Die sakesektor en die burgerlike samelewing het ʼn rol en verantwoordelikheid met betrekking tot die bevordering van maatskaplike geregtigheid, maar dit is minder gewigtig as dié van regerings.Dít was die gevolgtrekking waartoe gekom is aan die einde van die 5de Internasionale Konferensie en Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid wat onderskeidelik op 11 en 12 Oktober by die Kunstekaap in Kaapstad gehou is.
Die geleentheid is deur die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied, onder leierskap van prof Thuli Madonsela, bekleër van die Regstrust-leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die US.
Die Konferensie en Beraad het ten doel gehad om oor die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing in die bevordering van maatskaplike geregtigheid te besin, om bestek van huidige goeie praktyke op te neem en om geleenthede vir die versterking van sinergieë en skalering te identifiseer. Die platform is ook gebruik om navorsing te deel oor leemtes wat geïdentifiseer is en werksessies te hou om sodanige leemtes aan te pak.
Voorts is gapings geïdentifiseer wat aangepak moet word om die koers van die beëindiging van armoede te versnel en strukturele ongelykheid ʼn nekslag toe te dien op maniere wat van die tweede helfte van die implementering van die globale Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) ʼn meer impakvolle fase sal maak.
Die dringendheid hiervan is benadruk deur kennis te neem van die Verenigde Nasies (VN) se aankondiging dat slegs 17% van SDG's teen die halfpadmerk vroeër vanjaar bereik is en dat stadige vordering gemaak word met onder meer Doelwit 10, wat oor die vermindering van ongelykheid gaan en waarmee sommige lande agteruit boer. Ander SDG's wat van deurslaggewende belang vir maatskaplike geregtigheid is en waaroor die Konferensie en Beraad bekommerd was, sluit in Doelwit 1 (beëindiging van armoede); Doelwit 2 (hongersnood); Doelwit 5 (geslagsgelykheid); Doelwit 23 (klimaatsverandering); asook Doelwit 16 (vrede en sterk instellings).
Aan die begin van die Konferensie en Beraad het ʼn paar deelnemers twyfel uitgespreek oor die aanspreeklikheid van die sakesektor en die burgerlike samelewing vir die bevordering van maatskaplike geregtigheid, maar aan die einde van elke dag was daar geen teenkanting teen die gevolgtrekking dat hierdie twee privaatsektor-groepe wel ʼn rol in gedeelde verantwoordelikheid vir die bevordering van maatskaplike geregtigheid in gesinne, werkplekke, saketransaksies, maatskaplike ruimtes en openbare bestuur het nie.
Die deelnemers, hoofsaaklik afkomstig uit die akademie, die sakesektor en die sektor sonder winsbejag en wat van so ver as die Verenigde Koninkryk en België gekom het, het opgemerk dat sake- en burgerlike samelewingsentiteite reeds ʼn deurslaggewende rol in die bevordering van die gelyke genieting van alle regte en vryhede speel, soos deur maatskaplike geregtigheid voorgeskryf word. Voorbeelde wat deur onder andere Madonsela in haar hoofrede genoem is, sluit in die rol wat die sakesektor gespeel het in die Verdrag van Versailles, wat gelei het tot die totstandkoming van die Internasionale Arbeidsorganisasie (ILO) en sy vaste mandaat om maatskaplike geregtigheid in die ekonomie te bevorder.
“Na my mening behels die private sektor se verantwoordelikheid en aanspreeklikheid drie dimensies, synde ʼn wetlike verantwoordelikheid, ʼn morele verantwoordelikheid, asook pragmatisme of strategiese oorwegings wat alles elemente van gedeelde menslikheid of Ubuntu is. Internasionale en nasionale wette skryf sekere verpligtinge voor ten opsigte van die bevordering van maatskaplike geregtigheid, hoofsaaklik deur regstreekse en onregtreekse diskriminasie te verbied. ʼn Paar internasionale en nasionale wette skryf verpligtinge voor om de facto of substantiewe gelykheid in werkplekke, die onderwys, gesondheidsdienste, die ekonomie en die deel van natuurlike hulpbronne soos grond te bevorder. Die morele verantwoordelikheid spruit uit die restitusionele plig jeens begunstigdes van onregte wat oor generasies heen gepleeg is, terwyl pragmatisme en strategiese oorwegings gaan oor die uitskakeling van strukturele ondoeltreffendheid wat ekonomiese groei belemmer terwyl dit verdeling bevorder en vrede ondermyn," het Madonsela gesê.
