Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Woude kan meer koolstof opberg, maar fossielbrandstof-vrystellings moet verminder
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 30/11/2023

'n Nuwe studie deur honderde wetenskaplikes regoor die wêreld, insluitende die Universiteit Stellenbosch (US), het bevind dat woude wêreldwyd die potensiaal het om ongeveer 226 gigaton koolstof (226 Gt C) op te berg. Dit is genoeg koolstof om 'n gebied so groot soos Suid-Afrika en Switserland saam te vul. Om hierdie potensiaal te bereik, sal egter die bewaring, herstel en volhoubare bestuur van die uitgestrekte natuurlike en uitgedunde woude wêreldwyd vereis om ons te help om internasionale klimaat- en biodiversiteitsteikens te bereik.

Die studie, getiteld “Integrated global assessment of the natural forest carbon potential", het onlangs in die vaktydskrif Nature verskyn. Dit maak deel uit van 'n gesamentlike poging van die Globale Woudbiodiversiteitinisiatief om die wêreld se woud-ekostelsels te tel en te karteer.

Die internasionale span navorsers, onder leiding van die Crowther Lab by ETH Zürich (Switserse Federale Instituut vir Tegnologie), het 'n geïntegreerde assessering met behulp van 'n omvattende reeks benaderings, insluitend 'n reusehoeveelheid data wat op die grond verkry is en satellietdatastelle, gebou. Hulle wou die uitwerking van menslike grondgebruikverandering op woudkoolstofvoorrade wêreldwyd ondersoek.

“Ons het gevind die totale opberging van woudkoolstof is tans 328 Gt C onder die volle potensiaal daarvan. Van hierdie potensiaal bestaan 102 Gt C in stedelike gebiede, saaigebiede en permanente weidingsgebiede waar aansienlike herstel hoogs onwaarskynlik is. Tog is daar 'n potensiaal van 226 Gt C in bestaande woude," sê een van die medeskrywers, prof Cang Hui, bekleër van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Wiskundige en Teoretiese Fisiese Biowetenskappe by die US.

“Sowat 60% van hierdie potensiaal kan benut word deur bestaande uitgedunde woude te beskerm," voeg Hui by.

Volgens die wetenskaplikes beklemtoon dit die feit dat die voorkoming van ontbossing nie net tot die vermindering van koolstofvrystellings bydra nie, maar ook 'n groot koolstofsakkingpotensiaal het as ekostelsels toegelaat kan word om na wasdom terug te keer.

Hulle wys daarop dat mense tot dusver byna die helfte van die aarde se natuurlike woude verwyder het, en ons verloor steeds elke jaar 'n verdere 0,9-2,3 Gt C deur ontbossing, ongeveer 15% van die jaarlikse menslike koolstofvrystellings.

Die wetenskaplikes sê dit is noodsaaklik om die potensiaal vir koolstofopberging in natuurlike woude te verstaan ten einde die rol van hierdie woude in die bekamping van klimaatsverandering te begryp.

“'n Belangrike stap in die vermindering van ontbossing en die herlewing van ekostelsels is om 'n omvattende begrip te ontwikkel van die globale verspreiding van bestaande woudkoolstofvoorrade, asook die potensiaal vir koolstofherwinning indien uitgedunde ekostelsels toegelaat word om te herstel."

Hulle sê egter dit is belangrik om in gedagte te hou dat woude nie 'n plaasvervanger vir die vermindering van fossielbrandstofvrystellings kan wees nie.

Volgens die wetenskaplikes beklemtoon die kwesbaarheid van woude die dringendheid van die bewaring van bestaande ekostelsels sodat hulle hul koolstofpoelpotensiaal kan handhaaf, asook die dringende behoefte om die beloftes van geen ontbossing te handhaaf wat by die 26ste klimaatsveranderingskonferensie van die partye van die Verenigde Nasies (COP26) gemaak is, insluitend openbare en private sektorverbintenisse om die verlies aan woude so gou as 2025 te beëindig.

“Indien fossielbrandstofvrystellings aanhou styg, sal ekostelsels se kapasiteit om koolstof op te vang en te berg, deur klimaatsverandering-geïnduseerde faktore soos stygende temperatuur, droogte en brandrisiko's met CO2-bemesting bedreig word wat waarskynlik hierdie stelsel verder sal verander."

Die wetenskaplikes erken dat die beskerming en herstel van natuurlike woud-ekostelsels ingewikkelde sosiale, politieke en ekonomiese uitdagings is wat die ontwikkeling van grondbestuursbeleide en -praktyke vereis wat die regte en welstand van plaaslike gemeenskappe en inheemse mense prioritiseer en biodiversiteit in bestuurde stelsels bevorder.

“Ekostelsel-herstelinisiatiewe kan op die lange duur slegs volhoubaar wees indien gesonde biodiversiteit die voorkeurkeuse vir plaaslike inwoners is. Indien dit op 'n sosiaal- en ekologies- verantwoordelike manier gebou word, kan die bevordering van verskillend woude 'n aansienlike bydrae tot die bereiking van ons gekombineerde klimaat- en biodiversiteitsdoelwitte lewer."