Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studentesake smelt twee sentrums saam en skep nuwe Sentrum vir Studentelewe en Leer
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 02/11/2023

'n Transformatiewe skuif binne die Afdeling Studentesake (STS) het plaasgevind deur die samesmelting van twee van sy drie sentra – die Sentrum vir Studenteleierskap, Ervaringgerigte Opvoeding en Burgerskap (SSLEOB) en die Sentrum vir Studentegemeenskappe (SSG) – in 'n enkele eenheid, wat as die Sentrum vir Studentelewe en Leer (SSLL) sal bekendstaan. Die Sentrum se naam is gister (1 November 2023) onthul.

Dr. Choice Makhetha, Senior Direkteur van die STS, het gesê slotopmerkings vervat in die Khampepe-kommissieverslag met betrekking tot die doeltreffendheid van sleutelrolspelers, het die behoefte onderstreep aan nader samewerking tussen personeel binne die SSLEOB en SSG. Dié verslag het die aparte sentra 'n verspilde geleentheid genoem om die opleiding en ontwikkeling van studenteleiers verder te verbeter. Die kommissie was onder voorsitterskap van emeritusregter van die Konstitusionele Hof van Suid-Afrika Sisi Khampepe. 

“Studenteleiers en die breë studentekorps sal groter baat vind by die magdom kundigheid en ervaring beskikbaar onder kollegas binne die nuwe sentrum. Hierdie kollegas het 'n geleentheid om 'n geïntegreerde, soomlose en transformerende ervaring vir almal te bied, en om met eendersdenkende kollegas oor die universiteit heen, en studente as medeskeppers saam te werk," verduidelik Makhetha, wat die samesmeltingsproses gelei het. 

“Om hierdie proses te lei was vir my 'n voorreg en 'n moeilike reis om te navigeer. Wat my gemotiveer het, was om die groter prentjie te verstaan en hoe dit ons sou help om die waarnemings, ontledings, bevindings en aanbevelings wat deur die Khampepe-kommissieverslag gemaak is, aan te spreek," het Makhetha gesê. 

Ná die vertrek van die SSLEOB-Direkteur het Makhetha in Maart vanjaar informele gesprekke onder personeel in beide sentrums begin om die moontlikheid van samesmelting van die SSLEOB en SSG te beraadslaag. Hierdie besprekings is ondersteun deur die Viserektor: Leer en Onderrig, prof. Deresh Ramjugernath. 

"Kollegas is aangemoedig om meer moeite te doen om met mekaar te kommunikeer, en om meermale saam te werk sodat hulle die werk wat eweknieë oor die twee sentra heen doen, beter kan verstaan," het Makhetha gesê. 

In Maart het die SSG en SSLEOB hul eerste gesamentlike spanvergadering gehou, gevolg deur kleiner groepsessies onder die twee sentra se administratiewe en bestuurspanne, kollegas verantwoordelik vir leierskapontwikkeling en -opleiding, sowel as individue binne eenhede (insluitend koshuisleerkoördineerders). 

Op 2 Junie het personeel van beide sentrums 'n vergadering bygewoon om die besluit om die moontlikheid van samesmelting tussen die SSLEOB en SSG meer formeel te ondersoek. Makhetha het verduidelik dat haar geleidelike benadering tot die beraadslaging oor 'n samesmelting uit die erkenning spruit dat, hoewel verandering belofte inhou, die suksesvolle implementering daarvan sal afhang van versigtige bestuur, die versekering van inklusiwiteit en die aanspreek van enige kommer wat mag opduik. 

“Daardie tydperk van oop en eerlike gesprekke was uiters waardevol omdat dit ons aandag gevestig het op al die kwessies wat ons in ag moes neem, hetsy ons die samesmelting sou kies, of om die twee sentra apart te hou." 

Tussen 05 Junie en 14 Julie is verskeie aangesig-tot-aangesig-vergaderings gehou en voorleggings van bekommernisse ontvang, waarop Makhetha skriftelik gereageer het, en op 27 Junie is daar 'n volle Visie-dag gehou om 'n beter beeld van die omvang van die werk binne die twee sentra te verkry, en te kyk na areas waar daardie werk ooreenstem. Voordat die uiteindelike voorstel om die sentra saam te smelt aan Ramjugernath voorgelê is, is finale voorleggings oor bekommernisse en onsekerheid aangespreek. 

Van die ander sleutelvoordele met die samesmelting sluit die naamsverandering van die nuwe sentrum in wat, volgens Makhetha, “waarlik die kern van die werk wat deur die twee sentra en die eenhede gedoen is, omvat". 