Sy het opgemerk dat die Konferensie plaasvind terwyl die wêreld 75 jaar van die aanvaarding van die Universele Verklaring van Menseregte herdenk. Maar vrede bly ontwykend ondanks pogings om dit deur menseregte-instrumente te veranker, terwyl oorloë ʼn werklikheid in verskeie dele van die wêreld is.
Madonsela het haar rede met die volgende aangrypende opmerkings ingelui: “Ons begin hierdie Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid te midde van verskeie menslike tragedies wat die grondleggers van die Verdrag van Versailles, die Verenigde Nasies se Handves en Universele Verklaring oor Menseregte gedink het nooit weer deur die mensdom beleef sou word nie. Die grondleggers van hierdie multilaterale samewerkings- en normatiewe standaardstellingsinstrumente het gedink dat ʼn belegging in geregtigheid, insluitend maatskaplike geregtigheid, die mensdom met vrede sou beloon en dat oorlog en sy afskuwelike wreedhede iets van die verlede sou wees."
Die moderator van die Konferensie en Beraad was die prominente media- en regskenner Songezo Mabece en die beraadslagings het kwessies gedek soos korrupsie, arbeidspraktyke, regsbemagtiging, entrepreneurskap, korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid, voedselonsekerheid, grondbillikheid, toegang tot geregtigheid, geslagsgebaseerde geweld, onderwys en gesondheid, insluitend geestesgesondheid.
Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy openingsrede ʼn verband getrek tussen vanjaar se tema wat fokus op die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing in die bevordering van maatskaplike geregtigheid en die US se slagspreuk, 'Saam Vorentoe'. “Hierdie Konferensie en Beraad omskep dié woorde in aksie deur verskillende rolspelers in die sakewêreld en die burgerlike samelewing byeen te bring om ʼn pad vorentoe te vind deur hulle kragte saam te snoer. Sonder die insette en inkoop van beide hierdie sektore sal pogings om maatskaplike geregtigheid te bevorder nie slaag nie," het De Villiers gewaarsku.
Tydens die Konferensie en Beraad is die noodsaak benadruk dat die sakesektor met sleutel-kennisprodusente in die burgerlike samelewing moet saamwerk om te verseker dat praktiese optrede deur deurdagte teoretiese beredenering onderskraag word.
Prof Sibusiso Moyo, die US se Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, het by die Konferensie agtergrond verskaf oor die rol van universiteite in ekonomiese ontwikkeling en die belangrikheid van innovasie in die strewe na maatskaplike geregtigheid. Die uitdaging vir diegene by hoëronderwysinstellings in Suid-Afrika wat in die veld van maatskaplike geregtigheid aktief is, is om te verstaan in watter mate hulle die politieke landskap, beleidmaking en die toewysing van hulpbronne kan beïnvloed terwyl hulle ook die nadelige impak van korrupsie aanpak, het Moyo gesê. Sy het voorts die belangrikheid van vennootskappe benadruk en die sakesektor aangemoedig om meer aktief by die finansiële ondersteuning van studente betrokke te raak.
Die geskiedenis het ons gewys dat vreedsame en inklusiewe samelewings nie lukraak ontwikkel nie, het prof Nicola Smit, Dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, in haar verwelkomingsboodskap opgemerk. “Dit is eerder soms die uitkoms van uitsonderlike en opsetlike prosesse, normatiewe standaarde, waardes en intervensies van ʼn wye reeks samelewingsrolspelers – of ʼn mens kan sê dat maatskaplike geregtigheid verwesenlik word in die wetlike skepping en instandhouding van regverdige maatskaplike instellings en, veral belangrik, van verhoudings."
