Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US mediese student voltooi 1 500 km fietsrit om medestudente se studieskuld te help delg
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 06/11/2023

In 'n week toe die vreugdesvure in Suid-Afrika hoog gebrand het oor die Springbokke se skouspelagtige oorwinning in die Wêreldbeker-rugbytoernooi, is nog 'n prysenswaardige prestasie deur 'n beskeie Universiteit Stellenbosch (US) student behaal. Sarah Camp (25), 'n finalejaar mediese student van die Tygerberg-kampus, het op 4 November in Hillcrest net buite Durban in KwaZulu-Natal (KZN) aangekom nadat sy tien dae lank van Worcester deur Suid-Afrika fietsgery het – 'n afstand van meer as 1 500 km.

Geïnspireer deur prof Thuli Madonsela se inisiatiewe om studente se universiteitskuld te help verlig, het die jong dokter-in-wording 'n veeleisende reis voltooi om geld in te samel vir #Action4Inclusion, 'n studenteskuldverligtingsinisiatief deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (SSG) aan die US.

Om Camp se prestasie in perspektief te plaas: Teen 'n gemiddeld van 150 km per dag het sy vir tien dae aaneen daagliks verder as deelnemers aan die Kaapstad-fietstoer gery. Oftewel 'n Suid-Afrikaanse weergawe van die Tour de France kafgedraf, en dit as amateur! “Geen wonder my sitvlak voel nogals voos nie!" sy het geskerts met haar tuiskoms by haar ouerhuis in Hillcrest.

Madonsela, direkteur van die SSG, was een van die eerste mense wat Camp gelukgewens het. “Dit was wonderlik toe ons nuus ontvang het van Sarah se voorneme om 'n fietsrit te onderneem ter ondersteuning van ons Pelgrimstog van Hoop, wat 'n uitvloeisel is van ons #Action4Inclusion skarebefondsingsinisiatief. Ek was diep geraak deur haar goedhartigheid en het dadelik aan my SSG-span genoem dat ons haar moet ondersteun.

“Sarah se rit hou die vlam van hoop aan die brand tot tyd en wyl ons Pelgrimstog van Hoop hervat word van 20 Januarie tot 2 Februarie volgende jaar. Sarah se gebaar is gegrond in ubuntu en diepe menslikheid. Sy volg die voorbeeld van die US se rektor en visekansellier prof Wim de Villiers, ook 'n dokter wat fietsry en stap om geld in te samel vir voedselsekuriteit en hom beywer om studenteskuld te verlig sodat studente hul studies kan voltooi.

“Sy volg ook in die voetspore van prof Karin Baatjes van Tygerberg wat vroeër vanjaar deur staptogte meer as R100 000 ingesamel het om minderbevoorregte studente te help. As SSG is ons trots om met Sarah verbind te wees en ons is geïnspireer deur haar deernis en onbaatsugtige diens aan die mensdom. Ons hoop sy motiveer ander Maties en mense buite die Universiteit om ook 'n verskil te maak," het Madonsela gesê.

Camp het al vantevore haar uithouvermoë op die proef gestel en haar staal gewys. Sy het het meer as 230 km te voet afgelê in die Drakensberge en die lengte van die Teemsrivier (330 km) in 'n kano geroei in Engeland. Vroeër vanjaar haar sy haar eerste Comrades Marathon aangedurf.

Camp se epiese fietstog het douvoordag op 26 Oktober begin by die US se Ukwanda Mediese Skoolkampus in Worcester. Sy het kort ná middagete op Saterdag 4 November haar ouerhuis in KZN bereik. Oor tien dae het sy die breedte van die land deurkruis – van die Wes-Kaapse wynlande, deur die dorre Karoo-hartland, oor die golwende heuwels en ruie berge van die Oos-Kaap en uiteindelik af na die lowergroen ooskus van KZN. Sy het verskeie van Moeder Natuur se uitdagings dapper trotseer – sonskyn, wind en reën – en het in die proses meer as R20 000 ingesamel vir die verligting van studenteskuld op haar fondsinsamelingsplatform op GivenGain.

“Ons gradeplegtigheid is net om die draai maar vir baie van my klasmaats is daar min rede vir vrolikheid, want hulle sal nog lank moet spook om hul studieskuld te betaal," het Camp verduidelik. Ek is geïnspireer deur my medestudente, maar veral ook prof Madonsela se Pelgrimstog van Hoop. Dit het my laat besluit om 'n reis van my eie aan te pak. Dis hoe dit gebeur het dat ek 1 500 km per fiets aangedurf het ten bate van studenteskuldverligting."

