Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Molekulêre bioloog nuwe dekaan van Natuurwetenskappe aan die US
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 01/12/2023

Prof Burtram C Fielding, 'n molekulêre bioloog en produktiewe navorser verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sal sy termyn as nuwe dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) op 1 April 2024 begin. Hy volg in die voetspore van Prof. Louise Warnich – sy het vir die afgelope dekade die Fakulteit as dekaan gelei.

Fielding, wat in die molekulêre biologie van siektes soos virusinfeksies en kanker spesialiseer, is tans die dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe en professor in molekulêre biologie in die Departement Mediese Biowetenskappe aan die UWK.

Hy het onder meer 'n PhD aan die UWK en 'n MPhil in Bestuursafrigting (cum laude) aan die Stellenbosch Bestuurskool verwerf.

Van die vorige poste wat hy beklee het, sluit Direkteur: Departement Navorsingsontwikkeling en professor in Virologie, Departement Mediese Biowetenskappe in, terwyl hy van September 2016 tot Maart 2017 as Viserektor: Navorsing en Innovasie (waarnemend) gedien het – almal by UWK. Fielding het van Maart 2003 tot Februarie 2006 as navorsingsgenoot by die toonaangewende Instituut vir Molekulêre en Selbiologie, Singapoer, gewerk.

Hy dien op verskeie institusionele en navorsingsverwante komitees by die instelling. Fielding spog met 'n robuuste publikasie- en aanbiedingsgeskiedenis en beklee verskeie vaktydskrifredaksie- en resensentposte, asook professionele direksie- en wetenskaplike komitee-aanstellings.

Hy tree as studieleier op vir PhD-, MSc- en BSc Hons-studente en het tot 'n groot aantal boekhoofstukke en eweknie-geëvalueerde publikasies bygedra. Hy het ook al verskeie beurse en wetenskaplike en akademiese toekennings ontvang.

As denkleier skryf hy gereeld vir die media en lewer hy kommentaar in die plaaslike en internasionale media, waarvan die mees onlangse werk oor die COVID-19-pandemie was.

“"My doelwit gaan wees om die fakulteit se aansien as spilpunt vir navorsingsuitnemendheid en -innovasie wat wêreldwyd erken word, te verbeter," sê Fielding. "Ek is daartoe verbind om deur strategiese beplanning en die bevordering van 'n verenigde visie die fakulteit se langtermyn-lewensvatbaarheid te bevorder en 'n organisasiekultuur te kweek wat waardes soos deernis, respek, billikheid, verantwoordbaarheid en uitnemendheid handhaaf."

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, sê sy sien uit na Fielding se bydrae. "Prof Fielding spog nie net met 'n stewige navorsings- en onderrig-agtergrond nie, maar ook met meer as twintig jaar se akademiese leierskap in hoër onderwys. Afgesien van 'n bewese rekord in onder meer fondsinsameling, internasionale wetenskaplike samewerking en suksesvolle transformasie- en sosiale-impak-inisiatiewe, beskik hy ook oor al die leierskapsvaardighede wat nodig is om die Fakulteit Natuurwetenskappe na die volgende vlak te neem, asook om die studente se ervarings te verbeter en interdissiplinêre navorsing met die twee Skole vir Klimaatstudie en Datawetenskap en Rekenaardenke te bevorder.

“Ek wil graag die Senior Aanstellingskomitee, onder voorsitterskap van die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, bedank vir hul werk om die suksesvolle voltooiing van die proses te verseker."

Sy voeg by dat die Universiteit veral baie dank aan prof Louise Warnich verskuldig is. Haar tweede en laaste termyn as dekaan sal einde Maart 2024 ten einde loop. "Gedurende haar dekade as leier van die Fakulteit Natuurwetenskappe het sy 'n belangrike rol gespeel om die Fakulteit as 'n internasionale rolspeler te posisioneer. In hierdie proses het sy groot klem op die ondersteuning en ontwikkeling van die kosbaarste bates van die fakulteit – die personeel (akademies en PASD) en studente – gelê. Sy het saam met haar bestuurspan op verskeie vlakke 'n beduidende bydrae tot die ontwikkeling en ondersteuning van die volgende generasie Suid-Afrikaanse wetenskaplikes gelewer."