Hoofsprekers
In sy hoofrede het die sakeleier Moeletsi Mbeki konferensiedeelnemers op ʼn reis geneem oor die rol wat die sakesektor in ongelykheid en armoede in Suid-Afrika gespeel het, maar ook tot die gevolgtrekking gekom dat dié sektor in die binnebaan is om ʼn positiewe rol in die bevordering van maatskaplike geregtigheid te speel. Hy het diegene wat sedert 1994 regeer het, gekritiseer omdat hulle nie beleid aanvaar het wat strukturele rasse-ongelykheid aftakel nie. Hy het hulle daarvan beskuldig dat hulle beleide gekies het wat hulle in bestaande strukture opgeneem het. Mbeki het ook die versuim betreur om die ekonomie in ʼn vervaardigingekosisteem te herstruktureer, in teenstelling met die verbruikersgesinde stelsel wat aanvaar is.
Dit is in die belang van die sakesektor om maatskaplike geregtigheid te bevorder, veral die welstand, gesondheid en onderwys van die armes. Soos wat die mensekapitaalindeks verhoog word, word die ekonomie mededingend," het hy gesê.
Soortgelyke menings is uitgespreek in die hoofrede van die Beraad oor Maatskaplike Geregtigheid, gelewer deur John Jeffery, Adjunkminister van Justisie en Korrektiewe Dienste, en Busisiwe Mavuso, Uitvoerende Hoof van Business Leadership South Africa.
Jeffery se toespraak het gefokus op historiese konteks, die nalatenskap van apartheid en die belangrikheid van maatskaplike geregtigheid om armoede en ongelykheid aan te pak. Hy het die belangrikheid benadruk van 9 Oktober, die datum van die 70ste herdenking van die inwerkingstelling van die Wet op Afsonderlike Geriewe. Dit was ʼn belangrike apartheidswet wat rassesegregasie afgedwing het. Jeffery het gesê al is dié Wet herroep, word die nalatenskap daarvan steeds in Suid-Afrika beleef. Blywende gevolge is ruimtelike beplanning onder apartheid, ongelykhede in infrastruktuurontwikkeling en onderwys, asook armoede. Volgens Jeffery vereis maatskaplike geregtigheid billike ekonomiese, politieke en sosiale regte en geleenthede vir almal.
Jeffery het ʼn tendens geïdentifiseer dat verbruikers al hoe meer op soek is na korporatiewe maatskaplike geregtigheid in plaas van korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid. Dit word gedefinieer as ʼn volledige maatskaplike geregtigheidskultuur wat geïntegreer is met elke aspek van die manier waarop ʼn maatskappy funksioneer. Hierdie soort interafhanklikheid tussen organisasies en die samelewing word deur die konsep van Ubuntu verteenwoordig, het hy verduidelik. “Ubuntu impliseer dat daar ʼn gemeenskaplike doel vir alle menslike pogings moet wees, insluitend korporatiewe pogings, wat op diens aan die mensdom gegrond is. As ʼn logiese gevolg van hierdie interafhanklikheid baat een mens daarby deur ʼn ander te dien."
Sake-ondernemings kan nie in isolasie van maatskaplike omstandighede rondom hulle funksioneer nie, het Jeffery afgesluit. “Hulle moet ʼn agenda vir maatskaplike geregtigheid en menseregte bevorder. Die kern van die ontwikkeling van so ʼn maatskaplike geregtigheidsagenda lê in die erkenning van ons gedeelde menslikheid en dat ander mense uiteindelik dieselfde behoeftes as ons het. Waarom sou ons ander mense die dinge ontsê wat ons vir onsself wil hê?"
Mavuso het in haar toespraak die land se uitdagings erken en benadruk dat Suid-Afrika 30 jaar ná die aanvang van demokrasie steeds met diepgaande kwessies van armoede, ongelykheid en rekordhoë werkloosheidsyfers worstel. Sy het benadruk dat die sakesektor, as die maatskaplike vennoot met aansienlike hulpbronne, ʼn deurslaggewende rol in die verbetering van die nasie se maatskaplike en ekonomiese welstand moet speel. Vir hierdie doel het sy ʼn samewerkende inisiatief bespreek wat 130 uitvoerende hoofde van groot ondernemings betrek het om saam met die regering oor sleutelkwessies te werk.
