Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Susana Clusella-Trullas ondersoek koudbloedige diere se reaksie op klimaatsverandering
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 26/09/2023

​Prof Susana Clusella-Trullas van die Departement Plant- en Dierkunde in die Fakulteit Natuurwetenskappe het haar intreerede op 19 September 2023 gelewer. Die titel van haar rede was “Moet ek bly of moet ek gaan? ʼn Ondersoek na reaksies van koudbloedige diere op klimaatsverandering".

Clusella-Trullas, ook Groepleier van die CL•I•M•E-laboratorium (Klimaat en Indringings: Meganismes in Ektotermiese Diere), het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gepraat oor hoe haar navorsing die reaksie van reptiele, amfibieë en insekte op klimaatsverandering ondersoek sodat die beoordeling van hul kwesbaarheid daarvoor verbeter kan word.

Vertel ons meer oor jou navorsing en hoekom jy in hierdie spesifieke veld begin belangstel het.

My navorsing ondersoek hoe ektotermiese diere soos reptiele, amfibieë en insekte klimaatsveranderinge hanteer, insluitend temperatuurveranderlikheid en relatiewe humiditeit. My navorsingsgroep fokus daarop om te meet hoe hierdie organismes in hul habitatte funksioneer. Ons kan byvoorbeeld meet en voorspel hoeveel energie hulle nodig het om basiese funksies te handhaaf, voort te plant en in ʼn veranderende omgewing te volhard. Ons kan ons begrip van hoe hierdie diere op temperatuurveranderlikheid reageer, gebruik om assesserings van hul kwesbaarheid vir klimaatsverandering te verbeter.

Ek was van kleins af lief vir die natuur en wilde diere. My gesin het baie gereis en ek het daarvan gedroom om ʼn veearts te word en diere reg oor die wêreld te red! Gedurende my grootwordjare het ek besef dat ek meer belangstel om te verstaan hoe diere in hul natuurlike omgewings funksioneer en met mekaar interreageer. Ek was ook baie passievol oor wiskunde en die ontleding van data. Die insameling van noukeurige data en die robuuste interpretasie daarvan is baie kragtige maniere om ons begrip te vergroot van hoe biologiese stelsels werk en hoe ons die toekomstige volhoubaarheid van wildpopulasies kan ondersteun. ʼn Loopbaan in die wetenskap het gelyk of dit beter by hierdie doelwitte pas en die impak van ons wetenskap was meer verreikend as wat ek ooit verwag het.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

My navorsing het projekte in ʼn wye verskeidenheid van stelsels en organismes gedek, insluitend mariene en landspesies, en ek het baie verskillende benaderings gebruik: van klein gevallestudies tot ontledings van patrone van dierereaksie op groot skaal. Die gemeenskaplike draad in hierdie navorsing was om die mees toereikende stelsel te bestudeer om beide fundamentele en toegepaste vrae van plaaslike en globale relevansie te beantwoord.

Sal vormbaarheid of evolusionêre aanpassing byvoorbeeld meer geneig wees om bevolkings te red wat kwesbaar vir klimaatsverwarming is? Hoe kan ons diere se sensitiwiteit vir temperatuurverandering beter definieer? Kan ons oor taksonomiese groepe of streke heen veralgemeen wanneer individuele reaksies op temperatuurveranderlikheid ondersoek word? En hoe werk verskillende dryfvere van verandering, soos klimaatsverandering en biologiese indringing, in wisselwerking met mekaar en beïnvloed dieregemeenskappe?

Deur hierdie vrae vanuit veelvuldige hoeke aan te pak streef ons daarna om ons vermoë te verbeter om spesies se sensitiwiteit en veerkragtigheid rakende globale verandering te voorspel. Ons navorsing het meetbare toepassings vir bestuurders en beleidmakers wat betref die verbetering van assesserings van spesies se kwesbaarheid vir klimaatsverandering.

Jy werk al lank in die uitdagende omgewing van hoër onderwys. Wat hou jou aan die gang wanneer dinge moeilik raak?

Dinge raak soms moeilik in die akademie, maar ek probeer dit altyd in perspektief plaas. Trouens, daar is soveel ander beroepe wat myns insiens moeiliker is, miskien op ander maniere. My strategie was nog altyd om op die positiewe te fokus en my lewe goed gebalanseerd te hou tussen gesinstyd, pret en werk. ʼn Loopbaan in die wetenskap vereis multitaakverrigting (navorsing, onderrig, administrasie, befondsing soek, ens.), goeie tydbestuursvaardighede en baie toewyding om tred met die nuutste navorsing en onderrigmetodes te hou.

