 miljoen sal méér finansiering beskikbaar stel vir noodsaaklike navorsing oor klimaatsverandering en ramprisiko, reis na belangrike strategiese geleenthede, en borgskappe om opleiding oor die hele vasteland by te woon. 

Die volgende CARP-werksessie vind in 2024 in Addis Abeba, Ethiopië, plaas.