“Ons doen dit omdat ons besef dat dit onvolhoubaar vir die sakesektor is om voort te gaan om ʼn eiland van welvaart in ʼn see van armoede te wees," het Mavuso verduidelik. Sy het bygevoeg dat dit bemoedigend is om die ontstaan van ʼn ideologiese verskuiwing ten gunste van die sakesektor te sien. “Deelname deur die private sektor bring die doeltreffendheid mee wat die regering moet hê; dit plaas stelsels en prosesse in plek wat in die regering ontbreek."
Mavuso het gesê maatskaplike ongeregtigheid is een van Suid-Afrika se grootste risiko's. “Uit die sakesektor se oogpunt besef ons sommige kwessies is groter as eiebelang en wins. Die probleme wat deur hierdie land in die gesig gestaar word, is nie regeringsprobleme nie. Dit is Suid-Afrika se probleme."
Verandering neem lank, maar dit gebeur wel, was die bemoedigende boodskap van Kate Robertson, sakevrou en medestigter van One Young World. Sy het die beroemde Martin Luther King Jr.-aanhaling gebruik om haar punt te maak: “The arc of the moral universe is long, but it bends towards justice".
“Ons praat verskriklik baie oor die dinge waardeur ons wêreldwyd in die gesig gestaar word. Maar die stemme van diegene wat onreg ly, word eenvoudig deur ons gepratery verdring. Om maatskaplike geregtigheid te verwesenlik beteken ons moet optree," het Robertson gesê.
Fokus op honger in komende jaar
Tydens die Beraad het Greg Munro, Direkteur van Cities Alliance (ʼn wêreldwye vennootskap wat stedelike armoede bestry), gesê die private sektor, insluitend klein, medium en mikro-ondernemings, is ʼn noodsaaklike vennoot in die aanpak van armoede en ongelykheid. Volgens hom is samewerking deur nasionale regerings, die burgerlike samelewing, groot en klein ondernemings en gemeenskappe die enigste manier om vordering met die SDG's te maak.
Dr Imtiaz Sooliman, stigter en voorsitter van die Gift of the Givers-stigting, het nie doekies omgedraai nie toe hy hartverskeurende ervarings beskryf het van Suid-Afrikaners wat deur armoede geraak word “Hongersnood is baie normaal in die Oos-Kaap. Baie kinders sterf aan wanvoeding," het Sooliman gesê terwyl hy ʼn onlangse tragedie beskryf het van ʼn ma wat haar drie kinders vermoor en selfmoord gepleeg het uit desperaatheid omdat sy nie haar gesin kon voed nie.
Maar Sooliman het vinnig daarop gewys dat ons nie nader aan ʼn oplossing sal kom deur die regering vir alle maatskaplike euwels te blameer nie. “Die regering is nie korrup nie. Daar is korrupte mense in ons regering. Daar is ook baie korrupte mense in die private sektor. Wat ons as ʼn nasie nodig het, is moraliteit, spiritualiteit, waardes en etiek. Suid-Afrika behoort nie aan die regering nie, dit behoort aan meer as 62 miljoen Suid-Afrikaners. Ongeag wat die probleme is, die enigste manier om dit reg te stel is om dit saam te doen."
Sooliman was baie krities was oor ondoeltreffende regeringstelsels en burokrasie, maar het ook die sakesektor aangemoedig om ʼn groter rol te speel in die skep van geleenthede, veral vir jongmense. “Ons het nodig dat maatskappye kinders ʼn kans te gee. Help hulle om ʼn voet in die deur te kry wat hul selfbeeld sal verbeter. Werk gee mense hoop en waardigheid."
