Wêreldtoiletdag is op 19 November gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian doen dr Jo Barnes (Departement Globale Gesondheid) ʼn beroep op die regering om te verseker alle Suid-Afrikaners het toegang tot veilige toilette en behoorlike sanitasiegeriewe.
- Lees die vertaalde weegawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.
Jo Barnes*
Gedurende koningin Victoria se bewind was daar talle onderwerpe wat nie in beleefde kringe bespreek kon word nie. Vandag het daardie lys dramaties gekrimp, maar een gespreksonderwerp ontlok steeds ongemak, of anders, smaaklose grappies – die toilet.
Sanitasie is noodsaaklik vir oorlewing. Volgens die Verenigde Nasies (VN) leef 4,2 miljard mense sonder veilige sanitasie, terwyl 673 miljoen steeds oop ontlasting beoefen en drie miljard nie basiese handewasgeriewe het nie. Hierdie sanitasiekrisis beteken onbehandelde of swakbehandelde menslike riool versprei siektes in watervoorrade en die voedselketting vir miljarde mense. Hierdie sanitasiekrisis veroorsaak jaarliks na raming 432 000 sterftes weens diarree.
Die groot voordele wat aandag aan veilige toilette inhou, kan nie weggeredeneer word nie. Oor die afgelope twee eeue het veilige toilette gemiddeld 20 jaar by die lewensduur van mense gevoeg.
Die VN het aangekondig dat ons wêreldwyd nie op koers is om die volhoubare ontwikkelingsdoelwit 6 te bereik om sanitasie en water vir almal teen 2030 te verseker nie. Finansiering skiet tekort, die vraag neem toe, waterbesoedeling vererger en bestaande bestuurstrukture om hierdie probleme te hanteer, is dikwels swak en gefragmenteerd. Arm en gemarginaliseerde mense is baie meer geneig om nie veiligbestuurde sanitasiedienste te hê nie en staar dikwels baie vorme van diskriminasie in die gesig. Hulle kan agtergelaat word as hulle probeer om met hul eie karige hulpbronne toegang tot sanitasiedienste te verkry, dit te bestuur of hulle huidige fasiliteite te verbeter. Dit is nie verbasend dat die VN se slagspreuk vir vanjaar se Wêreldtoiletdag (19 November) “Laat niemand agter nie" is nie.
Dit is werklik moeilik om betroubare data oor die stand van sanitasiedienslewering in Suid-Afrika te bekom. Daar word klem gelê op watervoorsiening en infrastruktuur, maar alle aspekte van sanitasie kry bykans geen aandag nie en word dikwels bloot uit amptelike verslae weggelaat. Dit is al klaar 'n aanduiding van diep strukturele probleme aan die kant van die regering.
Die gebrek aan toegang tot water en sanitasie het 'n ongelyke invloed op kwesbare groepe soos vroue, kinders, bejaardes en mense met gestremdhede. Die Suid-Afrikaanse regering volg nie 'n menseregtegebaseerde benadering tot dienslewering van veral sanitasiedienste en infrastruktuur nie. Daarbenewens is daar wydverspreide sistemiese mislukkings in staatsbestuur en begroting, veral in plaaslike owerhede – die einste arm van die regering wat die direkste by die lewering van veilige en bekostigbare sanitasie aan mense betrokke is – faal ons op groot skaal.
Ten slotte …
My kommer is dat sommige mense in die middel- en hoërinkomstegroepe sal probeer om hierdie diens op hul persele oor te neem. In sommige gemeenskappe waar munisipale stelsels totaal in duie gestort het, het die inwoners hulle betaling aan die munisipaliteit begin weerhou, die geld bymekaar gegooi en self die bestuur van hierdie stelsels oorgeneem. Hoewel dit die werking van sulke stelsels drasties verbeter het, is daar regs- en bedryfsimplikasies. Dit open ook die deur vir die weerhouding van dienste aan diegene wat nie kan betaal nie, wat sodoende die sosiale ongeregtigheidsaspek aansienlik verhoog.
Ek wens ek kon maklike oplossings vind om voor te stel. Die beste wat ek kan aanbeveel, is gesamentlike en ernstige druk op die plaaslike politici om die werking van ons munisipaliteite te verbeter. Die regering moet baie ernstig kyk na die aanspreeklikheid en kwalifikasies van die amptenare wat aan die bestuur van hierdie stelsels toevertrou is. As dit geïgnoreer word, staar die land 'n groot ramp in die gesig, wat beide die uitbreking van siektes en omwenteling in ons gemeenskappe insluit. Die regering is gewaarsku en ons wag.
- Foto deur Point3D Commercial Imaging Ltd by Unsplash
*Dr Jo Barnes is 'n senior dosent-emeritus in die Departement Globale Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan Universiteit Stellenbosch.