Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US nou vooraanstaande mikrobioom-wetenskaplike Thulani Makhalanyane se tuiste
Outeur: Corporate Communication & Marketing /Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 31/10/2023

​Die Universiteit Stellenbosch verwelkom die internasionaal bekende mikrobioomnavorser Thulani Makhalanyane, wat vandag (1 November) by die Universiteit aansluit om 'n gesamentlike pos as professor in die Departement Mikrobiologie en die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke te aanvaar.

Makhalanyane sal nou saam met die Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) werk, aangesien dit mikrobioomnavorsing uitbrei. Hy sluit by die US aan van die Universiteit van Pretoria waar hy 'n volle professor was en die DWI/NNS SARChI-leerstoel in Mariene Mikrobiomika beklee het.

Prof Kanshu Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke aan die US, sê Makhalanyane se inter- en transdissiplinêre werk in 'n sprekende voorbeeld van die bydrae wat mikrobioomnavorsing kan lewer om oplossings vir die groot uitdagings te vind wat die vasteland in die gesig staar. “Ek is opgewonde om die uitkomste van sy navorsing te sien wat navorsers van die Departement Mikrobiologie, SERI en die Afrika-mikrobioominstituut byeen sal bring. Hy sluit by die US aan in 'n tyd waarin Afrika-mikrobioomnavorsing floreer."

 Makhalanyane, wat gebore en getoë is in Noordwes, het sy voorgraadse grade aan die Noordwes-Universiteit verwerf, gevolg deur 'n meestersgraad (met lof) en sy PhD aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy het sy postdoktorale opleiding aan die Universiteit van Pretoria (UP) voltooi voordat hy hom in 2014 as dosent by die UP se Departement Genetika aangesluit het.

Sy navorsing het tot dusver feitlik geheel en daarop gefokus om die ekologie van mikrobiese gemeenskappe in ekstreme omgewings te verstaan. Hierdie habitatte sluit grondmikrobiese gemeenskappe in die Antarktiese Droë Valleie, die Namibwoestyn en geografies strategiese streke soos die Suidelike Oseaan in. Sy studie het ook belangrike insigte verskaf oor die menslike dermmikrobioom in stedelike en landelike Suid-Afrikaners.

"Ek is opgewonde daaroor om my by die US aan te sluit op 'n tydstip wat baie opwindend is vir navorsing oor die Afrika-genomika. Ek is veral opgewonde om die skakel met die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en SERI te benut. Dit sal van kardinale belang wees namate ons ons huidige navorsing en ons pogings om Afrika-mikrobiome te bestudeer, uitbrei."

Makhalanyane, wat 'n P-gegradeerde navorser by die Nasionale Navorsingstigting (NNS) is, bring 'n magdom ervaring na die US. Hy was die medeskrywer van meer as 80 artikels wat in toonaangewende internasionale vaktydskrifte, waaronder Nature, Science en Nature Reviews Microbiology, verskyn het. Hy dien in die voorste redaksionele direksies op sy gebied en is tans hoofredakteur van The ISME Journal en senior redakteur by mSystems.

Makhalanyane is in 2018 tot die Internasionale Raad van ISME verkies en is hy as direkteur van die ISME-ambassadeursprogram aangestel wat mikrobioom-uitreikaktiwiteite in meer as 100 lande bevorder. Hy dien sedert 2019 as lid van die NNS se Spesialiskomitee vir Basiese en Toegepaste Mikrobiologie-graderings en is in 2022 as sameroeper aangewys.

Benewens sy uitgebreide kundigheid wat hy met hom saambring, sal Makhalanyane se invloed ook weetgierigheid by US-studente aanwakker, sê prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, “wat die weg baan vir opwindende navorsingsvooruitsigte vir hulle in hierdie belangrike vakgebied".