Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Benoit Divol verken komplekse wêreld van wyngis om wyngeure te verbeter
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 01/11/2023

Prof Benoit Divol van die Departement Wingerd- en Wynkunde in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch het Donderdag 26 Oktober 2023 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Ontkurk die geur van wyngis: 'n verkenning van borrelende diversiteit".

Divol het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing oor wyngiste en fermentasie help om die geur van wyn te verbeter.

Vertel ons meer van jou navorsing en waarom jy in hierdie spesifieke veld belanggestel het.

My navorsing val in die breë gebied van wynmikrobiologie – veral onder twee hooftemas: wyngisfisiologie en wyngisselwandbiochemie en -ensimologie. As deel van eersgenoemde tema ondersoek my navorsingspan die voedingsbehoeftes en die metabolisme van wyngiste om te verstaan waarom en onder watter omstandighede giste sekere metaboliete produseer (of nie) wat as geur- of buitegeurverbindings in wyn dien. In laasgenoemde ondersoek ons die aktiwiteit van spesifieke hidrolitiese ensieme (ensieme wat groot molekules in klein molekules afbreek) wat sekere wynmaakprosesse soos die verheldering en vrystelling van variëteitsgeurverbindings kan vergemaklik. Ek stel veral daarin belang om die diversiteit wat binne wyngis voorkom, te ondersoek.

Ek is in Parys, Frankryk gebore en kom uit 'n familie van onderwysers. Teen die einde van my hoërskoolloopbaan het ek geen idee gehad watter rigting om te kies nie. Ek het net geweet ek stel baie in biologie belang. Ek het dus biologie begin studeer, toe landbouwetenskappe en toe ons 'n spesialisasiegebied moes kies, het ek wynkunde (wynwetenskap) gekies, miskien omdat die Franse skrywer Bossuet gesê het: “Wyn het die mag om die siel met alle waarheid, alle kennis en filosofie te vul". Omdat ek in hierdie stadium nog onseker was oor wat om volgende te doen, het ek besluit om 'n navorsingsmeestersgraad te doen met 'n fokus op wynmikrobiologie. In daardie jaar het ek werklik 'n openbaring gehad en besluit om voort te gaan met 'n PhD.

Van daar af het ek geensins meer daaraan getwyfel dat navorsing in wynmikrobiologie 'n fokuspunt van my toekomstige loopbaan moes wees nie. Ek vind dit fassinerend, kompleks en lonend. Ek geniet werklik die frustrasies en belonings, proewe en foute wat 'n groot deel van eksperimentele navorsing uitmaak. En daar is seker erger navorsingsonderwerpe om te ondersoek as wyn!

Hoe sal jy die relevansie van jou werk beskryf?

Navorsing in wynmikrobiologie kan direk op die wynbedryf toegepas word. Sommige van my navorsingsprojekte genereer meer fundamentele uitkomste en ander is meer toegepas, maar almal het ten doel om kennisgapings wat met wyngiste en fermentasie verband hou, aan te spreek, en/of om oplossings vir spesifieke bedryfsuitdagings te vind. Die wynbedryf staar tans talle uitdagings in die gesig, soos klimaatsverandering, ekonomiese en omgewingsvolhoubaarheid, veranderinge in drinkgewoontes en gesondheidsorg, om maar net 'n paar te noem. My navorsing kan natuurlik nie almal oplos nie, maar my navorsing sluit op die een of ander manier by al hierdie verskillende aspekte aan.

Waarvan hou jy die meeste in jou werk?

Dit is sonder twyfel die intense besprekings, dinkskrumsessies en eenvoudige geselsies met my nagraadse studente! Ek het nog altyd die menslike aspek van my werk ietwat uitdagend gevind, maar bowenal uiters lonend. Nagraadse studie is moeilik en gaan met uiterste sentimente gepaard namate 'n mens leer om mislukking, ontmoediging, druk, stres, ensovoorts te hanteer. Dit is harde werk, maar ook baie opwindend. Dit is 'n skool van die lewe en ek hou regtig baie daarvan om deel van hierdie proses te wees en my studente te help om sukses te behaal.

Met die oog op die toekoms, watter aspekte van wynmikrobiologie sal jy graag verder wil verken?

Daar is baie om verder te ondersoek, maar in die nabye toekoms beplan ek om my aandag op die opname en metabolisme van voedingstowwe te vestig wat nog slegs gedeeltelik ondersoek is, veral in die konteks van gisinteraksies tydens wynfermentasie. Ek sal ook voortgaan om die unieke eienskappe van sekere wyngiste wat vir die wynbedryf van belang is, te verken. Ek wil ook voortgaan om sekere hidrolitiese ensieme te ondersoek wat gebruik kan word om die huidige uitdagings wat die wynbedryf in die gesig staar, op te los. Hoewel weetgierigheid 'n belangrike dryfveer in my navorsingsprogram is, probeer ek verseker dat die meeste aspekte op die breër wynbedryf van toepassing is.

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Ek het 'n opregte voorliefde vir geskiedenis en genealogie en ek bring altyd 'n deel van my vakansie in die Franse argiewe deur om my voorgeslagte te laat “herleef".

Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

My werk hou my nogal besig, so my vrye tyd is beperk, maar ek kan nie saans die lig afskakel sonder om 'n paar bladsye in watter roman ook al op my bedkassie is, te lees nie. Ek geniet veral speur- en historiese fiksie. Ek draf en swem gereeld om gesond te bly, maar as ek die geleentheid kry, geniet ek dit baie om natuurroetes te stap en oor land te ski.

  • Foto deur Ignus Dreyer (Stellenbosch Centre for Photographic Services)​​