Camp is passievol om studente te ondersteun wat nie vir die volgende akademiese jaar kan registreer nie weens uitstaande studiegelde, sowel as studente wat hul studies voltooi maar nie kan graadvang nie weens studieskuld.

"Toegang tot onderwys behoort nie van welvaart af te hang nie," het Camp gesê. “Op my beskeie manier wou ek my deel doen om talentvolle jong professionele mense te help om die loopbaan hupstoot te kry wat hulle verdien."

Camp moes talle struikelblokke van haar eie oorkom voordat haar avontuur kon begin. Sy moes eerstens haar professore oortuig om haar en die vriendin wat haar per motor begelei het, Bianca Tout (ook 'n mediese student) af te gee van hul hospitaaldiens. Sy moes seker maak al haar akademiese werk is op datum, sy moes 'n fiets leen en reëlings tref vir borgskappe vir brandstof en verblyf langs die pad, en laastens die belangrikste hindernis: om haar geliefdes te oortuig dat sy al die nodige veiligheidsmaatreëls sou tref tydens haar epiese reis (insluitend 'n veiligheidsbaadjie en 'n helder flikkerende lig om sigbaarheid op die pad te verseker.).

Ná 'n hartlike verwelkoming deur trotse familielede en haar hond Spencer, het Sarah gesê dit voel surrealisties om tuis te wees. “Ek kan nie glo dat ek nie môre weer op 'n fiets hoef te klim nie! Ek is so dankbaar vir almal wat die reis moontlik gemaak het, veral Bianca, vir al haar wonderlike ondersteuning op die pad. Dit was beslis 'n spanpoging – ek kon dit nie sonder haar gedoen het nie. Maar ek is ook ongelooflik baie dank verskuldig aan my ouers vir al hulle hulp, en ook aan prof Madonsela en Marna Lourens van SSG vir die petrolgeld. Ek is so dankbaar vir al die gawe mense regoor die land wat vir ons warm beddens gegee het om in te slaap. Ons het 'n pragtige land met gasvrye mense, en ek voel geseënd om Suid-Afrika per fiets te kon beleef terwyl ek vir #Action4Inclusion geld insamel. Ek hoop die reis het gehelp het om bewusmaking te skep en geld vir studente in te samel sodat meer verdienstelike jong Suid-Afrikaners toegang tot die onderwys kan kry wat hulle verdien. Almal van ons kan op ons eie klein manier 'n verskil maak," het Camp benadruk.

De Villiers het Camp ook gelukgewens en gesê haar vasbeslotenheid versinnebeeld die gees van die US-gemeenskap. “Ons is geweldig trots op haar vasberadenheid en toewyding om die kommerwekkende kwessie van studenteskuld aan te spreek. Haar inisiatief is 'n wonderlike voorbeeld van hoe studente 'n werklike impak kan maak, en dit sluit aan by ons Universiteit se kernwaardes van inklusiwiteit en toegang tot onderwys vir almal. As mede-fietsryer en dokter loof ek haar merkwaardige prestasie. Ons is geïnspireer deur haar passie om 'n verskil te maak."

Prof Elmi Muller, Dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het gesê die Tygerberg- en US-gemeenskap is geweldig trots op Camp. “Haar prestasie is werklik merkwaardig, nie net in terme van die indrukwekkende afstand wat sy afgelê het nie, maar ook die ongelooflike toewyding wat dit geverg het om 150 km per dag vir tien dae aaneenlopend te ry. Wat haar prestasie nog meer inspirerend maak, is die feit dat sy die merkwaardige reis onderneem het om geld in te samel vir haar medestudente. Sarah is 'n fantastiese voorbeeld van vasberadenheid en deernis en sy dien as 'n inspirasie vir ons almal."

Nadat sy die middag van haar tuiskoms 'n welverdiende blaaskans geniet het, moes Camp summier begin voorberei vir haar terugtog (hierdie keer darem per motor!) Worcester toe die volgende dag (5 November) om die laaste week van haar finale mediese eksamens af te lê.

  • Mense kan steeds bydraes maak tot Camp se geldinsamelingspoging deur 'n skenking te maak op haar aanlyn GivenGain-profiel.