Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Onderriggenootskappe 2023
Outeur: Dr Karin Cattell-Holden
Gepubliseer: 07/11/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) se onderriggenootskappe bied aan vooraanstaande akademici wat by onderrig-leer-assessering (OLA) en die akademieskap van onderrig en leer betrokke is die geleentheid om hulle OLA-kundigheid op departementele, fakulteits- en institusionele vlak met die nodige ondersteuning oor ʼn tydperk van een tot drie jaar te verryk en te deel.

Die Universiteit het, sedert die aanvang van die projek in 2009, reeds 20 genootskappe toegeken. In 2023 het twee genote by die huidige groep, bestaande uit prof Susan van Schalkwyk (SGBO, FGGW), prof Deborah Blaine (Ingenieurswese), prof Gretha Steenkamp (EBW), dr Taryn Bernard (FLSW) en dr Marnel Mouton (Natuurwetenskappe), aangesluit:

1.       Prof Dennis Francis

Prof Francis is professor in sosiologie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe en ʼn internasionaal erkende vakkundige op die gebied van onderrig en leer. Hulle navorsing en onderrig fokus op die sosiokulturele dimensies van gender en seksualiteite, in die besonder hoe cisheteronormatiwiteit en maatskaplike ongelykheid deur opvoedkundige strukture, diskoerse en praktyke voortgesit word en hoe hierdie strukture, diskoerse en praktyke ook weerstaan en uitgedaag kan word.

 

Prof Francis se eerstejaarstudente besin oor hulle ervaring van die heteronormatief-oorheersde Suid-Afrikaanse skoolstelsel en samelewing. In hulle projek vir hierdie onderriggenootskap ontleed prof Francis hierdie verhale om te takseer hoe studente hierdie opvoedkundige ruimtes en norms navigeer, weerstaan en ontwrig. Prof Francis ondersoek spesifiek hoe studente in ʼn eerstejaarsmodule van sosiologie queer en transgender jeug konstrueer, op homofobie en transfobie in opvoedkundige ruimtes reageer, en maatskaplike verandering ten opsigte van hierdie kwessies konseptualiseer.

 

Die impak van prof Francis se genootskapsprojek sal verreikend wees en nie slegs die akademieskap van onderrig en leer aan die US bevorder nie, maar ook kritiese besinning oor maatskaplike en institusionele norms wat uitsluiting aankweek, versterk en sodoende tot betekenisvolle institusionele transformasie bydra.

 

2.      Prof Nicola Plastow

Prof Nicola Plastow is professor in arbeidsterapie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Sy is ʼn bekende navorser van onderrig en leer in die konteks van geestesgesondheid en welstand in volwassenes en bejaardes, en maak gebruik van ʼn maatskaplikegeregtigheidsbenadering wat kritiese burgerskap as ʼn pedagogie insluit.

Prof Plastow se genootskapsprojek beoog om ʼn gemeenskapsinteraksieprojek ter bevordering van maatskaplike deelname en arbeidsgeregtigheid vir ouer mense in Bishop Lavis te vestig en dan die impak daarvan te evalueer. Prof Plastow sal ʼn nuwe kliniese plasingsgeleentheid vir haar studente ontwikkel by ʼn aftreeoord vir ouer mense wat onafhanklik kan woon, om studente se perspektief op ouer word, ouer mense en die lewe in ʼn laeinkomstegebied van Kaapstad uit te daag – en te transformeer – sodat hulle nuwe maniere van ʼn arbeidsterapeut wees, kan ontdek.

Prof Plastow se projek hou sterk verband met die US se fokus op ʼn verskil in die samelewing maak. Dit sal onderrig en leer aan die US verryk deur die ontwikkeling van die graduandi-eienskappe om ʼn dinamiese beroepspersoon en betrokke burger te raak. Die projek sal nie slegs ʼn beduidende effek op studenteleer ten opsigte van hulle studies hê nie, maar ook op hulle beroepslewens en hulle lewens as sorgsame en bewuste lede van die samelewing. 


Verdere inligting oor die Onderriggenootskappe is beskikbaar van dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za. ​​​​