Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Universiteit van Bath besoek US se Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking (ALOV)
Outeur: Dr Nicoline Herman
Gepubliseer: 27/10/2023

Die US se Afdeling vir Leer en Onderrigverryking (ALOV/DLTE) is vanaf 18 tot 20 Oktober deur 'n afvaardiging van die Universiteit van Bath se Sentrum vir Onderrig en Leer besoek. Die besoek het op ʼn hoë noot begin met 'n hartlike verwelkomingsete by die historiese De Volkskombuis, aangebied deur Sarah van der Westhuizen en Sarah Richmond van die US se Internasionale Kantoor (SUI). Die gaste is bederf met heerlike Suid-Afrikaanse geregte en die geselligheid sou die toon aangee vir die res van die besoek.

Op Donderdag, 19 Oktober, het die besoekers en die gashere in Den Bosch vergader om idees oor onderrig-leer-assessering (OLA) uit te ruil. Die besoekers was eerste aan die woord en Dr Rob Eaton (bestuurder van kurrikulumontwikkeling), me Abby Osborne (hoof van Assessering en terugvoerontwikkeling), en me Stephanie Kamffer (projekbeampte) het hulle innoverende strategieë en metodologieë gedeel. Die gesprekke wat hieruit gespruit het, het gedeelde belangstellings en raakpunte tussen die Britte en Stellenbossers onthul met die professionele ontwikkeling van dosente vir hulle OLA wat die meeste aan bod gekom het.

In die middagsessie het die ALOV die Bath-eweknieë bekendgestel aan die funksies en werksaamhede van sy vyf eenhede – die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), Sentrum vir Leer-tegnologieë (SLT), Taalsentrum (TS), Akademiese Beplanning & Kwaliteitsversekering (APQ), en Hibriede Leer (HL).

Vrydagoggend, 20 Oktober, is daaraan gewy om gedeelde belangstellings en moontlike samewerkingsgeleenthede tussen die twee instansies te bespreek. Dit was 'n voorreg om die kollegas van Bath te ontvang en ons sien uit na saamwerk en saam dink in die toekoms.