Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dink nuut oor hoëronderwysonderrig, -leer en -assessering in die era van KI
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 09/10/2023

Kunsmatige intelligensie (KI) ontwikkel vinnig en hou aansienlike en moontlik ontwrigtende implikasies vir die wêreldwye onderwyssektor in.  

Die Universiteit Stellenbosch (US) se Afdeling Leer- en Onderrigverryking het 'n edX-gebaseerde professionele sertifikaatprogram van vier modules ontwerp om hoëronderwysberoepslui, -opvoeders en -belanghebbendes die impak van KI, en veral generatiewe KI, in die hoër onderwys te help verstaan en hanteer. Die professionele sertifikaat (“AI in Higher Education") sal 'n verskeidenheid hoëronderwyspraktisyns bystaan om onderrig-, leer- en assesseringspraktyke in die lig van KI te herbedink en te herposisioneer. Kursusgangers sal 'n begrip ontwikkel van huidige denke oor die doel van hoër onderwys, onderrig-, leer- en assesseringspraktyke en KI-geletterdhede, met die klem op die handhawing van akademiese integriteit en die bevordering van verantwoordelike KI-gebruik. Die program, wat ten volle aanlyn is, sal deelnemers in wese help om nuut te dink oor hulle verhouding met masjiene.

Terwyl die kommersiële wêreld met die voor- en nadele van KI stoei, besin die hoëronderwyssektor indringend oor hoe KI onderrig, leer en assessering sal beïnvloed (en reeds beïnvloed). Die maklike toegang tot nuwe generatiewe KI-platforms, soos dié van OpenAI, veroorsaak onsekerheid by baie hoëronderwysopvoeders, en instellings se reaksie wissel van 'n algehele verbanning van die gebruik van instrumente soos ChatGPT tot hartlike verwelkoming van die tegnologie.    

“Ons konseptualiseer leer as 'n vennootskap tussen studente, opvoeders en – mits dit verantwoordelik gebruik word – nuwe tegnologieë soos KI. Dit is onteenseglik so dat KI-stelsels alomteenwoordig is en sal bly," sê dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur: Leer- en Onderrigverryking by die US. “Dit is ons verantwoordelikheid om proaktief te bepaal watter waardes ons gegradueerdes sal voorberei vir 'n toekoms waarin KI 'n kernrol in hulle beroepe, hulle lewenslange leer én hulle lewenservarings sal speel."

Terwyl instellings hulle reaksie op die ontwrigtende invloed van KI formuleer, moet hoëronderwyspraktisyns solank berus in die praktiese implikasies van 'n wêreld waar onderwys waarskynlik 'n samewerkende poging tussen mense en masjiene sal wees.

Prof Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, moedig hoëronderwysopvoeders en ander belangstellende rolspelers aan om hierdie belangrike onderwerp saam met die US te bedink en te bespreek. “Ons is opgewonde om proaktief tot die gesprek oor KI-gebruik in die hoër onderwys by te dra, en moedig julle aan om vir hierdie aktuele StellenboschX-aanbod in te skryf," sê hy.

Deelnemers sal na verwagting sowat vyf tot agt uur aan elke onderwerp moet wy om elke module binne drie weke te voltooi (hoewel die kursusse heelwat buigsaamheid vir voltooiing toelaat en deelnemers teen hulle eie tempo kan werk). Deelnemers kan heeltemal gratis toegang verkry tot alle inhoud óf kies om te betaal om 'n sertifikaat van voltooiing te ontvang. Die Universiteit Stellenbosch beoog om met die StellenboschX-portefeulje die toeganklikheid van sy akademiese aanbod uit te brei. Die instelling is trots daarop om hierdie relevante professionele sertifikaat vir 'n wêreldwye gehoor aan te bied.       

Klik hier vir die StellenboschX-kursusblad, wat 'n vollediger oorsig van die inhoud bied.