Prof Stan du Plessis, Uitvoerende Hoof van die US, het in sy slotopmerkings by die Beraad aangevoer dat maatskaplike geregtigheid by die burgers en hul regte en geleenthede moet begin, eerder as by die regeerders en hul planne. “Wanneer ons ʼn gebrek aan maatskaplike geregtigheid het op die mikrovlak, die vlak van huishoudings en individue, maak ons die verwesenliking van politieke en ekonomiese regte onmoontlik. Ons moet die regte herstel, of dit in sommige gevalle vestig, sodat ons voordelige ontwikkeling met toepaslike aanspreeklikheid kan hê. Regte is nie ʼn luukse wat die uitkoms van ekonomiese ontwikkeling sal wees nie. Dit is eerder ʼn deurslaggewende deel van aanspreeklikheid wat in die eerste plek voordelige vordering in ekonomiese ontwikkeling verseker."
Nabetragting
In haar nabetragting oor die waarde van die Konferensie en Beraad het Madonsela gesê dit is bemoedigend om te ervaar dat daar aansienlike welwillendheid en erkenning vanuit alle sektore is dat maatskaplike geregtigheid saam verwesenlik kan word. “Die Konferensie het bevind dat daar internasionaal én plaaslik baie welwillendheid by die sakesektor en die burgerlike samelewing is – van die aanpak van hongersnood tot kwessies soos grondherverdeling en inklusiwiteit wat die eienaarskap van besighede betref. Daar was konsensus dat ondernemings hul fokus moet verskuif om ook maatskaplike uitdagings aan te pak en ʼn ekosisteem te bevorder wat die samelewing as geheel bevoordeel," het Madonsela gesê. Sy het ook verslag gelewer oor die breë konsensus wat bereik is dat beide die sakesektor en samelewing 'n rol speel in die bevordering van sosiale geregtigheid. Sy het verduidelik dat só 'n rol korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid oortref en tot die kern van sakebedrywighede en -praktyke spreek. Madonsela het voorbeelde gegee van entiteite wat voldoen aan maatskaplike geregtigheidsvoorskrifte sowel as arbeidswette. Sy het uiteindelik die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing verbind aan verpligtinge wat voortspruit uit wetlike, morele en strategiese of pragmatiese oorwegings wat met Ubuntu-beginsels vergelyk kan word. Die Konferensie en Beraad het hierdie uiteensetting aanvaar. Madonsela het voorts beklemtoon dat daar ooreengekom is dat sakeondernemings en die burgerlike samelewing op dreef moet kom om verpligtinge na te kom en geleenthede aan te gryp wat deur die tweede fase van die SDG-agenda, COVID-19-herstelprogramme en klimaatsgeregtigheidsprosesse gebied word om die bevordering van sosiale geregtigheid te versnel. Sy het ook aangevoer dat die konferensie en beraad die Musa-plan vir maatskaplike geregtigheid onderskryf het en die gemeenskaplike fokus vir die volgende jaar aangekondig het.
“Ons het ooreengekom dat ons in die komende jaar op hongersnood sal fokus. Ons het besluit om maatskaplike geregtigheid gesamentlik as die sakesektor en die burgerlike samelewing te bevorder. Met behulp van die Musa-plan vir maatskaplike geregtigheid, ʼn versneller vir maatskaplike geregtigheid wat vordering met SDG's bespoedig, sal ons hande vat om hongersnood te beëindig deur navorsing, versterking van sinergieë en deur innoverend te wees."
Madonsela het gesê die sukses van vanjaar se Konferensie en Beraad kan ook toegeskryf word aan die samewerking met die Kunstekaap, wat ʼn inspirerende agtergrond vir die beraadslagings verskaf het.
“Ons dinamiese gasheer en Uitvoerende Hoof van die Kunstekaap, dr Marlene le Roux, het ons herinner aan die rol wat kuns in die bevordering van maatskaplike geregtigheid kan speel. Ons weet die kunste kan ʼn rol speel nie net deur ekonomiese geleenthede gelyk te maak nie, maar vanuit ʼn neurowetenskaplike oogpunt weet ons dat ons in prente dink en dat kuns ons nuwe insig in mekaar se menslikheid kan bied. Kuns kan ook vir ons ʼn ander prentjie skets oor hoe ons die toekoms van ons samelewing visualiseer."
