Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Geslagsgebaseerde geweld: ‘US verbind tot veilige, inklusiewe en respekvolle omgewing’
Outeur: Compiled
Gepubliseer: 30/11/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) ondersteun ten volle ’n standpunt van geen verdraagsaamheid teenoor geslagsgebaseerde geweld (GBG). Dus ondersteun die Universiteit die veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders wat van 25 November tot 10 Desember 2023 duur. Hierdie veldtog val saam met die Verenigde Nasies se 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgebaseerde Geweld.


Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het beklemtoon die US handhaaf ’n standpunt van geen verdraagsaamheid teenoor GBG en is daartoe verbind om ’n veilige, inklusiewe en respekvolle omgewing binne die gemeenskap sowel as daarbuite te kweek.

“Kom ons verbind ons saam daartoe om die veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders te ondersteun en om alle vorms van GBG op ons kampusse uit te wis. Ons gesamentlike optrede sal tot ’n veiliger en regverdiger gemeenskap vir almal bydra.

“Ons is ook baie trots op die US INSPIRE-fasiliteit wat onlangs as deel van die nuwe Stellenbosse GBG-sentrum in Idasvallei, Stellenbosch gestig is,” het prof Ramjugernath gesê.

INSPIRE staan vir die inisiatief vir geen geweld, ondersteuning, voorkoming, intervensie, navo​rsing en opvoeding. Die US se INSPIRE-fasiliteit, wat toegespits is op navorsing en opvoeding, het tot stand gekom met die samewerking van die Ring for Peace Cape Trust, die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, die Departement van Gesondheid en die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Die Stellenbosse GBG-sentrum gaan vier inisiatiewe huisves: Die INSPIRE-fasiliteit (geadministreer deur die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid, ’n NGV-Thuthuzela-sorgsentrum, uitgebreide noodverblyf vir slagoffers van GBG, en die Ring for Peace Cape Trust se GBG-sentrum, as die koördineerder van die gesamentlike projek.


Wysigings aan wetgewing
Ten einde GBG te hanteer, het die Suid-Afrikaanse regering die noodreaksie-aksieplan vir GBG en vrouemoord in werking gestel, wat die versterking van die wetlike raamwerke en reaksie op GBG en vrouemoord in Suid-Afrika insluit. Een van die sleutelaspekte hiervan is wysigings aan die Wysigingswet op die Strafreg (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2007 (Wet 32 van 2007), wat ’n direkte invloed op die Universiteitsgemeenskap het. Dié wet verplig die aanmelding van seksuele misdrywe teen vroue jonger as 25 jaar.

Alle lede van die US-gemeenskap het ’n rol om te speel in die handhawing van die wet, om die welstand van ons mede-gemeenskapslede te verseker en om aktief ’n kultuur van geen verdraagsaamheid teenoor GBG te bevorder. Indien iemand bewus sou word van, of redelikerwys glo of vermoed dat ’n seksuele misdryf teen ’n vrou jonger as 25 gepleeg is, is dit sy/haar wetlike plig om dit dadelik by die polisie aan te meld.

Dit is verstaanbaar dat hierdie wysiging vrae en bekommernisse kan laat ontstaan. Om enige navrae of onsekerhede uit die weg te ruim, word studente en personeel aangemoedig om vertroud te raak met die gewysigde wetgewing (Wysigingswet op die Strafregwysigingswet (Seksuele Misdrywe en Verwante Aangeleenthede), 2021 (Wet 13 van 2021), advies in te win indien nodig, en, bowenal, in ooreenstemming met die wet en die Universiteit se waardes​ op te tree. Tree gerus ook met die Eenheid vir Gelykwaardigheid in verbinding.

Ondersteuning vir US-gemeenskap
Die Eenheid vir Gelykwaardigheid, wat gesetel is in die Verantwoordelikheidsentrum vir Leer en Onderrig, implementeer die US se beleide oor teistering en diskriminasie en verskaf verskeie dienste en ondersteuning aan studente en personeel.

Die Universiteit se ondersteuningstrukture wat met GBG verband hou, sluit die volgende in:
Ondersteuningsdiens vir die bekamping van gendergeweld: Die Eenheid het ’n toegewyde koördineerder vir die bekamping van gendergeweld wat help om bewustheid oor gendergeweld te skep en te verhoog. Die Eenheid bied opleiding aan fakulteite, studentegemeenskappe, departemente, studente en personeel oor die bekamping van gendergeweld en gendervooroordeel.
Aanmelding en indiening van klagtes: Personeel en studente kan (amptelike of nie-amptelike) vertroulike klagtes indien oor onbillike diskriminasie, teistering, viktimisasie of mishandeling, of soortgelyke gedrag aanmeld. Gebruik gerus die Eenheid se instapdiens by Huis Simon Nkoli, Victoriastraat 39, Stellenbosch; stuur e-pos na unfair@sun.ac.za; of skakel 021 808 3136 om ’n afspraak te maak. ’n Toegewyde en professionele gevallebeampte vir die bekamping van diskriminasie en teistering sal jou help. Voorvalle kan ook hier op die aanlyn aanmeldingsplatform aangemeld word.
LGBTQIA+-ondersteuningsdienste: Die Eenheid bied berading aan lesbiese, gay, biseksuele, transgender-, queer-, interseks- en bondgenoot- (LGBTQIA+)-individue en gemeenskappe. Hulle hou gespreksgroepe en bied ondersteuning deur opleiding en ontwikkeling om ’n verwelkomende omgewing vir almal te skep en te bevestig.

Die Universiteit se Eenheid vir Gelykwaardigheid is daartoe verbind om GBG en verwante aangeleenthede aan te spreek en die US-gemeenskap te ondersteun. Klik hier​ om meer te lees oor die ander hulpbronne wat beskikbaar is. Meer inligting oor die verskillende aanmeldingsopsies by die US is hier te vind.

Foto: Personeellede van die US se Eenheid vir Gelykwaardigheid (van links na regs): Jaco Greef Brink, Hoof: Eenheid vir Gelykwaardigheid; dr Jill Ryan, Koördineerder: Teen-Gendergeweld; Michelle Munro, Bestuurder: MIV en Seksualiteite-portefeulje & Opleiding; Constance Matlholwa, Programkoördineerder: Seksualiteite en HIV-portefeulje; Qaqamba Mdaka, Gevalkoördineerder; Adrian Paulse, Administratiewe Beampte; en Larona Matee, Gevalbeampte.
Foto deur: Henk Oets