Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-personeellid pluk vrugte van vaardigheidsuitruilprogram met Universiteit van Lund
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 26/10/2023

Melissa Siegelaar, 'n Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) fakulteitslid, het 'n onlangse werkskadu-inisiatief by die Universiteit van Lund (UL) geloof vir die vaardighede wat dit haar gebied het om haar rol as 'n leer- en onderrigondersteuningsbeampte in die dekaanskantoor beter te vervul.

Siegelaar was deel van 'n groep van nege personeellede van die Universiteit Stellenbosch (US) wat onlangs die Sweedse universiteit besoek het op die gemengde mobiliteitsprogram vir professionele administratiewe steundienste (PASD). Hierdie uitruilprogram, 'n vennootskap tussen die US en die UL, het ten doel om globale betrokkenheid en professionele ontwikkeling te verhoog deur personeel aan te spoor om werkprosesse en -instrumente te vergelyk, te evalueer en te ontwikkel.

“Die besoek aan die UL was 'n wonderlike leerervaring,” sê Siegelaar, wat haar Lund-eweknieë in die werkplek vergesel het. “Die lesse wat ek geleer het, was nie noodwendig uniek aan my rol in die EBW-fakulteit nie, maar dit sal my help om my werk beter en doeltreffender te verrig.”

Sy het die volgende drie "waardevolle" lesse uitgelig:

  • Die belangrikheid van direkte kommunikasie. “Ek was beïndruk met die manier waarop my UL-kollegas persoonlik, per e-pos of selfs met kennisgewings op kennisgewingborde gekommunikeer het. Alhoewel die aard van die kommunikasie soms as kras beskou kon word, het ek verstaan dat hulle hul werk sien as 'n weerspieëling van hul institusionele waardes en hul verbintenis tot hul rol as staatsamptenaar. Dit was duidelik in hul kommunikasiemetodes en hul doeltreffendheid.”
  • Volg prosedure en riglyne soos deur die universiteit uiteengesit. “'n Kollega van UL het dit perfek opgesom: 'As jy die reëls volg, is dit maklik om 'n besluit oor 'n saak te neem en niemand kan dan sê dat jy onregverdig is nie want die reëls is dieselfde vir almal'. Dit is egter net van toepassing as jy konsekwentheid in jou werkprosesse en besluitneming handhaaf.”
  • Werk saam om doeltreffendheid te bevorder. “By die UL pas hulle die beginsel van kollegialiteit (kameraadskap en samewerking tussen kollegas wat verantwoordelikheid deel) toe. Hulle verstaan dat hulle almal deel van 'n groter stelsel is en dat hul samewerking nodig is om te verseker dat alles goed werk. Hulle handhaaf ook 'n goeie balans tussen werk en ontspanning wat deur hul menslike hulpbronne-strukture bevorder word.”

"Ek glo ek kan hierdie vaardighede toepas in my rol as leer- en onderrigondersteuningsbeampte omdat direkte kommunikasie, prosedure en samewerking 'n integrale deel van my werk vorm,” het sy gesê.

Sieglaar het tydens haar besoek aan die UL ook deelgeneem aan 'n interkulturele kommunikasieprogram wat gefokus het op die verskillende kommunikasiemetodes van onder meer Asiatiese, Midde-Oosterse, Afrika- en Europese kulture. Sy het ook deelgeneem aan 'n sessie oor geslagsgelykheid en gelyke geleenthede, beide belangrike strategiese doelwitte van die UL.

Maar Siegelaar het daarom ook tyd gemaak om die Sweedse mense, kultuur en lewenswyse te geniet.

“Ek het daarin geslaag om goeie verhoudings met van my Lund-kollegas te bou en ons kon ervarings en wedersydse belangstellings deel. Die netwerkgeleenthede was ook waardevol vir moontlike toekomstige samewerking.

“Ons het ook die Sweedse kultuur van Fika ervaar. Dit is wanneer Swede saam met hul kollegas 'n koffie geniet om oor werk en die lewe te redekawel. Dit bevorder na bewering goeie verhoudinge en doen wondere vir kantoormoraal.

“'n Hoogtepunt vir my was toe ons die Uppåkra Argeologiese Sentrum, die grootste ystertydperk-nedersetting in die Nordiese streek, besoek het.”

In November sal US-personeel weer die geleentheid kry om hul Lund-eweknieë by die US te verwelkom en hulle in hul werkplek rond te vergesel. Siegelaar glo dat hul Lund-kolegas baie uit hierdie ervaring sal kan leer.

“Ek dink hulle sal veral daarby baat vind om die US se benadering tot leertegnologieë van nader te beskou, aangesien Lund nie so 'n goed ontwikkelde raamwerk het wat die gebruik van leertegnologieë in onderrig, leer en assessering betref nie. Die gebruik van leertegnologieë in leer en onderrig word al hoe belangriker met die globalisering van hoër onderwys. Ons leef in 'n digitale wêreld en om studente blootstelling aan digitale tegnologie te gee, bewapen hulle met kritieke vaardighede wat hulle in die werkplek kan gebruik. Digitale tegnologie kan ook die oorgang makliker maak wanneer jy aansoek doen vir werk in lande waar digitale tegnologie 'n integrale deel van die werkplek is.”

Sy het afgesluit: “Ek wil US PASD-personeel aanmoedig om aansoek te doen vir hierdie program of soortgelyke programme, omdat dit hulle sal blootstel aan ander kulture en instellings. Daar is baie geleenthede vir selfontwikkeling en professionele ontwikkeling by die US beskikbaar. Dit is jammer dat nie genoeg PASD-personeellede van hierdie geleenthede weet of gebruik maak nie.”