Maatskaplike Geregtigheidskampioen van die Jaar en Brugbouer-toekenning
- Twee gesogte pryse is tydens ʼn onthaal na afloop van die Internasionale Konferensie oor Maatskaplike Geregtigheid deur die Sentrum vir Maatskaplike Geregtigheid toegeken. Die Maatskaplike Geregtigheidskampioen van die Jaar-toekenning is deur Madonsela en Ashraf Garda, stigter van en Champion Spotter by Champion South Africa, oorhandig aan Lorraine Khoza, ʼn inspirerende jong vrou wat ʼn organisasie sonder winsbejag begin het ter ondersteuning van slagoffers van geslagsgebaseerde geweld nadat sy geweldige trauma as ʼn verkragtingsoorlewende ervaar het.
Die hoofdoel van hierdie toekenning is om ʼn Suid-Afrikaner te vereer wat ʼn positiewe verskil maak om maatskaplike geregtigheid te bevorder. Khoza is vereer omdat sy die brutaliteit van die onreg wat teen haar gepleeg is, in ʼn kragtige beweging vir maatskaplike geregtigheid omskep het.
Verlede jaar is Lorenzo Davids, ʼn leier en veteraan op maatskaplike ontwikkelingsgebied, as Maatskaplike Geregtigheidskampioen van die Jaar vereer vir sy onvermoeide gemeenskapswerk en -aktivisme en in 2021 was Sooliman die ontvanger.
Khoza het gesê sy was oorweldig toe sy die nuus hoor. “Ek kon dit nie glo nie. Ek het in trane uitgebars! Om so ʼn toekenning te kry is so bemoedigend. Dis so ʼn groot eer om te weet ek is nou ʼn Maatskaplike Geregtigheidskampioen-alumnus met wonderlike rolmodelle soos dr Sooliman wat ook die toekenning ontvang het. Om hierdie toekenning te kry het my nuwe moed gegee en my werk bevestig. Ek weet dat die werk wat ons doen, betekenisvol is en mense se lewens beïnvloed." - ʼn Tweede toekenning vir ʼn Suid-Afrikaner wat daartoe verbind is om maatskaplike kohesie te bevorder, is by verlede jaar se Maatskaplike Geregtigheidsberaad bekend gestel. Die Brugbouer-toekenning gee erkenning aan iemand wat buitengewone hoogtes bereik het om die verdeeldheid van die verlede te genees deur maatskaplike brûe oor histories verdeelde groepe en gemeenskappe heen te bou. Madonsela en Garda het vanjaar se Brugbouer-toekenning oorhandig aan YearBeyond, ʼn jeugdiensvennootskap tussen die Wes-Kaapse regering, die Wes-Kaapse Community Chest, die Michael en Susan Dell-stigting, asook verskeie nie-regeringsorganisasies. Dit het ten doel om aan werklose jeugdiges (18 tot 25-jariges) betekenisvolle werkservaring en ʼn weg vorentoe na verdere studies of werk te verskaf, terwyl ʼn kultuur van diens aan hul gemeenskap aangemoedig word. Die Brugbouer-toekenning is geïnisieer ter ere van die ontslape lid van die Raad van Maatskaplike Geregtigheidskampioene, dr Beatrice Wiid, wat uitgeblink het in die bou van brûe oor gemeenskappe heen wat deur ekonomiese en historiese rasse-ongelykhede verdeel is ter nastrewing van maatskaplike kohesie en vrede. Partners for Possibility (PfP), die vlagskipprogram van Citizen Leader Lab, ʼn organisasie sonder winsbejag, is in 2022 met die eerste Brugbouer-toekenning vereer ter erkenning van hul pogings om maatskaplike kohesie in Suid-Afrika te bevorder. Citizen Leader Lab se huidige fokus is om leierskapsontwikkeling en -ondersteuning binne die onderwysekosisteem te versterk en te verhoog.
Lees die Konferensie Verklaring en die Summit Verklaring hier.