Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiale Impak-simposium werp lig op transformasie aan die US
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 21/09/2023
’n Sosiale Impak-simposium wat heelwat stof tot nadenke gebied het, het onlangs ongeveer 80 deelnemers uit verskeie fakulteite en afdelings aan die Universiteit Stellenbosch (US) byeengebring. Die simposium, wat begin September by die Universiteitsmuseum gehou is, het ten doel gehad om gesprekke en insigte oor belangrike onderwerpe soos sosiale impak en gemeenskapsbetrokkenheid binne die konteks van hoëronderwystransformasie in Suid-Afrika aan te moedig.

Die geleentheid het afgeskop met ’n verwelkoming deur prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, wat waardevolle konteks vir ’n insiggewende dag van besprekings gebied het. 


Paneelbesprekings en insigte

In ’n paneelbespreking en volle sitting, vaardig gemodereer deur dr Jerome Slamat, het prominente sprekers hulle kundigheid en insigte gedeel. Drr Rhoda Malgas, Armand Bam en Leslie van Rooi het die komplekse onderskeid tussen sosiale impak en gemeenskapsbetrokkenheid aangepak en lig gewerp op die genuanseerde benaderings wat nodig is om betekenisvolle verandering teweeg te bring.

Proff Andre Keet en Aslam Fataar het in ’n sessie getiteld “Towards a Praxis of Transformation and Social Impact”, kritiese onderwerpe verder ontleed om diepgaande insig te bied oor die uitdagings en geleenthede op die gebied van sosiale impak.

Fataar, wat tans die US se Komitee vir die Institusionele Reaksie op die Kommissie se Aanbevelings (CIRCoRe) koördineer, het die rol van sosiale impak en transformasie uiteengesit en verduidelik hoe dit by mededingende weergawes van die Universiteit geïntegreer kan word. Gegewe die US se geskiedenis, het ons ’n morele verantwoordelikheid teenoor die armes, landelike gemeenskappe en ’n verskeidenheid individue in ons land, het Fataar aangevoer. 

Keet, wat die navorsingsleerstoel vir kritiese studies in hoëronderwystransformasie beklee en die Viserektor: Betrokkenheid en Transformasie aan die Nelson Mandela-Universiteit is, het die konsep van betrokkenheid as transformasie en transformasie as betrokkenheid by die konteks van universiteite ontleed. Hy het aangevoer dat ’n radikale heropvatting van betrokkenheid institusionele transformasie kan aandryf.  


Uiteenlopende parallelle sessies

Na ’n heerlike ete het parallelle sessies dieper gedelf in verskeie aspekte van sosiale impak. Hierdie sessies het die volgende ingesluit:

  • Deelnemende vakkundigheid: Ondersoek die rol van vakkundigheid om sosiale impak aan te help.

  • Deelnemende burgerskap: Fokus op die aktiewe betrokkenheid van burgers by die vorming van hul gemeenskappe.

  • Demokratiese korporatiewe burgerskap: Ondersoek die konsep van demokratiese korporatiewe burgerskap en die rol daarvan om die openbare belang te dien.

  • Visuele regstelling deur restitusie: Ou Lückhoff-Skool as gevallestudie: Ontleding van die transformerende potensiaal van restitusie en visuele voorstelling.

  • Sosiale impak-kennisplatform: Beklemtoning van ’n instaatstellende instrument vir sosiale impak-inisiatiewe.


Terugvoer van deelnemers

Deelnemers het positiewe terugvoer oor die simposium gegee en het die insigte en besprekings wat deur die dag aangebied is, waardeer. Hier is ’n paar opmerkings van deelnemers:


Dr Wilhelm Verwoerd, senior navorser en fasiliteerder, ​​Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ): 

“Ek het die gesprekke baie nuttig gevind, veral prof Keet se plasing van die uitdagings wat ons by die US ondervind, binne die breër, gespanne konteks van diep hoëronderwystransformasie in Suid-Afrika. Prof Fataar se nadenke oor die genuanseerde, komplekse proses van outentieke rasseherstel wat uit die CIRCoRe-proses voortspruit, was vir my nog ’n hoogtepunt.”