“Daar sal nou verhoogde groei- en persoonlike ontwikkelingsgeleenthede en -paaie wees, asook spesialisareas in 'n enkele sentrum, en billike toegang tot meer funksionele ruimtes. Boonop sal daar meer geleenthede wees om studente te verenig en 'n samehorigheidsgevoel binne hierdie geïntegreerde ruimte te bied, én vir verhoogde doeltreffendheid met die beperkte beskikbare hulpbronne. 

Die samesmelting, het sy gesê, "was 'n geleentheid om diep na te dink oor die werk wat ons doen, en die gehalte wat ons benodig het om dit konsekwent en met groter doeltreffendheid, te kan lewer". 

Die nuwe Sentrum word gelei deur Pieter Kloppers, voormalige SSG-Direkteur en nou SSLL-Direkteur, met Gareth Cornelissen as Adjunkdirekteur: Bedryf, en dr. Heidi October, die voormalige Waarnemende Direkteur van die SSLEOB, wat nou die Adjunkdirekteur: Leierskap is. Daar is vyf eenhede binne die sentrum: die Eenheid vir Koshuisstudentegemeenskappe, met Benita van Zyl as Bestuurder; die Eenheid vir Pendelstudentegemeenskappe, met Jethro Georgiades as Bestuurder; die Eenheid vir Studentebestuur, met Anele Mdepa as Bestuurder; die Eenheid vir Ervaringsleer, met dr. Ruth Andrews as Bestuurder, en die Eenheid vir Leierskap, Diversiteit en Insluiting, met Yeki Mosomothane as Bestuurder. 

“Kollegas van die SSLEOB en SSG het baie goed verstaan hoekom ons moes verander, en die proses wat ons gevolg het, het genoeg geleentheid aan personeel gebied om bekommernisse te opper, hul insette te lewer en om deel te voel van die verandering wat plaasvind. Elke personeellid is aan boord en niemand word negatief geraak in hierdie proses nie!" 

Beide Kloppers en Cornelissen het gesê dat hulle opgewonde is oor al die moontlikhede wat die nuwe SSLL gaan bring. Met verwysing na 'n skildery in die wagarea naby die ontvangs van die nuwe sentrum, het Kloppers verduidelik dat die verskillende figure in die skildery, wat aan mekaar gekoppel is deur hul deelname aan verskillende aktiwiteite, strukture en verbintenisse, die impak raakvat wat 'n groter en meer diverse span soos dié by die SSLL kan hê. 

“Ek dink die naam van ons nuwe sentrum is baie beskrywend en dat ons nou ál die verskillende dele van 'n student se lewe en leer in een omgewing kan saamvoeg. Wanneer jy in silo's werk, kan dít dit moeiliker maak om studente holisties te ondersteun en wanneer ons ons kundigheid saamvoeg, kan ons soveel méér aan ons studente bied," het Kloppers gesê. 

“Dit is beslis ook 'n opwindende tyd vir personeel, aangesien ons dít wat studente put uit die studentelewe en deur die ko-kurrikulêre leer en opleiding wat ons aan hulle bied, verder kan versterk. En wanneer jy met studente werk, wat aan die begin van hul [volwasse] lewensreis en vol lewe en energie is, kan jy nie anders as om geïnspireer en herlaai te word deur die verskillende maniere waarop jy met hulle betrokke is nie." 

Daardie energie, tesame met die kundigheid en kennis wat nou in SSLL vervat is, kan “net lei tot meer innovasie en moontlikhede, sowel as idees," het hy gesê. 

“Ons verryk ook ons werkomgewing en ons studente-aanbod wanneer ons 'n groep uiteenlopende personeellede en studente bymekaarbring om na te dink oor hoe ons leierskapopleiding en -ontwikkeling verder verbeter, en relevant bly op grond van die vaardigheidsbehoeftes van ons studente." 

Vir Cornelissen sal die "samesmelting van ons twee sentra 'n beter gehalte ervaring in leierskapopleiding bied, en nou, wanneer daar krisisse ontstaan wat ons binne die studenteomgewing moet hanteer, kan ons saam oor daardie uitdagings dink en verskillende insigte bied om beter oplossings te bereik deur ons kollektiewe kennis en kundigheid toe te pas om ons studente by te staan". 

Cornelissen is verantwoordelik vir die SSLL se bedryfsoperasies, en vermoed dat daar nie nét duplisering van opleiding aan studente in die verlede was as gevolg van die spanne wat in aparte omgewings gewerk het nie, maar ook rakende spandering op studente. Dit beteken dat een student moontlik opleiding in soortgelyke vaardighede van beide die SSLEOB én die SSG ontvang het. 