Dit is ook ʼn baie mededingende sfeer en dit pas nie altyd by alle persoonlikhede nie. Maar dis ook ʼn baie lonende loopbaan. Ek voel trots op die studente wat deur my laboratorium gekom het en die kompleksiteit verbonde aan eksperimentele ontwerpe verwelkom en sleutelvaardighede bekom het wat hulle in staat gestel het om te groei, krities te dink en veerkragtigheid te bou vir uitdagings wat aan hulle gestel is. Dit het baie studente bemagtig en ek hoop dit sal so voortgaan, omdat ʼn toenemend uitdagende werksmark hulle in die gesig staar.

Waarvan hou jy die meeste van jou werk?

My gunsteling-aspek van akademiese werk is die vryheid wat ons het om navorsingsvrae aan te pak waarin ons belangstel, of wat ons as ʼn kollektiewe groep as prioriteite kan uitlig om ons veld te bevorder. Ek geniet ook regtig die geleenthede wat akademiese poste bied, soos om konferensies en werksessies by te woon en om met innoverende mense in my breër navorsingsveld te netwerk, wat dit moontlik maak om belangrike vrae met kundiges van reg oor die wêreld te bespreek. Noukeurige en weldeurdagte assesserings en riglyne is nodig om die beste strategieë te bedink om die dringendste kwessies te pak wat biodiversiteit en dus ook menslike welstand bedreig.

Ons het deur onderrig en navorsing die mag om ʼn verskil te maak wat betref die vorming van afgeronde toekomstige vakkundiges en om besluite in bewaring, beleid en bestuur te rig, wat na die beskerming van biodiversiteit en die instandhouding van globale menslike welstand kan deursyfer. Een groot prioriteit is dat ons instellings en regerings moet voortgaan om ons wetenskaplike inisiatiewe te ondersteun sodat hierdie doelwitte bereik kan word.

Wat is jou boodskap aan jong meisies wat dalk ʼn loopbaan in die wetenskap nastreef?

My boodskap aan jong meisies is om nie afgeskrik te word deur die waargenome uitdagings wat met wetenskap geassosieer word nie. Almal het verskillende vaardighede en die fokus moet daarop wees om jou talente strategies te gebruik terwyl die vaardighede wat aandag verg, stap-vir-stap verbeter. Wetenskap is pret en lonend en om tyd en moeite te belê om al hierdie vaardighede aan te leer, beteken nie outomaties dat jy ʼn akademiese loopbaantrajek moet volg nie. Baie van my nagraadse studente het werk in die private sektor nagejaag (soos by C4 EcoSolutions, BerryWorld, AltGen en Oro Agri SA) en ander het dit geniet om in die akademie te bly en het onderrig en navorsing nagestreef (by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut of SANBI, nagraadse- en nadoktorale studies).

ʼn Loopbaan in die wetenskap kan soms gedug vir vroue wees omdat lang tydperke gewy moet word aan studies of om tred met vooruitgang in die veld te hou. Dit beteken dikwels om kinders en ʼn gesin uit te stel of minder tyd vir hulle te hê. Maar tye verander en die meeste instellings en organisasies maak toenemend voorsiening vir kindersorg vir vrouewetenskaplikes. As dit nie die geval is nie, moet ons saamwerk om dit te laat gebeur!

Vertel vir ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sou verwag nie.

Kom ek vertel eerder ʼn staaltjie. Toe ek ʼn tiener was, is ek by ʼn lughawe se grensbeheer oor my nasionaliteit uitgevra omdat my aksent nie Spaans was nie, hoewel ek ʼn Spaanse paspoort gehad het. Ek moes verduidelik dat ek grootgeword het deur Frans (en Katalaans) met my gesin te praat en nie die formele Kastellaans geleer het nie. Dit was ʼn baie vroeë waarskuwing van hoe mense ander waarneem sonder om met die diversiteit van leefstyle en agtergronde rekening te hou en dikwels op ʼn stuk papier of beperkte inligting staatmaak om aannames te maak. Ek het dit probeer vermy en streef daarna om diversiteit in al sy vorme en kleure te verwelkom. Ek gee ook baie om vir die omgewing en ry meestal fiets werk toe. Ek hoop dié houding sal ten minste my kinders beïnvloed!

Hoe bring jy jou vrye tyd deur?

Ek is lief vir die buitelewe, om tyd saam met my gesin in die natuur deur te bring om weer kontak te maak en bestekopname van die goeie goed te doen. Om veldroetes te hardloop en rotsklim is my gunsteling-tydverdrywe en laat my toe om van die werk te vergeet en die batterye te herlaai.