Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Reuse-avontuur’ wag op Matie op pad na Oxford met Rhodes-beurs in 2024
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
Gepubliseer: 26/09/2023

​Tessa Malan, 'n student aan die Universiteit Stellenbosch (US), het 'n gesogte Rhodes-beurs ontvang om volgende jaar by die Universiteit van Oxford te studeer.

Dié voormalige Rhenish-leerder, wat tans met haar honneursgraad in Rekenaarwetenskap besig is, beplan om in Oktober 2024 met 'n eenjarige MSc-graad in Sosiale Wetenskappe van die Internet by die gerekende universiteit te begin. Aangesien die beurs vir twee jaar se studie is, hoop Tessa om ook 'n MSc in Vergelykende Sosiale Beleid gedurende haar tyd in die asemrowende Britse universiteitstad te doen.

Die allesomvattende beurs van twee jaar word jaarliks aan 100 talentvolle gegradueerdes uit 30 streke regoor die wêreld toegeken. Tien hiervan word jaarliks aan studente van Suider-Afrika, wat Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Malawi, Namibië en Eswatini insluit, toegeken. Volgens die Rhodes Trust word die beurs as een van die “oudste en waarskynlik die voortreflikste wêreldwye genootskapprogram" beskou. Byna 1 000 gegradueerdes van Suider-Afrika het reeds by die program gebaat sedert dit vir die eerste keer in 1903 toeken is, en alumni sluit in die US se kanselier, oudregter Edwin Cameron, in.

“Die Rhodes-beurs is lank reeds een van die merkwaardigste geleenthede vir Suid-Afrikaanse studente om aan die Universiteit van Oxford te studeer. Dit is ook hoogs mededingend en die US-gemeenskap is geweldig trots daarop dat 'n Rhodes-beurs aan Malan toegeken is. Malan is 'n briljante student met 'n breë visie vir hoe haar beurs die samelewing kan bevoordeel en ons beste wense vergesel haar op hierdie groot avontuur," het prof Stan du Plessis, US se bedryfshoof en die Universiteit se ambassadeur vir die Rhodes Trust, gesê.

Die beurs is vir Malan 'n welkome oorgang na internasionale studie. "Ek wou nog altyd oorsee gaan studeer en verskillende wêrelddele ervaar. Ek mag dalk ná Oxford my studie in Nederland voortsit." Malan, wat in die Paarl en Stellenbosch grootgeword het, sê sy sien uit na die geleentheid om 'n nuwe plek te ervaar en saam met mense van regoor die wêreld te studeer. "Maar dit beteken ook ek kan twee jaar lank daarop fokus om by een van die wêreld se voorste kennissentrums meer te wete te kom oor die dinge waarin ek regtig belangstel en waaroor ek passievol is. Dit gaan 'n reuse-avontuur wees."

Tessa is vol vertroue dat die ondervinding haar in staat sal stel om uit te brei op die snydende vakgebiede van inligting- en kommunikasietegnologieë vir ontwikkeling (ICT4D) wat sy as deel van haar honneursnavorsing by die US ondersoek. Sy werk tans saam met die US se Kindertaalontwikkelingsnodus aan 'n loodsweergawe van 'n selfoonapplikasie wat sal help om data oor vroeë taalontwikkeling by jong kinders te versamel. "Ek dink om vanuit 'n sosiaal-wetenskaplike perspektief oor die internet te leer deur byvoorbeeld die ongelykhede wat die internet vergroot het, te bestudeer, sal my goed toerus." Tessa wil ook beleide ondersoek wat met die skepping van etiese kunsmatige intelligensie verband hou, en goed ontwerpte privaatheidsregulasies vir die gebruik van groot data bestudeer.

Terwyl die beurs erkenning gee aan akademiese uitnemendheid, vier dit ook eienskappe soos eerlikheid, moed en moraliteit. Wanneer sy gevra word om die eienskappe te identifiseer wat gehelp het om haar plek by Oxford te verseker, sê Tessa haar integriteit, nuuskierigheid en passie vir die werk wat sy beplan om te doen nadat sy haar studie voltooi het, het in haar guns getel.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het Malan met haar prestasie gelukgewens en gesê: “Die Rhodes-beurs is 'n uiters gesogte toekenning, en ons is geweldig trots op Malan se prestasies. Ons wens haar alle sterkte toe met die volgende fase van haar akademiese en lewensreis. Ons is seker hierdie jong Matie gaan 'n fantastiese ambassadeur vir ons instelling en die land wees."

Wanneer Tessa nie besig is om haar rekenaarwetenskapvaardighede op betekenisvolle projekte in die ICT4D-sfeer toepas nie, bring sy graag tyd op haar bergfiets of op staproetes deur. Oor haar planne ná Oxford sê Tessa: "Ek wil eendag my vaardighede in Suid-Afrika toepas, maar ek sal dalk eers aanhou studeer en my PhD iewers anders doen. Ek wil by soveel as moontlik verskillende mense en kontekste leer. Maar ek dink ek gaan die Suid-Afrikaanse weer die hele tyd mis."

Fotograaf: Stefan Els