Rudy Oosterwyk, Afrika-sentrum vir Inklusiewe Sosiale Innovasie:

“Vanjaar se Sosiale Impak-simposium was een van daardie kritieke epogmakende oomblikke in ons transformasiereis. Die sessies het ’n noodsaaklike stroping van transformasie in die hoëronderwyssektor gebied, tesame met ’n nugter besinning oor die egtheid, doel en betekenis van gemeenskapsbetrokkenheid in die konteks van die US se visie. Ons is daaraan herinner dat baie mededingende ‘persoonlikhede’ en ampte binne die transformasie-argitektuur van die Universiteit funksioneer. Die paneellede het in hul insette en tot verskillende mates ’n soort transformasie-‘oproerwet’ opgestel en ons uitgedaag om verder as die institusionele grense van transformasie te dink en om eerder ’n breër opvatting van transformerende sosiale voordeel, strukturele transformasie en betekenisvolle insluiting vir diegene wat uitgesluit is.” 


Mhlengi Khambule, Departement Genetika:

“Die simposium was ’n suksesvolle en waardevolle geleentheid. Ek het nog nooit werklik nagedink oor die implikasie van die terme ‘gemeenskapsbetrokkenheid’ en ‘sosiale impak’ nie – ek het meestal daaraan gedink as sinonieme – maar die simposium het ’n noodsaaklike lig en perspektief hierop gewerp, veral wat die hoëronderwysruimte betref. Dit het my die geleentheid gegee om te besin oor die benaderings wat ons in ’n sosiale impak-inisiatief gebruik wat ons vanjaar loods. Ná die uitsonderlike sprekers en aanbiedings was dit interessant om van die ontwikkelings rondom ’n sosiale impak-kennisplatform te leer en ek sien uit daarna om saam met die talle ander sosiale impak-inisiatiewe die instrument te gebruik om saam te werk, te leer en ten toon te stel.”


Magdel Pretorius, Adjunkdirekteur: Studentewerwing:

“Die geleentheid het aan ons as deelnemers die geleentheid gebied om te besin oor ons eie begrip van sosiale impak en gemeenskapsbetrokkenheid, en watter rol ek op persoonlike en professionele vlak kan speel. Die dag is daaraan bestee om die toekoms van ons maatskaplike impak deur gemeenskapsbetrokkenheid en kritiese gesprekke te herbedink om toegang te gee tot alles wat die US bied.”


Jerome Joorst, dosent in die Departement Opvoedingsbeleidstudie in die Fakulteit Opvoedkunde:  

“Daar was goeie gesprekke met wonderlike bydraes van al die paneellede. Hulle het ook insette van verskeie belanghebbendes en gemeenskappe en spesifiek van CIRCoRe gehad. Proff Fataar en Keet het vir ons nie net ’n omvattende oorsig van die Universiteit se tekortkomings ten opsigte van sosiale impak gegee nie, maar ook ’n moontlike rigting wat sosiale impak kan inslaan en die rol wat dit in die transformasieproses van die Universiteit kan speel.”


Dr Nomvo Dwadwa-Henda, Postdoktorale genoot, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidwetenskappe: 

“Dit is nog ’n goeie voertuig om transformasie by die US te dryf, aangesien dit ons inlig oor wat die afdeling doen om die skip in die regte rigting te stuur. Deur verskillende vakkundiges uit te nooi om hulle standpunte te deel en vrae te vra oor kwessies wat nie duidelik is nie, dui daarop dit dat die afdeling wil verseker dat niemand uit die transformasieproses gelaat word nie. Ek glo egter vas dat die stem van die armes steeds in sosiale impak vir baie swart Suid-Afrikaners ontbreek. Gelyke geleenthede en toegang tot hulpbronne, insluitende onderwys, word steeds deur die voortgesette nalatenskap van apartheid belemmer wat positiewe aftakeling nodig het sonder om ander te suiwer.”