Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Skool vir Rekeningkunde voorsien besighede van belangrike rekeningkundige vaardighede
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 25/10/2023

Die Skool vir Rekeningkunde se visie om terug te gee aan die gemeenskap gaan van krag tot krag nadat dit onlangs 'n werkswinkel aangebied het om kleinsake-eienaars in Phillippi en omliggende gebiede met kritieke rekeningkundige vaardighede toe te rus. Die doel was om te verseker dat dié besighede werkskepping en produkte en dienste van hoë gehalte aan die gemeenskap lewer.

Die Skool is genader deur Incarceration Nations Network, 'n wêreldwye netwerk wat gevangenishervormingspogings ondersteun en aanvoer, om die werkswinkel te bestuur nadat dit van sy revolusionêre Ex-Cell-opleidingsprogram te hore gekom het. Dié sosiale impakinisiatief van die Universiteit Stellenbosch (US) leer gevangenes sakevernufvaardighede, soos die ontwikkeling van 'n sakeplan.

Incarceration Nations Network het die 20 sake-eienaars gekies wat op 12 Oktober 2023 dié kleinsakerekeningkundewerkswinkel by die US bygewoon het. Die sake-eienaars het bestaan uit 'n mengsel van ontslane gevangenes en opkomende jeug in die gemeenskap. Hul besighede het gewissel van klere- en dekorbesighede tot tradisionele genesings- en township-toermaatskappye tot 'n mobiele koffiekroeg en sosiale media en aanlyn kleinhandelwinkels.

Die doel van die werkswinkel was soos volg: Om basiese finansiële rekeningkunde vaardighede oor te dra, insluitend belangrike definisies van konsepte soos bates, laste, inkomste en uitgawes. Die tweede was om kritieke rekeningkundige maatreëls te deel waarop 'n klein onderneming moet fokus om suksesvol te wees.

Juan Ontong, dosent en werkswinkelkoördineerder, het gesê: “Hierdie werkswinkel was vir ons 'n geleentheid om terug te gee deur basiese rekeningkundige opleiding aan bestaande sake-eienaars te verskaf. Dit was 'n manier om klein ondernemings te laat besef dat rekeningkunde 'n belangrike manier is om hul hulpbronne te bestuur en hul sakebedrywighede te formaliseer. Die werkswinkel sal hulle help om te verstaan waar hul besigheid (tans) is en waarheen dit (in die toekoms) op pad is, veral in hierdie moeilike ekonomiese omstandighede.

“Die werkswinkel was ook 'n geleentheid om ons vaardighede aan 'n ander groep as ons studente oor te dra. So, op 'n manier brei ons ons onderrig uit na die gemeenskap. Dit is vir ons belangrik om die omgewing waarin die universiteit in Stellenbosch en die groter Wes-Kaap funksioneer, beter te verstaan.”

Hy het bygevoeg: “Baie van die deelnemers was nog nooit aan 'n hoëronderwysinstelling of formele opleiding van hierdie kaliber blootgestel nie. Ons hoop deur hulle hierdie basiese rekeningkundige oorsig te gee, dat ons moontlik 'n begeerte by hulle aangewakker het om voort te gaan op hierdie pad van leer.”

Ander Skool vir Rekeningkunde dosente wat aan die kleinsakerekeningkundewerkswinkel deelgeneem het, sluit in Waldette Engelbrecht, Marlene Oosthuizen, Cecileen Greef en Armand Bruwer. Sher-Lee Arendse-Fourie het ook 'n werkswinkelkoördineerder gedien.

Mthetheleli Ngxeke, Suid-Afrika-koördineerder van die Global Freedom Fellowship Incarceration Nations Network, het die werkswinkel as inspirerend beskryf.

“Die opgewondenheid onder die deelnemers om deel van die werkswinkel te wees, was duidelik. Hulle het nie net baie van die aanbieders geleer nie, maar ook van die ander entrepreneurs. Dié werkswinkel het as 'n groot inspirasie vir hulle gedien,” het Ngxeke gesê.

Hy het gesê die terugvoer van die deelnemers het gewissel van “die werkswinkel was baie opvoedkundig en het ons toegerus met baie nuttige hulpmiddels om 'n suksesvolle besigheid te bedryf” tot “baie insiggewend en prakties”.

Die Skool vir Rekeningkunde het vanjaar 'n aantal samewerkende sosiale impakprojekte aangepak. Benewens die werkswinkel vir kleinsakerekeningkunde en die Ex-Cell-opleidingsprogram, het dit ook 'n vennootskap met die Wes-Kaapse Departement van Onderwys aangegaan om 'n onderwyserverrykingsprogram op die been te bring. Hierdie program het ten doel om die onderrigvermoëns van ekonomiese en bestuurswetenskappe-onderwysers in die Wes-Kaap te versterk.

Dié inisiatiewe word gelei deur die waardes en strategiese temas wat in die US se Visie 2040 sowel as die Nasionale Ontwikkelingsplan ingebed is.