Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bespreking tydens Woordfees ondersoek die kompleksiteite van Kleurling kultuur
Outeur: Tendani Tshauambea
Gepubliseer: 26/10/2023

​​Sedert die Toyota US Woordfees, 'n jaarlikse kunstefees op Stellenbosch, ten einde geloop het, het die produksies, lewendige televisie en radio-uitsendings, boekbesprekings en musiek vir studente en personeel albei gelaat met veel om oor na te dink. Een van hierdie geleenthede wat in-diepte besprekings uitgelok het onder studente was die Listen, Live & Learn Program (LLL program) met Tessa Dooms en Lynsey Ebony Chutel oor hul boek, Coloured: How Classification became Culture.

Die twee skrywers was in Stellenbosch vir die Woordfees se Skrywersreeks en het studente besoek wat woon te Victoriastraat 53 op die kampus – 'n LLL Program-huis.

Dooms, 'n sosioloog, politieke ontleder en ontwikkelingspraktisyn, en Chutel, 'n multimedia- joernalis en skrywer, het albei groot geword in Eldoradopark in Johannesburg.

Coloured is 'n boek vir Kleurling mense, deur Kleurling mense, 'n boek van Kleurling- en kleurvolle stories uit verskillende hoeke van die Suid-Afrikaanse samelewing, uit die verlede, die hede en die toekoms," verduidelik die skrywers.

Ethan Conradie, 'n lid van die LLL Program het die gesprek geopen met 'n persoonlike oordenking van sy reis na begrip van sy identiteit as 'n jong, queer, Kleurling-man.

“Ek is baie bly dat ons vandag hierdie bespreking het aangesien daar nie veel gepraat word oor kleur, Kleurlinge as ras, identiteit en kultuur nie wat al vir dekades gemarginaliseer word. Die vrae wat ons dikwels vra is, WIE IS ONS? WAT IS ONS? MAAK ONS SAAK?" sê hy.

“Kleurlinge in Suid-Afrika was altyd op die kantlyn, maar deur 'kultuur' verenig ons en word ons bewus van wie ons is. Maar wat kan dan gedefinieer word as Kleurling kultuur?"

Die skrywers delf in 'n reeks onderwerpe verwant aan die vorming van Kleurling identiteit en kultuur, insluitend hare en die politiek van reguit versus krulhare, die Ashwin Willemse insident en die blywende stereotipes van Kleurling-mans, die onderskeid tussen identifiseer as etnies Kleurling en polities Swart, en die voortgesette marginaliteit van Kleurling identiteit in post-apartheid Suid-Afrika.

Met verwysing na die verskeidenheid geleefde ervarings van Kleurlinge het die gesprek gefokus op hoe die boek “poog om te beweeg verby 'n beperkte siening van Kleurling identiteit as 'n fenotipe na 'n meer gedetailleerde narratief gerig op die kompleksiteit en diversiteit van Kleurling identiteit, wat grootliks verskil afhangend van die gemeenskap, streek en familie-geskiedenisse van Kleurling mense van Bonteheuwel, Cloetesville of Eldoradopark," sê die skrywers.

“Hierdie boek delf dieper en daag die opvatting uit dat Kleurlinge nie 'n kenmerkende erfenis of kultuur het nie. Dit lewer nodige onderwerpe oor wie ons is as Kleurlinge terwyl dit ook die geskiedenis van Kleurling-afkoms ondersoek," verduidelik Conradie.

Weens die moeilike geskiedenis wat die boek ondersoek het die gesprek tussen die skrywers en die diverse groep aanwesige studente 'n ruimte geskep waar al die deelnemers eerlik gedagtes kon uitruil oor hul eie begrip – of gebrek daaraan – van Kleurling identiteit. Studente het ook eerlik uitgebrei oor hul eie ondervindings met stereotipiese houdings oor Kleurling identiteit wat op hulle gerig word en die oortuigings waarmee hulle groot geword het, sonder veel bewustheid van die voller verhaal wat in die boek verken word.

Volgens een van die studente, Brittney Brand, was die bespreking vir haar bevestigend “want hoewel ek geweet het daar is nie net een manier van Kleurling wees nie, ek steeds gevoel het asof ek nie Kleurling genoeg was nie en die skrywers het my regtig laat voel asof ek behoort, afgesien van hoe ek voorkom."

“My bestaan, my lewenservarings was Kleurling genoeg en om Kleurling te wees is wat ons besluit om dit te maak."

Conradie het gepraat oor sy ondervindings as Kleurling-man en bygevoeg: “Die feit dat ek 'n Kleurling is en 'n man beteken die samelewing het reeds gedefinieer wie ek is as Kleurling-man en beperkings geplaas op hoe manlikheid gedefinieer kan word. MA OMDAT EK SOE PRAAT, IS EK ONMIDDELIK GEKLASSIFISEER as 'n iemand wat moontlik 'n GANGSTER kan wies. En dit is scary."

Weens 'n geskiedenis van stereotipering en marginalisering is Kleurling-identiteit in Suid-Afrika dikwels misverstaan, veral in die post-apartheidkonteks van die land.

Dooms en Chutel se boek is veral waardevol as 'n gesprek-beginner wat mense kan gebruik om die proses ​te begin van skadelike stereotipes afleer en begin op die reis na 'n meer genuanseerde begrip van Kleurling identiteit as blote fenotipes, hare en een-dimensionele stories.  

Student Adon Rhode het gesê dat die gesprek “beklemtoon dat daar steeds 'n belangrike behoefte is vir my om myself op te voed oor my eie kultuur".

"Die belangrikste wat ek geleer het is dat individue en die kollektiewe identiteit van Kleurlinge genoeg is, en hulle kan trots staan afgesien van wat die massas mag sê."​​