"Dit gaan nie nét oor die Rand-en-sent-waarde nie, maar ook die aantal arbeidsure wat personeel aan beide kante ingesit het met betrekking tot opleiding van studente," het hy verduidelik. 

"Die ander ding waaroor ek baie opgewonde is, is die uitbreiding en versterking van die bestuurspan en die kollektiewe kundigheid wat ons nou binne die SSLL sal hê," het hy bygevoeg. 

Mosomothane sal voortgaan om op leierskap, diversiteit en insluiting te fokus in sy nuwe rol as Bestuurder van die eenheid wat juis hierop fokus. Deur hierdie eenheid sal hy en sy span in staat wees om oor al die ander eenhede op die US se ander kampusse en met fakulteite heen te werk, aangesien hul werk 'n impak op al hierdie omgewings het. 

“Deur saam met ander eenhede binne die SSLL te werk, sal ons nie net ons reikwydte uitbrei nie, maar ook met studente werk wat interaksie het met die SSLL deur die verskillende eenhede, en saam met hulle programme ontwerp wat hulle met die regte vaardighede toerus om as leiers te dien en diversiteit en insluiting op kampus te dryf." 

Met verwysing na die komende STS- Strategiese Beplanningsvergadering het Mosomothane gesê dat verdere besonderhede oor presiese programaanbiedings vroeg in November tydens hierdie vergadering ondersoek sal word. 

“Ons word die geleentheid gebied om te werk om ons studente aktief te betrek en te kan verstaan watter tipe eindproduk hulle wil hê, en om hulle by die proses te betrek om daardie produk te skep. Ek glo in mede-skepping, so alles wat ons skep, sal mét ons studente en personeel se insette wees," het hy bygevoeg. 

"Dit is ons bedoeling as 'n eenheid dat ons werk deurkruisend moet wees en dat ons in die werksaamhede van alle eenhede ingeburger word, maar ook om doelbewus oor diversiteit en die implementering van insluiting te wees, en om terug te keer na die basiese beginsels van mede-skepping met studente." 

Andrews, wat Ervaringsleer in die SSLL sal bestuur, was saam met haar span die dryfveer om die omvang van die STS se vlagskipprogram, Shared Humanity: Lessons in Critical Thinking, uit te brei. Hierdie program, het sy gesê, sal steeds binne die eenheid voortgaan. 

"Die Shared Humanity-aanbieding strek oor afdelings en fakulteite en speel 'n deurslaggewende rol om aan elke Universiteit Stellenbosch-student die kans te bied om noodsaaklike bevoegdhede in sosiale geregtigheid en demokrasie te verwerf, soos beklemtoon in die Khampepe-verslag. Boonop bly ons daartoe verbind om institusionele samewerking en noue samewerking met die Afdeling vir Leer- en Onderrigverbetering te kweek, aangesien ons daarna streef om ons mandaat na te kom om die gehalte van nie-kredietdraende programme binne die universiteit te verseker." 

"In die verlede was samewerking tussen verskillende sentrums en eenhede beperk, wat gelei het tot 'n gebrek aan bewustheid oor mekaar se aktiwiteite. Met hierdie samesmelting het ons 'n unieke geleentheid om groter samewerking te bevorder, oorbodighede te identifiseer en uit te skakel, en effektief binne die komende begrotingsbeperkings te funksioneer. Die integrasie sal die uitruil van belangrike inligting onder ons fasiliteer, wat ons dienste aan studente sal verbeter. Dit sal ons intellektuele begrip van ons werk verdiep en, ideaal gesproke, 'n kultuur van navorsingsoriëntasie bevorder, wat sal verseker dat al ons pogings gegrond is op navorsingsgedrewe insigte. Dít is regtig vir my belangrik." 

Op sý beurt het Mdepa oor die rol van die Eenheid vir Studentebestuur gesê dat die integrasie van alle studentestrukture binne dié eenheid die studentegemeenskap in die algemeen eksponensieel sal bevoordeel, en sal verseker dat alle studente voordeel trek uit die gespesialiseerde opleiding wat deur ander personeellede in die SSLL aangebied word. 

“Die universiteit se strategiese doelwit om 'n transformerende studente-ervaring vir al ons studente te skep, sal ook binne die SSLL en hierdie eenheid versterk word namate ons met een stem begin praat, en as 'n kollektief funksioneer met een mandaat om die instelling te ondersteun om hierdie spesifieke doelwit te bereik."