Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student ontvang Kambule Toekenning vir die beste doktorale proefskrif in berekeningswetenskappe
Outeur: Faculty of Science (media & communication)
Gepubliseer: 19/09/2023

​Die gesogte Thamsanqa W. Kambule Toekenning vir die beste doktorale proefskrif in die berekenings- en statistiese wetenskappe by 'n Afrika-universiteit, is toegeken aan Dr Arnu Pretorius van die Universiteit Stellenbosch.

Die toekenning is gedurende die Deep Learning Indaba bekend gemaak wat van 3 tot 9 September 2023 in Accra, Ghana plaasgevind het. Hierdie toekenning, ter ere van een van Suid-Afrika se voorste wiskundiges en onderwysers − Dr Thamsanqu W. Kambule – gee erkenning aan uitnemende navorsing en skryfwerk van doktorale kandidate by Afrika-universiteite op enige gebied van berekenings- en statistiese wetenskappe. Die Deep Learning Indaba is 'n organisasie wat in 2017 tot stand gekom het om masjienleer en kunsmatige intelligensie (KI) in Afrika te versterk.

Dr Pretorius se proefskrif getiteld: “On noise regularised neural networks: initiation, learning and inference", fokus op die wiskundige onderbou van hoe neurale netwerke optree wanneer “geraas" in die leerproses ingebring word. Sy studieleiers was Prof. Steve Kroon van die US se Afdeling Rekenaarwetenskap en Prof. Herman Kamper van die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese.

In sy aanvaardingstoespraak het Dr Pretorius sy studieleiers bedank vir hulle waardevolle diepgaande terugvoer oor sy proefskrif. Hy het ook erkenning gegee aan die invloed wat die eerste Deep Learning Indaba wat in 2017 by die Universiteit van die Witwatersrand aangebied is, op sy ingesteldheid gehad het toe hy met sy doktorale navorsing begin het.

“By die 2017 Deep Learning Indaba is ek verras deur die kwaliteit van die werk wat tydens die plakkaatsessie voorgedra is, asook deur die feit dat sommige van die navorsers se werk ook al by top-KI-geleenthede soos die Internasionale Konferensie oor Masjienleer (ook bekend as die ICML) voorgedra is. Op daardie tydstip het ek nie gedink dat soiets moontlik was nie," sê hy.

Die ICML word beskou as die voorste byeenkoms van professionele persone wat toegewy is aan die bevordering van masjienleer, een van die vertakkings van kunsmatige intelligensie.

In 2018 het Dr Pretorius die geleentheid gehad om sy werk by die ICML in Stockholm voor te dra, en is hy ondersteun deur 'n Google reis- en konferensietoelaag. Op daardie tydstip was daar slegs 'n handjievol navorsers uit Afrika teenwoordig.

In 2018 by die daaropvolgende Deep Learning Indaba by die Universiteit Stellenbosch, het Dr Pretorius sy werk tydens die plakkaatsessie voorgedra. Daar het hy met Karim Beguir, medestigter en hoof- uitvoerende beampte van InstaDeep kennis gemaak. Begui het 'n passie vir die onderrig en gebruik van toegepaste wiskunde om kunsmatige intelligensie te demokratiseer en toeganklik te maak vir 'n groter gehoor, en tree ook op as 'n mentor vir Google Startups. Gegrond op hierdie interaksie het Dr Pretorius die geleentheid gekry om by InstaDeep aan te sluit en in 2020 'n kantoor in Kaapstad, Suid-Afrika oopgemaak.

Dr Pretorius is ook 'n buitengewone senior lektor in die US se Afdeling Toegepaste Wiskunde waar hy betrokke is by die onderrig van die gestruktureerde MSc-program in Masjienleer en Kunsmatige Intelligensie. Hierdie een jaar lange gestruktureerde meestersgraadprogram van die US is ontwerp vir studente met 'n sterk wiskundige en berekeningsagtergrond.