Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
KI in Afrika gaan oor mense, taal en kontekstuele innovasie – en die hoër onderwys kan help
Outeur: Dr Jan Petrus Bosman
Gepubliseer: 13/11/2023

​Kunsmatige intelligensie (KI) in Afrika gaan oor mense. As die Universiteit Stellenbosch (US) se verteenwoordiger in AHEEN, is ek getref deur die verhaal van 'n datawetenskap-intern in 'n Keniaanse vlugtelingekamp. Sy het saam met 'n studentesteunorganisasie onder vlugtelingebestuur gewerk en haar datawetenskapkennis en -vaardighede in die organisasie en op die probleme van die dag toegepas. Die terugvoer oor haar werk was ongelooflik en het gewys wat 'n groot verskil 'n vaardige gegradueerde in selfs 'n kort tydjie kan maak. KI in Afrika behoort te konsentreer op ons talentvolle en vindingryke mense wat hulle KI-verwante datawetenskapvaardighede kan gebruik om meetbare verandering teweeg te bring waar dit die nodigste is.

KI in Afrika gaan oor taal. Die Diepleerindaba, die geesteskind van prof Vukosi Marivate van die Universiteit van Pretoria, en die KI-voetsoolvlakprojekte Masakhane en Lelapa AI wat daarmee saamhang, ontwikkel groot taalmodelle vir Afrikatale. Die projek word beskryf as “'n natuurlike taalverwerkingsgemeenskap op voetsoolvlak, vir Afrika, deur Afrikane". Hier sien ons die krag van taal, wat so 'n uitstaande kenmerk is van ons diverse, meertalige vasteland. Bestaande groot taalmodelle (soos ChatGPT) is op Engels en Westerse tale gerig. Daarteenoor help vestig hierdie projekte 'n Afrikagerigte taal-, denk- en filosofiebenadering tot die skep van KI-stelsels. Plaaslik ontwikkelde KI-instrumente sal ons Afrikamanier van dink en doen beter ondersteun en ons insigte aan die wêreldgemeenskap kan oordra. Sodoende kan ons 'n meer gedekoloniseerde toekoms skep waarin KI-stelsels as't ware in Xhosa, Zulu, Sotho, Afrikaans, Arabies, Swahili, ensovoorts dink om alle Afrikagemeenskappe gelyke en regverdige inligting, leer, dienste en geleenthede te bied.

 KI in Afrika gaan oor innovasie en kontekstuele entrepreneurskap. In sy kursus oor kontekstuele innovasie en entrepreneurskap wat hy vir die agriwetenskappebedryf ontwikkel het, het dr Albert Strever (US) doelbewus KI-instrumente soos ChatGPT en QuillBot by die studente se kurrikulum en leeraktiwiteite ingesluit. Op dié manier het hy in die studente se KI-geletterdheid belê en hulle voorberei op 'n nabye toekoms waar die vraag nie sal wees of mense deur KI vervang sal word nie, maar of mense mét KI mense sónder KI sal vervang (prof Karim Lakhani). Dosente behoort leiers te word deur die KI-insigte van hulle vakrigtings by hulle eie onderrig, leer en assessering in te sluit. En natuurlik moet dosente self ook oor KI in die hoër onderwys leer!

KI-instrumente is deesdae tot alle hoëronderwysrolspelers (studente, dosente en steunpersoneel) se beskikking. Deur op mense, taal en kontekstuele (Afrikagerigte) innovasie te konsentreer, kan die hoër onderwys in Afrika 'n enorme bydrae namens die globale suide lewer. Daar is 'n magdom nuwe sosiale entrepreneursidees wat wag om met die hulp van ons rekenaar-, data- en masjienleerwetenskaplikes verwesenlik te word sodat die samelewing daarby kan baat vind.

 Ek sluit af met die grondfilosofie van die Diepleerindaba, waarby ek sterk aanklank vind:

 “Ons doel is dat Afrikane nie net waarnemers en ontvangers van voortgesette KI-ontwikkelings sal wees nie, maar ook aktiewe bydraers tot en eienaars van daardie tegnologiese ontwikkelings."