Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Mededingende 'gaming' tel spoed op by US, die tuiste van die USSA e-Sport 2023-toernooikampioen
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 28/11/2023

​Meer as 'n 100 miljoen mense speel daagliks speletjies aanlyn (bekend as gaming), en nog meer mense neem tans aan e-sport deel as aan al die ander sportsoorte saam.

So sê professor Mark Campbell, 'n senior dosent en kursusdirekteur van die MSc Sport-, Oefening- en Prestasiesielkunde in die Departement Liggaamlike Opvoeding en Sportwetenskap aan die Limerick Universiteit, wat onlangs die Universiteit Stellenbosch (US) besoek het om insigte oor sportwetenskapnavorsing in e-sport te deel.

Die US is die tuiste van 74 e-sportspelers, en die Maties e-Sportspan het vanjaar sy titel by die jaarlikse nasionale Universiteitsport Suid-Afrika (USSA) e-sport-toernooi, wat by die Sol Plaatje Universiteit in Kimberley gehou is, suksesvol verdedig. Die span het 'n eerste plek in Rocket League, Clash Royale en die FIFA mans- en vroue-enkelnommers behaal. Kayla du Plessis was die enigste vrouemededinger wat die US in die FIFA-vrouenommer verteenwoordig het. Maties se Rocket League-span het nie 'n enkele wedstryd verloor nie en het 'n triomfantelike sege van 27-0 in een van sy nommers behaal. Die US het ook in Clash Royale as wenner uit die stryd getree met 'n span wat sy eerste vrouedeelnemer in hierdie dissipline ingesluit het.

Maties e-Sport maak voorsiening vir spelers wat mededingend wil deelneem én vir diegene wat dit net vir ontspanning doen, verduidelik Yaseen Gangat, sportbestuurder van die Maties e-Sportklub. “Die talent wat ons vanjaar gevind het, het die klub 'n stewige grondslag gegee en ons is opgewonde om aanstaande jaar weer ons titel by die USSA-kampioenskapsbyeenkoms in Durban te gaan verdedig." Volgens Gangat het die klub baie van sy sukses aan sy inklusiewe mededingende en ontspanningsomgewing te danke, wat talentvolle spelers in staat stel om te floreer.

John Walenga, wat die beste vir Maties by die USSA-toernooi gevaar het en as naaswenner in die FIFA-afdeling uit die stryd getree het, speel al vir meer as 12 jaar FIFA. "Ek speel FIFA omdat dit aanklank vind by my leefstyl. Ek is ook 'n groot sokkerliefhebber, so dit is lekker om saam met die spelers wat ek op TV sien, te kan speel." Walenga is reeds sedert Maties E-sport in 2022 tot stand gekom het, daarby betrokke. "Ek is mal oor hoe vry en oop [e-sport] is. Ek speel gewoonlik FIFA in my vrye tyd, so om iets te waarvoor ek lief is, kan as 'n sport te kan beoefen, is nóg beter. E-sportspelers benader elke stryd met dieselfde dissipline en toewyding as wat 'n mens van deelnemers aan tradisionele sportsoorte sou verwag. “Dit is 'n bedryf wat baie vinnig groei met geleenthede vir winsgewende loopbane," sê Walenga.

Oefening en dissipline

E-sport word net soos skaak as 'n "verstandsport" beskou en word deur Mind Sports South Africa geadministreer. E-sport is in 2019 deur USSA as 'n erkende universiteitsport op universiteitsvlak bekendgestel. FIFA, Clash Royale en Rocket League is die speletjies wat die meeste op hierdie vlak gespeel word. In verweer teen die siening dat e-sport “net speletjies" en nie 'n regte sportsoort is nie, sê Walenga die sport verg soms selfs meer konsentrasie en fokus van mededingende spelers as wat met fisieke sportsoorte die geval is, aangesien toernooie ure lank kan duur.

Campbell het in sy onlangse praatjie by die US verduidelik hoe Europa se eerste e-sportwetenskapsnavorsingslaboratorium in Lero aan die Universiteit van Limerick behulp van verskeie diagnostiese toetse bevind het dat spelers oor buitengewone vaardighede ten opsigte van beplanning, strategie, besluitneming en taakomskakeling beskik. Dit word verder met gereelde oefening en aanvullende fisiese oefening verbeter. Veranderlike oefening help om spelers se tellings te verbeter, sê Campbell.

Kimara Singh, Maties Sport se media- en kommunikasiebestuurder, sê e-sportspelers oefen “ure aaneen" om voor te berei om aan die onderskeie gespesialiseerde wedstryde deel te neem. Toernooie vind byna elke tweede naweek plaas en is 'n belangrike deel van die voorbereiding vir 'n groot toernooi soos die USSA-kompetisie. Walenga deel sy oefenregime: “Om vir toernooie voor te berei, probeer ek soveel as moontlik oefenwedstryd speel om nuwe formasies en meganika te toets om vaardighede vir 'n skuif te vervolmaak."

Daar is natuurlik ook 'n pret-faktor aan speletjies verbonder, aangesien e-sport ook een van die vinnigste-groeiende sportsoorte wêreldwyd is, wat winsgewende geleenthede en aantreklike prysgeld bied. Maties e-sportspeler Ethan Dysel is 'n mededingende speler vir Limitless, 'n professionele e-sportspan in Amerika. Hierdie span word as die beste Rocket League-span in Afrika beskou, verduidelik Gangat, en is die enigste een wat na die $45 miljoen-Gamers8-byeenkoms in Saoedi-Arabië uitgenooi is. "Dit is fantastiese nuus vir Maties E-sport, want dit sal ander klublede inspireer en hulle die ware potensiaal van e-sport wys." Soms neem Dysel elke twee weke aan 'n toernooi deel, en die prysgeld kan meer as $20 000 beloop wat deur agt spanne gedeel word.

Vroue en e-sport

Hoewel Azola Sikisi sê sy het haar in kinderjare “'n dosyn 50-sentmunte gemors" op speletjies soos Pac-Man in haar buurt se tydelike arkade te speel, het die “opleiding" beslis vrugte afgewerp en is sy nou een van 20 vroue wat die US in die ontembare Maties E-sportspan verteenwoordig. In teenstelling met die stereotipering dat slegs tienerseuns van gaming hou, het Campbell in sy praatjie opgemerk dat die gemiddelde ouderdom van gamers wêreldwyd ouer as 34 is, met die geslagsverdeling wat wêreldwyd byna 50/50 is.

Hoewel dit soms vir vrouespelers moeilik mag wees om hulle nis te vind omdat baie van die mees gevierde speletjies in e-sport geneig is om vir mans voorsiening te maak, groei die vrouegamergemeenskap volgens Sikisi geleidelik. Gangat stem saam en sê Maties het vroeër vanjaar 'n FIFA- en Mortal Kombat-toernooi slegs vir vroue aangebied. “Ons het baie meer werk om te doen om die vroulike gaming-gemeenskap by die US te laat groei, maar dit is 'n goeie begin."

Deur organisasies soos Mind Sport South Africa en die Konfederasie van Afrika-e-sport baan Suid-Afrika 'n weg vir e-sport op die vasteland. As een van die suksesvolste universiteite in die e-sportarena, is die US ook in die finale beplanningsfase van 'n moderne e-sportsentrum op sy Stellenbosch-kampus. Daar word gehoop dat die wêreldklaslokaal sal help om meer e-sporttalent na die US te lok. “Maties E-sport het 'n paar professionele spelers, waaronder Dysel en Ian Conradie, wat as van die beste Rocket League-spelers in Afrika beskou word. Ons is altyd op soek na die beste talent," sê Gangat.​