Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kinderkankerbewustheidsmaand: Mense wat kinderkanker oorleef, het langtermynsorg nodig
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 18/09/2023

Die meeste mense wat kanker as kind oorleef, sal ten minste een gesondheidsprobleem of komplikasie (latere gevolge) maande of jare ná die vorige kanker of die behandeling daarvan ontwikkel. Aangesien dit 'n negatiewe uitwerking kan hê op hulle vermoë om 'n vervulde lewe te lei, het hulle langtermyn-opvolgsorg nodig nadat hulle hul behandeling voltooi het.

'n Nuwe studie by die Universiteit Stellenbosch (US) het hierdie bevinding gemaak.

“As 'n mens in ag neem dat 60–75% van alle kinders wat kanker oorleef, latere gevolge sal ondervind, benodig ons meer inligting oor langtermyn-opvolgsorg vir mense wat kanker as kind in Suid-Afrika oorleef, asook 'n gestruktureerde nasionale program om die vroeë identifisering van hierdie latere gevolge te verbeter en om onmiddellik te kan ingryp," sê dr Anel van Zyl, 'n pediatriese onkoloog in die Departement Pediatrie en Kindergesondheid aan die US. Pediatriese onkoloë diagnoseer en behandel kanker by kinders. 

Van Zyl, wat onlangs haar doktorsgraad in Pediatrie aan die US behaal het, voeg by dat sommige van die hindernisse in die langtermyn-opvolgsorg van kinders wat kanker in Suid-Afrika oorleef, sluit gesondheidsorgwerkers se gebrek aan formele opleiding in en kennis van hierdie soort sorg in, asook onvoldoende kommunikasie oor moontlike latere gevolge by mense wat kinderkanker oorleef.

Sy wou die belangrikheid van holistiese langtermyn-opvolgsorg ná behandeling beklemtoon en 'n nasionale program ontwikkel wat kan help om volhoubare en billike sorg vir almal wat oorleef, te bewerkstellig.

Van Zyl het 'n opname onder Suid-Afrikaanse pediatriese onkoloë en hematoloë (spesialiste wat bloed- en beenmurgsiektes diagnoseer en behandel) gedoen om hulle langtermyn-opvolgsorgpraktyke te dokumenteer. Sy het 'n lewensgehalte- en sielkundige angs-vraelys gebruik om die sielkundige komplikasies aan te teken van mense wat kanker as kind oorleef en aan haar navorsingstudie deelgeneem het. Mediese komplikasies is deur fisiese ondersoek geïdentifiseer en het spesiale ondersoeke bepaal. Sy het ook oorlewendes se patrone van gesondheidsorgdeelname bestudeer.

Hoë voorkoms

Van Zyl sê feitlik alle pediatriese onkoloë en hematoloë in Suid-Afrika beskou langtermyn-opvolgsorg en 'n nasionale program as belangrik. Slegs tweederdes het formele opleiding oor hierdie onderwerp ontvang en die helfte bespreek ten tye van die diagnose latere nagevolge met ouers en kinders.

“Slegs die helfte van die pediatriese onkoloë gebruik riglyne vir opvolgsorg, maar die meeste pas dit weens diensbeperkings aan. Die meeste kinders is by die pediatriese onkologiesentrums gevolg, terwyl ander deur middel van 'n gedeeldesorgmodel (sorg is tussen die kankersentrum en gesondheidsorgvennote by sekondêre of primêre gesondheidsorginrigtings of deur algemene praktisyns verdeel). Dit is die geskikste model in die plaaslike konteks.

“Baie mense in die studie wat as kinders kanker gehad het (91%) het meestal ligte of matige langtermyn- en latere gevolge ontwikkel wat baie met die kankerdiagnose, die intensiteit van die chemoterapie en die radioterapie verband hou. Sommige van hierdie gevolge het 'n groot invloed op die kankerpasiënte se lewens gehad en ingryping was nodig.

“Hierdie voorkoms van latere gevolge is nogal hoog en aangesien die oorlewendes nog redelik jonk is, verwag ons dit sal vererger namate hulle ouer word. Die feit dat hulle vroulik en ouer was, asook die aantal en erns van die latere gevolge, het 'n negatiewe uitwerking gehad op hulle vermoë om 'n vervulde lewe te lei. Deelnemers aan my navorsingstudie het hoër vlakke van sielkundige angs gehad as wat in die literatuur opgeteken is."

Van Zyl sê hierdie inligting sal help om hierdie mense wat oorleef het en 'n hoë risiko loop om angs te ontwikkel, beter te monitor en hulle vir 'n formele sielkundige evaluering te verwys wanneer daar tekens is. 

Werk saam

Sy voeg by dat dit belangrik is dat alle gesondheidsorgpraktisyns (verpleegkundiges, dokters en verwante gesondheidsorgpraktisyns) bewus sal wees van hierdie mense se aansienlike risiko vir latere gevolge en die soort gevolge wat mag voorkom.

“Pediaters wat besig is met hulle opleiding om pediatriese onkoloë of hematoloë te word, moet formele opleiding oor die latere gevolge van kinderkankers en die behandeling daarvan ontvang, asook hoe om holistiese langtermyn-opvolgsorg te bied. Dokters moet ook op opgelei word, aangesien hulle die opvolgsorg sal voortsit namate die persone ouer word."

Van Zyl sê die nasionale risikogebaseerde gedeeldesorgprogram wat sy ontwikkel het, is op die gedeeldesorgmodel gegrond waarvolgens oorlewendes onder die sorg van primêre en sekondêre gesondheidsorgpraktisyns of algemene praktisyns en pediaters geplaas word met die ondersteuning van die pediatriese onkologie-eenheid en aan die hand van 'n gedetailleerde oorlewingsorgplan.

“Kinders wat oorleef en 'n laer risiko vir latere gevolge het, sal minder opvolgbesoeke en ondersoeke benodig, terwyl diegene met 'n hoë risiko intensiewer opvolg en waarneming sal ontvang. Spesifieke langtermyn-opvolgsorg moet vroeë identifisering en ingryping fasiliteer wat hopelik 'n beter lewensgehalte en uitkomste aan persone wat oorleef, sal bied.

“Aangesien dit 'n uitdaging is om kinderkankeroorlewendes in 'n langtermyn-opvolgsorgprogram te behou, moet hierdie sorg ook so na as moontlik aan die pasiënt se tuiste verskaf word. Daarom is dit nodig dat gesondheidsorgpraktisyns by primêre en sekondêre gesondheidsorgfasiliteite en algemene praktisyns saam met pediatriese onkologie-eenhede werk om hierdie groep pasiënte te versorg."

Van Zyl beveel aan dat die nasionale risikogebaseerde gedeeldesorgprogram by die nasionale kankerplan en die voorgestele nasionale gesondheidversekeringsplan ingesluit word wat ten doel het om universele gesondheidsorg aan alle Suid-Afrikaners te bied.

Sy beklemtoon die behoefte aan finansiering vir só 'n program en opvoeding oor latere gevolge en die voordeel van langtermyn-opvolgsorg reeds van die begin af wanneer kanker die eerste keer gediagnoseer word.